Willie Burger kyk na ’n brieweboek saamgestel deur Heilna du Plooy oor prof Elize Botha se korrespondensie met meer as 40 mense oor 50 jaar heen
Dit is ’n cliché om te sê dat prof Elize Botha ’n “formidabele mens” was en dat sy ’n baie groot invloed op die Afrikaanse literêre wêreld gehad het. Sy het as jong akademikus haar doktorsgraad onder Van Wyk Louw voltooi en het bygedra tot die ontwikkeling van die Afrikaanse literatuurkritiek in die 1950’s en 1960’s, weg van die impressionistiese kritiek van die vorige dekades en die fokus op “die mens agter die boek” na ’n teksgerigte ondersoek van tekste.
Sy het as baanbreker bygedra tot die vestiging van die “New Criticism” en die sogenaamde “stiplees” van tekste op “wetenskaplike grond” – spesifiek die “stilistiek” – en in die 1960’s het sy ook die werk van Sestigers soos Etienne Leroux verdedig teen morele kritiek dat dit volksvreemd is. Sy het haar hele loopbaan in die akademie deurgebring, eers by UP en later by Unisa. Sy was baie jare lank ook die redakteur van die Tydskrif vir letterkunde. Voor haar dood in 2007 was sy ook die kanselier van die Universiteit Stellenbosch.
In Gespreksgenoot. ’n Brieweboek, saamgestel deur Heilna du Plooy, word ’n keur uit Botha se korrespondensie met meer as 40 mense oor 50 jaar heen byeengebring; ’n totaal van 650 bladsye. Talle van die briewe is met van die ouer Afrikaanse skrywers – van die generasie ouer as Botha self, soos Van Wyk Louw, Audrey Blignault, DJ Opperman en WA de Klerk, terwyl sy ook met haar tydgenote briewe gewissel het (veral Hennie Aucamp en Lina Spies) en dan is daar ook briewe van die generasies jonger as sy: André Letoit (Koos Kombuis), Jeanne Goosen, MC Botha en SJ Naude.
Du Plooy het die boek uit Botha se omvangryke argief saamgestel en sy het ook briewe by van die korrespondente gekry. Die boek bied eerstens ’n besonder nuttige bron van inligting oor die verskeie groot verskuiwings en tendense binne die Afrikaanse literêre wêreld van die afgelope 50 jaar. Tweedens bied die boek ook ’n interessante blik op Botha self – hoewel die briewe selde inligting oor haar persoonlike lewe bevat, bied dit nietemin ’n oorsig oor ’n lewe wat deur die rym in beslag geneem is. Botha en haar gespreksgenote skryf voortdurend aan mekaar oor boeke, oor wat hulle lees, hulle haal daaruit aan, skryf gedigte vir mekaar oor. Sodoende kry ’n mens ’n belangrike insig in wat Afrikaanse skrywers en literatore oor die jare gelees het.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Karel Schoeman: Slot van die dag
Sentraal in die boek is Botha se korrespondensie met Audrey Blignault en Hennie Aucamp. Eersgenoemde se briewe beslaan omtrent 100 bladsye terwyl die korrespondensie met Aucamp 150 bladsye beslaan. Dit is opvallend hoedat hulle mekaar in spesifieke situasies bemoedig deur uit literêre tekste aan te haal. Blignault is veral lief om na Tolstoi, Dostojefski en DH Lawrence te verwys. Aucamp verwys na talle skrywers uit die wêreldliteratuur (en keer telkens terug na Colette). Veral TS Eliot is ’n vaste verwysingspunt vir Botha self. Herhaaldelik tree Botha op as kampvegter vir die ouer Afrikaanse skrywers. Sy noem in ’n brief aan ’n Brasiliaanse regter dat Jochem van Bruggen een van die belangrikste skrywers is. Sy skryf vir PG du Plessis dat Louw se begrip “gemoedelik-lokaal- realisme” te maklik daartoe gelei het dat ouer skrywers geminag word.
Gedurende die 1980’s besef sy ook dat die klein Afrikaanse literêre wêreld dikwels werke te hoog aanslaan en skryf aan Aucamp dat die redding vir Afrikaanse literatuurstudie dalk in vergelykende literatuurstudie lê en bely dan (ten spyte van haar belesenheid) ook dat sy self nie genoeg werke uit ander letterkundes lees nie. Hoewel Botha ’n belangrike rol in die oorgang van impressionistiese kritiek na teksgesentreerde benaderings gespeel het, het sy nie werklik in die 1970’s en 1980’s met die groot teoretiese verskuiwings tred gehou nie. Sy erken dit ook in ’n brief aan Paul Celliers, waarin sy haar stilistiese vertrekpunte opnuut uiteensit.
Teksgesentreerde kritiek kan maklik as “diensbaarheid” aan die destydse Afrikaner-nasionalisme gesien word, soos wat Gerrit Olivier ook tot haar misnoeë aangedui het. Maar Botha het nie net by suiwer teksgerigte kritiek gehou nie. ’n Mens kry ook die indruk hoe belangrik die affektiewe vir haar was – die impak wat literêre tekste op ’n mens se lewe kan maak. In enkele briewe aan Ton Vosloo en haar swaer Pik Botha pleit sy ook vir politieke hervorming en groter inklusiwiteit. Sommige van die briewe is meesterstukke (die briewe van Jeanne Goosen is skreeusnaakse juwele!), maar dit bevat ook uitstekende skryfwerk deur Botha self – Hennie Aucamp het haar briewe gebind en aan haar teruggestuur en gemeen dat dit essays is wat gepubliseer sou kon word. Natuurlik bevat sulke briewe ook skinderstukkies – persoonlike en selfs kwetsende opmerkings wat skrywers en literatore oor ander maak. Hierdie dele sal mettertyd hul waarde verloor, maar as geheel is Gespreksgenoot ’n waardevolle bron oor die Afrikaanse literatuurgeskiedenis.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.