Willie Burger kyk na die roman Flights wat hierdie jaar die Man Booker International-prys gewen het
Is 21ste-eeuse mense so ’n bietjie soos plastieksakke? Hulle “vervuil” immers elke uithoek van die planeet, is skadelik vir die omgewing en is leeg! Dit is een van die vrae wat in Olga Tokarczuk se roman Flights ondersoek word. Flights was vanjaar die wenner van die Man Booker International-prys. Die roman is oorspronklik in 2007 in Pools geskryf, maar die Engelse vertaling deur Jennifer Croft het eers hierdie jaar verskyn.
Flights gaan oor reis en die voortdurende staat van beweging waarin baie mense in die 21ste eeu hulself bevind. Die idee van beweging, van verandering as gevolg van beweging en die gevare van stagnering en stilstand, laat die leser plek-plek dink aan Breyten Breytenbach se werk waarin beweging ook ’n sentrale motief is. Die verteller in Flights beskryf haar ervarings van reis, waarnemings in lughawens, op vliegtuie, op skepe, in treine: die plekke waardeur gereis word, ontvang dikwels weinig aandag, maar die ervarings in dié plekke, die reisgenote en besinnings oor die reiservaring, staan sentraal.
Sy merk byvoorbeeld die volgende vroeg in die roman op: I realized that – in spite of all the risks involved – a thing in motion will always be better than a thing at rest; that change will always be a nobler thing than permanence; that which is static will degenerate and decay, turn to ash, while that which is in motion is able to last for all eternity. Hierdie soort nadenke en reisbeskrywings maak egter net ’n klein deeltjie van die roman se 400 bladsye uit. Die grootste deel van die roman word in beslag geneem deur vertellings oor mense wat reise onderneem het. Soms is hierdie mense toeriste (’n Poolse gesin wat tydens ’n vakansie ’n eiland in Kroasië besoek waar die vrou en haar kind wegraak en eers ná drie dae gevind word), akademici (soos die professor wat lesings oor die Griekse geskiedenis aan toeriste op ’n boot gee) en emigrante (’n vrou wat ná jare terugkeer na haar land van herkoms om ’n vriend voor sy dood by te staan).
Verskeie van die verhale gaan egter oor pogings om die menslike liggaam te leer ken, om die anatomie as vak te beoefen, en om die menslike liggaam te preserveer. Hierdie pogings om te preserveer, sluit die vroegste pogings tot lykbalseming in, tot die jongste tegnologie waardeur menslike liggame geleidelik na plastiek omgeskakel word (soos enkele jare gelede ook in ’n reisende uitstalling in Suid-Afrika te sien was). Een van die pioniers van pogings om die menslike liggaam presies te ondersoek, elke bloedvat en weefsel en sening te beskryf, was Philip Verheyen. Hy het ’n beroemde anatomis geword danksy die navorsing wat hy op sy eie geamputeerde been gedoen het. Aangespoor deur die fantoom-pyne wat hy in die been ervaar het, het hy probeer om die presiese senustelsel op te teken en te beskryf.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Die wêreld van Charlie Oeng
Die verhaal van die komponis Chopin, wie se liggaam in Parys begrawe is, maar wie se hart (onder sy suster se rok) na Warskou gesmokkel is, word ook vertel, sowel as talle ander histories gegronde verhale oor mense wat probeer het om die menslike liggaam te preserveer – hetsy vir wetenskaplike doeleindes of bloot om vir vermaak “opgestopte mense” saam met opgestopte diere of natuurfratse aan te hou. Al hierdie vertellings oor verskillende “reise” – oor die wêreld heen, maar ook intern, in die menslike liggaam in – neem die leser ook op ’n reis. Aanvanklik is die leser nie seker hoe al die uiteenlopende verhale by mekaar aansluit nie, maar elkeen word afsonderlik só boeiend aangebied dat jy nuuskierig aanhou lees om uit te vind wat later in elk van die verhale gebeur.
Spanning word geskep deurdat die verskillende verhale mekaar onderbreek en die ontknopings van elke verhaal uitgestel word. Die verteller vra haarself in ’n stadium ook af wat sy eintlik daardeur probeer bereik deur al die verskillende verhale te vertel: Am I doing the right thing by telling stories? Wouldn’t it be better to fasten the mind with a clip, tighten the reins and express myself not by means of stories and histories, but with the simplicity of a lecture, where in sentence after sentence a single thought gets clarified, and then others are tacked onto it in the succeeding paragraphs? Die roman word sodoende ook ’n besinning oor die rol van romans as maniere waarop menslike ervaring beskryf word, nie deur die sekerheid van volledige wetenskaplike beskrywing nie, want dit laat altyd iets van die ervaring van menswees uit, maar deur die onsekerheid en vrees en dryfvere van individuele mense te beskryf.
Naby die einde van die roman word die beeld van plastieksakke wat die hele wêreld besoedel, ingespan om iets oor die mens as reisiger in die 21ste eeu te beskryf. Plastieksakke is leeg, hulle is net oppervlak, slegs “buitekante” en hulle kom oral voor, hulle versprei vinnig en “oorleef” sodoende oral op die planeet. Hulle vergaan ook nie, want hulle neem eeue om af te breek. Plastiek-gepreserveerde mense, “opgestopte” mense, en volledige anatomiese beskrywings bly soos die leë sakke net oppervlak. Dit is egter ’n manier waarop bestaan toenemend ervaar word en vertellings en nadenke oor ons bestaan is noodsaaklik om inhoud aan menslike bestaan te gee.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.