Willie Burger kyk na twee boeke wat met die ouderdom te doen het
Ouderdom is tans ’n veelbesproke saak. Die gemiddelde lewensverwagting van mense het gedurende die 20ste eeu geweldig gestyg en daar is kundiges wat optimisties is dat mense al hoe langer sal lewe (en enkeles, soos die gerontoloog Aubrey de Grey, glo selfs dat die dood uitgeskakel kan word!). Onlangs het die Wêreldgesondheidsorganisasie besluit dat ’n mens nog tot op die ouderdom van 65 as “jonk” geklassifiseer word.
Met ’n al hoe ouer wordende bevolking, is dit seker ook te verwagte dat al hoe meer boeke oor oudword en ouderdom sal verskyn. In Afrikaans het twee bekende skrywers se boeke oor oudword verlede jaar verskyn: Karel Schoeman se Slot van die dag en Elsa Joubert se Spertyd. Al twee hierdie boeke is ernstige beskrywings van die aftakeling van oudword – beskrywings van hoedat ’n mens se lewe al meer ingeperk word en besinnings oor die al minder wordende dinge wat wel sin aan ’n mens se bestaan gee. Ernstige boeke en in die geval van Schoeman, humorloos. In skrille kontras hiermee staan die “geheime” dagboek van Hendrik Groen.
Hendrik Groen is die skuilnaam van Peter de Smet, ’n Nederlandse skrywer wie se boek Pogingen iets van het leven te maken: Het geheime dagboek van Hendrik Groen, 83¼ jaar in 2014 verskyn en dadelik ’n blitsverkoper geword het. In 2016 is dié boek met die Publieksprijs voor het Nederlandse boek bekroon. Ook internasionaal is hierdie “dagboek” reeds in meer as 25 tale vertaal en word as ’n No 1 International Bestseller beskryf. In Suid-Afrika is die boek as The Secret Diary of Hendrik Groen, 83¼ Years Old beskikbaar. (Min Afrikaanse lesers lees nog Nederlands en dit is moeilik om Nederlandse boeke hier te koop.) Dit is sekerlik een van die snaaksste boeke wat ek in ’n lang tyd gelees het.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Isabella & Wintersrust
Die boek het lank op my rak bly staan. Aanvanklik was ek nie lus om oor die manewales van oumense in ’n ouetehuis te lees nie. Dit het vir my met die eerste oogopslag te veel gelyk na ’n soort Trompie- of Uile-boek waar die “bende” net ouer geword het en in plaas van die skoolkoshuis, hulle in ’n ouetehuis bevind: vol clichés. Ná die humorlose Schoeman en die byna geforseerde poging van Joubert om iets positiefs in oudword te vind, het ek tóg maar Hendrik Groen se perspektief op ouderdom aangedurf. Ek het lanklaas so lekker gelag. Dit is egter nie sommer ’n oppervlakkige gelag vir goedkoop grappies en spottery met oumense nie; hoegenaamd nie – daarvoor is daar te veel deernis, te veel begrip van die aftakeling.
Op 1 Januarie van sy 83ste jaar besluit Hendrik Groen, ’n inwoner van ’n ouetehuis in Amsterdam, om te begin dagboek hou. Sy hele lewe lank het hy altyd die korrekte, hoflike en fatsoenlike dinge gedoen omdat hy nie die moed gehad het om te sê of doen wat hy regtig wou nie. Dan besluit hy om dit voortaan in sy dagboek te doen. Hendrik stig ook ’n rebelleklub, Oud maar nie dood nie. Die doel van die klub is om genot in ’n gevorderde leeftyd te probeer bevorder deur uitstappies te reël. Dit is veral Hendrik se waarnemings van al die situasies en die mense om hom wat so snaaks is. Ook sy uitgerekte stryd teen die direksie van die ouetehuis is skreeusnaaks, maar dit word nooit laf nie.
LEES OOK: Kies ‘n boek: The Courage to be Disliked
Die realiteit van die rebelleklub word daarvoor te realisties en met te veel deernis weergegee: Hendrik self kry soms glipsies met druppels in sy broek; sy vriend Evert voer ’n aftakelende stryd teen diabetes en verloor eers sy tone, later sy voet en nog later sy been; Grietjie vrees dat alzheimersiekte haar gaan laat vergeet wat geld is en daarom spandeer sy haar geld terwyl sy nog kan. Boonop is Hendrik verlief op Eefje, die vrou oor wie hy se hele lewe lank gedroom het. Hy skaf duur naskeermiddel aan en kam die paar haartjies wat oorgebly het ten einde haar te beïndruk, maar sy kry ’n beroerte. Hy bring dae langs haar bed deur om vir haar voor te lees en haar gunstelingmusiek te speel, totdat sy stil sterf. Die humoristiese oorheers wel, maar die snaakse is ook vol deernis en teerheid.
Rudie van Rensburg, die skepper van Kassie Kasselman, ’n polisieman wat in ’n reeks misdaadromans (Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana, Kamikaze) teen misdaad veg, het ook sy hand aan ’n roman oor oudword gewaag. Hans steek die Rubicon oor is ’n soort Suid- Afrikaanse weergawe van die Hendrik Groen-dagboeke. Dit is vermaaklik, met talle snaakse momente, maar in vergelyking met Hendrik Groen ry die roman op talle clichés wat maar ’n bietjie soos slapstick aandoen, terwyl die teerheid en deernis nie so oortuigend is nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.