Willie Burger kyk na ’n ou kinderboek wat heruitgegee is en ’n versameling van André P Brink se kortverhale wat jare gelede verskyn het
Ek was so opgewonde dat ek soos ’n kind wou huppel toe ek die nuwe besending boeke oopmaak! Die Huppelkind-omnibus is weer uitgegee! Hierdie ses klassieke Afrikaanse kinderverhale deur WO Kühne het oorspronklik tussen 1958 en 1960 as afsonderlike boekies verskyn: Huppelkind, Huppel maak ’n plan, Wip-Huppel-Wip, Vrolike Huppelkind, Huppel by die water en Huppel verjaar. Nou is almal saam in ’n omnibus-uitgawe beskikbaar.
Toe ek klein was, het my ouers ’n langspeelplaat gehad met voorlesings van hierdie stories. Ek het daardie plaat oor en oor geluister en kan vandag nog, ná ’n halfeeu, groot gedeeltes van hierdie verhale heeltemal uit my kop opsê. Veral die verhaal van Huppel wat deur die hele Lekkerland loop en oral probeer uitvind wat die spesiale woorde is wat die Stokou Storieman moet hoor voordat hy ’n storie kan vertel. Oral vra Huppel: “Wat is die woorde wat ek moet sê as ek ’n storie van die storieman wil hê.” Hy vra vir Maraboe en Boskraai, vir die versamelvoëls, die nuuskierige agies, die slaapkouse en die boekwurms, maar niemand kan hom help nie. (Ten einde die padwysers in Lekkerland te lees, moet mens eers rondomtalie draai en dan tussen jou bene deur na hulle kyk. Dan kan jy hulle maklik lees.) Uiteindelik trippel Huppel tot by Steek se huisie wat by die “suikerklontklippertjieskol” staan.
Saam hardloop hulle na die storieman se huis: “Wanneer die slim ou Stokou Storieman Huppel en Steek sien kom, sit hy ’n onthouklontjie in sy kies en hy suig en hy suig en hy suig. Die tweetjies gaan sit by sy voete in die gras, en Steek sê die woorde: ‘Orie gedorie Storieman, vertel ’n storie as jy kan?’” Ek vermoed my liefde vir stories het net daar onder die ou platespeler begin. Jare later het ek ook vir my kinders hierdie stories vertel, maar sonder die hulp van ’n onthouklontjie, vrees ek, het baie verlore gegaan. Juis daarom is ek so bly dat hierdie verhale nou heruitgegee is.
LEES OOK: Kies ‘n boek: kinderboeke
Liefde vir taal ontwikkel as dit soos musiek iets binne-in mens roer lank voordat jy die betekenis van die woorde kan agterhaal. Dit is wat Kühne se woorde doen. Huppel draf nie slegs vinnig weg op soek na maatjies nie: “Met ’n wip en ’n trap seil Huppel oor die polle – trippel-trippel deur die grassies, huppel-huppel oor die plassies.” Selfs al lyk die stukkies wat ek hier aanhaal asof dit uit rympies kom, kry mens nooit die gevoel van ’n deurwerkte poging om verhaaltjies in rym te vertel nie. Dan sou dit ’n bietjie te ver gevoer wees, te hard probeer, en dit sou gedwonge voel – dit bly gewoon stories wat vertel word, bloot met ’n besonder klankryke taal.
Benewens die klank wat met elke woord se betekenis en luim rym, is ook ’n ongebreidelde verbeeldingskrag ’n voorvereiste vir ’n goeie kinderverhaal. Kühne se verbeeldingswêreld is oorrompelend. Die Wolman bewaak byvoorbeeld die ingang na die diep donker gat waarin Diefman wegkruip. Huppel soek na Diefman wat by almal in Lekkerland gesteel het (onder meer die Boekwurms se boeke, die bye se soetmaakgoed en die storieman se onthouklontjie!). Wolman wil vir Huppel bang maak vir die donker gat en sing: “Die wêreld is ’n ronde bol, van binne is hy hol. En in die middel, vol gevare, lê die land van Wol en Hare”.
Die Stokou Storieman vertel van Haak wat sy klein boetie Steek boelie en dwing om “verdwynwyn” te maak sodat hy kan gaan steel. Vir my is hierdie omnibus ’n kleinood. Ek gaan sommer ’n hele paar koop voordat dit dalk weer uit druk raak en vir almal wat ek ken wat klein kinders het, present gee. Dit is ’n belegging in die verbeelding van ’n kind.
André P Brink is een van die bekendste Suid-Afrikaanse skrywers. Sy impak op die Afrikaanse letterkunde was enorm. Nie net het hy in die vroeë 1960’s met sy eie romans ’n groot bydrae tot die “vernuwing” van die Afrikaanse letterkunde gelewer nie, hy was ook telkens daarna verantwoordelik vir romans wat weer vernuwende gevolge vir die Afrikaanse letterkunde gehad het. Hy het teen sensuur geveg, apartheid gekritiseer, stiksienige literatuurkritiek in die Afrikaanse literêre wêreld afgewys en talle bydraes gemaak tot die akademiese bestudering van die letterkunde.
Voordat hy egter hierdie groot literêre bydraes gelewer het, het Brink ook tussen 1955 en 1959 populêre tydskrifverhale vir Die Huisgenoot en Die Brandwag geskryf. Vir Brink was dit nie soseer oefenlopies nie, maar verhale geskryf bloot om geld te maak. Die meesterverteller wat hy deurgaans gebly het, is kennelik hier al klaar aan die werk. Hy kan spanning skep, die tempo van die verhale is vinnig en die dialoog flink. Emosies – al is dit vir formuleverhale – word raak beskryf en die taalgebruik is nie vol clichés nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.