Willie Burger kyk na Leonhard Praeg se debuutromon, Imitation
Mens kan byna nie glo dat Imitation Leonhard Praeg se debuutroman is nie. Daarvoor is die roman veels te weldeurdag en vlot geskryf. Hoewel dit sy eerste roman is, is Praeg nie ’n beginnerskrywer nie. Hy het al ’n hele paar boeke in sy studieveld, filosofie, geskryf.
Soms wanneer filosowe hulle aan die romankuns waag, lewer dit belangwekkende romans op – dink maar aan Camus se invloedryke roman, L’Etranger (The Outsider), maar soms dra sogenaamde “filosofiese romans” so swaar aan die idees daarin, dat g’n romanliefhebber hulle kan lees nie. Heel dikwels vervaag filosofiese romans tot allegoriese vertellings waarin die gebeurtenisse of karakters bloot dien om die een of ander filosofiese idee te demonstreer. Oor hierdie soort “filosofiese romans” het die skrywer Milan Kundera gesê dat hulle as romans mislukkings is.
Herhaaldelik skryf hy in sy opstelle dat die roman moet ontdek wat slegs deur die roman ontdek kan word; romans moenie geskiedenis wees nie, daarvoor het ons geskiedskrywing; romans moenie sielkunde wees nie, daarvoor het ons sielkunde; en romans moenie filosofie wees nie, daarvoor bestaan daar filosofie. Romans moet wel aspekte van ons menslike bestaan ontdek wat nie op ander maniere as deur romans ontdek kan word nie. Al sluit romans dikwels by sielkunde, filosofie en geskiedenis aan, moet die romans in die eerste plek die temas romanmatig ondersoek en kan nie bloot toepassings of verduidelikings van bestaande sielkundige kennis, filosofiese idees of historiese inligting wees nie.
Met sy Imitation slaag Praeg daarin om belangrike filosofiese vraagstukke van ons tyd te ondersoek, ook belangrike psigologiese vraagstukke en selfs ook politieke, historiese en estetiese vraagstukke word aangesny, maar nooit kry mens die indruk dat die roman geskryf is om hierdie idees te verduidelik of te demonstreer nie. Die roman self, die meesleurende verhaal wat vertel word, asook die manier waarop die verhaal vertel word, die vorm van die roman, word alles saam ’n ondersoek van menswees in ons tyd, van oorspronklikheid.
LEES OOK: Kies ‘n boek: The Courage to be Disliked
Die titel is ’n belangrike sleutel en tot ’n groot mate is Imitation ’n nabootsing van Milan Kundera se beroemde roman Immortality. Dit is ’n nabootsing ten opsigte van die vorm, die afdelings waarin die roman verdeel is, maar ook van die taalgebruik en die styl van Kundera. Kundera se manier om ’n verhaal te vertel en om dit dan te onderbreek deur in essayistiese styl oor die gebeurtenisse wat pas plaasgevind het, te bespiegel of om oor karakters se motiverings na te dink, of om selfs oor die manier waarop die fiksiewêreld deur woorde geskep word, na te dink, word uitstekend deur Praeg nagedoen.
Ook wat die verhaal betref, boots hy Kundera na. Die hoofkarakter in die eerste deel van Immortality, Agnes, is getroud met Paul. Paul het nie ’n baie groot rol in Kundera se roman nie, maar in Imitation word hy die sentrale karakter. Paul kry in hierdie roman ook ’n Suid-Afrikaanse verbintenis, aangesien sy pa ’n Suid-Afrikaner was. Die sentrale gebeurtenisse wentel egter om Paul se betrokkenheid as regsgeleerde by ’n Franse maatskappy wat die bouwerk aan die grootste Katolieke basiliek in die wêreld, in die Ivoorkus onderneem. Die president van die Ivoorkus, Félix Houphouët-Boigny, het opdrag gegee dat die basiliek (’n nabootsing van die St Pieterskerk in die Vatikaan) teen ’n ontsettende groot koste in die arm Afrikaland opgerig moet word. Hierdie monsteragtige nabootsing, dikwels veroordeel weens die koste daarvan in ’n arm land, asook weens die gebrek aan estetiese oorspronklikheid daarvan, bied ideale materiaal vir die ondersoek na die idee van nabootsing en die verband tussen nabootsing en mag.
Meer as die ondersoek van oorspronklikheid staan ook die idee van glanspersoonlikhede (celebrities) as nabootsers sentraal. Hierin sluit die roman ook aan by Kundera se idee van die gebaar, die nabootsing van gebare en die gebruik van gebare waardeur identiteit tot stand kom en status bevestig word. Die verband tussen nabootsings en mag word boeiend ondersoek – nabootsing van mense se gebare, maar ook van die groot gebare in die geskiedenis. Praeg se roman ondersoek uiteindelik ook die nabootsings van wêrelde wat in fiksie tot stand kom.
Fiksiewêrelde soos dié in Imitation word gedeeltelik van Kundera nageboots. Maar uiteindelik is alle fiksie eintlik nabootsings, wêrelde wat deur vertelling tot stand gebring word op grond van die wêreld wat ons ervaar. Selfs ons niefiksie is nie verteenwoordigend van ons ervaringswêreld nie, maar is afbeeldings daarvan. Ons het geen toegang tot oorspronklike wêrelde nie. Die manier waarop Praeg nadink oor hoe wêrelde in fiksie tot stand kom, strek uiteindelik verder na die manier waarop ons hoegenaamd ons eie wêreld waarin ons leef, verstaan en skep. En hoedat hierdie nabootsende skeppings uiteindelik ook ons handelings bepaal. Die toets van ’n filosofiese roman is of die storiewêreld die leser kan intrek en meesleur. Praeg kry dit reg. Dit is ’n boeiende en stimulerende roman.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.