Willie Burger kyk na Kerneels Breytenbach se jongste roman, Hond se gedagte
Afrikaans het eintlik verbasend min sportromans. Mens sou verwag dat veral die “rugbyroman” ’n veel sterker genre sou wees in ’n samelewing wat as sportmal of rugbymal beskryf word.ID du Plessis se jeugromans, Die Springbok, Die silwer varing, Die rugbykroon en Rugby in Rio het reeds in die 1930’s verskyn, maar is nie regtig deur ’n groei in dié genre opgevolg nie. Ná die verskyning van Braam van der Vyver se Stywearm (1994), gevolg deur die Springbokke se oorwinning in 1995, het ek gedink ’n sterk stroom rugbyromans sou volg. Maar dit het nie gebeur nie.
Een van die beste pogings die afgelope klompie jare was waarskynlik die Varsity Beker-slot FJ Labuschagne se roman, Beseringstyd (2014). Ongelukkig het dié debuutroman, ondanks oortuigende rugbybeskrywings, baie mankemente. Hond se gedagte is Kerneels Breytenbach se jongste roman en rugby staan sentraal in dié lywige roman van byna 500 bladsye. Dit is egter nie ’n tipiese sportroman nie, al neem die Wêreldbekerstryd van 2025 die sentrale plek in die roman in. In tipiese sportromans word die lotgevalle van ’n individu of span gevolg wat talle teleurstellings en tekortkominge moet oorkom voordat sukses uiteindelik behaal word.
Hond se gedagte volg nie hierdie patroon nie – behalwe op ’n spottende manier. Nietemin is die beskrywing van veral die Wêreldbekereindstryd ’n naelbytaffêre waarin jy as die leser jouself moet bedwing om nie vooruit te loer nie. ’n Vryskutjoernalis, Fleur de Villiers, wat absoluut niks van rugby af weet nie, word gevra om ’n biografie oor die Springbokrugbykaptein, Katstert Nel, te skryf. Die sperdatum vir die voltooide manuskrip is byna onmoontlik om te haal, want die boek moet kort ná die Wêreldbekereindstryd verskyn. Sy voltooi die manuskrip, maar kry “hond se gedagte” dat inligting van haar weerhou word. Hoewel sy vrye toegang tot die hele Sprinkbokspan en hul afrigters kry en openhartige onderhoude met almal voer, bly ’n gevoel dat sy om die bos gelei word haar by. Hierdie agterdog en die geheim van die Sprinkbokspan se sukses, wie die eintlike afrigter is, wat die rol van Katstert Nel se hond is en uiteindelik die raaisel van wat met Nel en sy hond gebeur, sorg vir ’n boeiende misterieverhaal wat by Breytenbach se Piekniek by Hangklip aansluit.
Die rugbywêreld van 2025 is egter nie meer die rugbywêreld van ons tyd nie. Rugby is lankal nie meer ’n “wit” sport nie. Kwotas is lankal vergete. Maar nog belangriker, die uitvoerende hoof van Sarvu, Jaap Schvantz, en sy vrou, Krystal, is ook aan die hoof van “Corpus Christi”, ’n groot Christelike “kerk”. Hulle het rugby en godsdiens saamgevoeg en ’n magtige sakeryk daarmee opgebou. Op Saterdae vul hulle die rugbystadions met rugbyliefhebbers, en op Sondae keer almal terug vir massa-eredienste in dieselfde stadions, met rugbyspelers wat getuig, terwyl lofliedere ook tydens rugbywedstryde gesing word. Hulle het Springbokrugby uit ’n vervalle soort “Eskom-situasie” gered en terwyl almal in die land op korrupte politiek gefokus het, hul sakeryk opgebou deur godsdiens en sport te kombineer (terwyl dele van die sakeryk ook vingers in dwelmsindikate het).
Corpus Christi se werksaamhede herinner aan Bosasa se manier om sakegeleentheide met betalings aan sleutelpersone toeganklik en vervolging onmoontlik te maak. Só word die vergesogte en verbeeldingryke ingehaal deur ons land se werklikheid en mens begin wonder of dit so vergesog is! Die kombinering van rugby en godsdiens (rugby as godsdiens of godsdiens as rugby) in hierdie roman, bied ’n gulde geleentheid om twee van die sentrale kulturele merkers van Afrikaners te ondersoek. Die heerlike, ligte, spottende toon oor sowel rugby as godsdiens, twee verhewe, heilige gegewes in die Afrikaanse wêreld, bied ’n opwindende gevoel van heiligskennis. Natuurlik bied enigiets wat binne ’n kultuur baie ernstig opgeneem word, ideale stof vir satire. Breytenbach buit dit uit, terwyl hy dikwels ’n slim spel met die gebruik en die ondermyning van stereotipes speel.
Die rugbyspelers wat aan sekere stereotipiese vereistes voldoen, maar ook juis nie, is soms verrassend en Fleur se worsteling met rugby as sport en pogings om te verstaan, is eweneens op die grens van stereotipe en die ondermyning daarvan. Die satire strek egter verder as slegs godsdiens en rugby (en rugby as godsdiens): ook kos en joernalistiek, politiek en korrupsie word betrek. Breytenbach betrek ook sy eie oeuvre deur middel van prettige verwysings – so ver terug as Glimlag – die karaktername wat byvoorbeeld weer opduik, nou in ander situasies en hoedanighede. Ook die verwysing na John Miles se roman Blaaskans waarin ’n rugbyspeler, Flip Nel, die hoofkarakter was, en na JM Coetzee se beroemde besinning oor Currybekerrugby tydens die isolasiejare sorg vir ’n prettige netwerk van verwysings.
Breytenbach munt uit in satire. Aan die een kant sorg die spot en skreeusnaakse beskrywings, die vergelykings en beskrywings uit die wêrelde van kos, sport, musiek, godsdiens, teologie en populêre kultuur vir skreeusnaakse leesvermaak. Maar hoe vergesog en vreemd die verwysings ook raak, sny die satire ook tot op die been van ons huidige Suid-Afrikaanse samelewing (die Afrikanersamelewing), en konfronteer die leser wat bereid is om ’n bietjie te wonder, met talle vooroordele en aannames. (Human & Rousseau)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.