Willie Burger kyk met opgewondenheid na Azille Coetzee se In my vel
Die eerste sinne wat ek oor Azille Coetzee se In my vel skryf, lyk vir my heeltemal té emosioneel, té opgewonde, té lofprysend. Ek vee hulle liewers uit. ’n Resensent kan immers geloofwaardigheid inboet deur ’n ongebreidelde lofsang oor ’n debuutwerk te sing. Ek sukkel egter om my resensie op ’n ander manier te begin, want mens lees nie elke dag hierdie soort boek raak nie.
Ek onthou dat ek ’n soortgelyke reaksie op Rian Malan se My Traitor’s Heart gehad het toe ek dit in 1990 gelees het. Malan se beskrywing van sy jeug in Suid-Afrika, sy vertrek na die VSA en uiteindelike besluit om na Suid-Afrika terug te keer, asook sy reis deur die bloedige geskiedenis van Suid-Afrika, het my destyds laat voel dat dit verpligte leesstof vir alle wit Suid-Afrikaners behoort te wees. Dit het my ’n groot deel van my eie geskiedenis laat verstaan. Dit het so baie van my gevoelens onder woorde gebring. Dit het my talle insigte in die land gegee wat deur my afgeskermde jeugjare van my weerhou is.
Azille Coetzee se boek sluit by hierdie soort “reisboek” aan. Dit is geen roman nie, geen poging om die persoonlike ervaring agter fiksie te versteek nie, maar ’n skreiend eerlike biografiese werk – die soort werk wat in ons tyd van “reality hunger”, soos David Shields dit genoem het, ’n veel groter impak as baie fiksiewerke maak.
Coetzee vertel ’n boeiende verhaal van haar verblyf in Nederland. Sy kry ’n beurs om ’n PhD in Amsterdam te doen. Haar navorsing gaan oor feminisme in die postkoloniale situasie. Sy en haar lover, C, trek saam Nederland toe en sy hoop heimlik om nie weer na Suid-Afrika terug te keer nie.
Elke hoofstuk het die vorm van ’n besonder goedgeskrewe essay. Telkens word ’n baie spesifieke, persoonlike ervaring beskryf, soos ’n misverstand met taal, ’n fietsrit in die reën, ’n museumbesoek, die dra van skoene binnenshuis of die manier waarop Nederlanders “kuier”. Met hierdie gebeurtenisse as uitgangspunt word abstrakte idees uiteindelik bedink. Die alledaagse gebeurternis word ’n sleutel tot nadenke, tot abstrakte refleksie oor aspekte soos identiteit, wat dit beteken om wit en Afrikaans en Suid- Afrikaans te wees, wat dit beteken om middelklas te wees, om vrou te wees.
Coetzee se prestasie is egter dat sy dit regkry om hierdie abstrakte nadenke so spontaan en boeiend in ’n groter reisverhaal en liefdesverhaal in te werk dat dit nooit soos filosofie voel nie.
Dit is haar fyn waarnemingsvermoë wat die werk so treffend maak. Die aandag aan detail wat veel meer is as die skep van ’n realistiese en oortuigende wêreld, veel meer as die raaksien van subtiele verskille tussen Nederland en Suid-Afrika, is haar sterkste wapen. Deur die klein dingetjies raak te sien en raak te beskryf, word die ooglopende en die vanselfsprekende beskouings, die aanvaarde idees, telkens skielik anders belig. Ons opvattings – of dit oor mense, oor Afrika of Europa, oor swart of wit, oor politieke stelsels, die ekonomie of oor die geskiedenis is – al hierdie opvattings word deur veralgemenings, deur strukture bepaal. Wanneer Coetzee op die besondere fokus, is dit nie meer moontlik om so gemaklik met die groot strukture om te gaan nie.
Ons idees oor die wêreld en die wêreldgeskiedenis, oor kolonisering en die gevolge daarvan, oor man of Afrikaner of Afrikaans of velkleur en politieke en ekonomiese strukture word fyn verwoord soos wat dit uit mense se optrede, uit ’n paar weggooisinne van mense wat sy ontmoet, afgelei kan word. En die fyn uitmekaarhaal daarvan word so gemaklik gedoen dat dit nie naastenby voel soos ’n filosoof se dekonstruering van groot idees nie, maar soos ’n boeiende liefdesverhaal.
Aanvanklik het ek die boek effe teësinnig opgetel, want ek het self ’n ruk in Nederland gewoon. Ek was bang vir al die cliché-ervarings en verskilletjies wat beskryf gaan word. Maar Coetzee het ’n veels te fyn waarnemingsvermoë om in clichés te verval. Gou het my weerstand oorgegaan in jaloesie – dat ek nie ook só aan al die dinge gedink het nie, dat al die verskille en ooreenkomste wat sy so raak beskryf, nie ook in my tot hierdie gewaarwordings kon lei nie. Maar weerstand en jaloesie moes ná ’n klompie bladsye plek maak vir bewondering dat so ’n jong mens so krities met haar eie wêreld, haar identiteit, kan omgaan; dat sy so eerlik met haar eie hart en familiegeskiedenis en Afrikanergeskiedenis kan omgaan, sonder om van enige ongemak weg te skram; om uit al die ervarings tot ruimer insig kan kom. En dit boonop so lekker meesleurend te vertel en raak te verwoord.
Uiteindelik bied Coetzee ’n manier waarop in hierdie land ook deur jongmense gedink en geleef kan word. Ek dink dit is ’n boek wat vir alle wit Afrikaanssprekendes voorgeskryf behoort te word, want selde is daar op so ’n helder manier, so eerlik, oor die identiteit van Afrikaners in ons land, juis op hierdie tydstip, nagedink. (Tafelberg)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.