Willie Burger kyk na een van die groot romans van 2017
Op die tweede bladsy van Richard Flanagan se jongste roman, First Person, maak die verteller, ’n skrywer, die volgende opmerking oor sy uitgewer: It was whispered around the publishing house that Gene Paley was frightened of literature. And not without good reason. For one thing, it doesn’t sell. For another, it can fairly be said that it asks questions that it can’t answer. It astonishes people with themselves, which, on balance, is rarely a good thing. It reminds them that the business of life is failure, and that the failure to know this, is true ignorance. Maybe there is transcendence in all this, or wisdom in some of it, but Gene Paley didn’t see himself in the transcendence game. Gene Paley was all for books telling you one or two things over and over again. But preferably only one.
Eintlik is daar sommer heelwat wysheid in hierdie paragraaf. Dit is immers waar dat literêre boeke nie so goed soos sommige ander boeke verkoop nie. Dink maar aan die rekordverkope van Jacques Pauw se boek oor president Zuma (The President’s Keepers) teenoor die literêre romans deur Etienne van Heerden of SJ Naudé wat almal verlede jaar verskyn het. Die tweede stelling is egter net so waar: Literêre tekste vra dikwels vrae waarop hulle self nie antwoorde kan bied nie. Die beste literêre werke stal iets van menswees vir die lesers uit aspekte van die menslike bestaan waaroor ons nog nie behoorlik nagedink het nie, word bevraagteken, word die onderwerp van ondersoek, sonder dat maklike antwoorde aangebied word.
Die vreemdheid van ons denke en optrede en ons onvermoë om hierdie optrede en denke presies te verklaar, verstom die leser. In die proses – sonder om eenvoudige, spesifieke antwoorde te kry, sonder om met een of twee dinge (verkieslik een!) as “waarheid” bepreek te word – bied die lees van ’n literêre teks ’n ervaring van die lewe se kompleksiteit. Baie lesers verkies, soos die uitgewer Gene Paley, om net een of twee “lessies” te leer, en daarom is die verkoopsyfers van boeke wat antwoorde bied (verkieslik op sensasionele manier, gepaard met skandes en onthullings) so gewild.
LEES OOK: Kies ‘n boek: The Courage to be Disliked
In die afgelope tyd het veral boeke waarin van fiksie wegbeweeg word, veral allerlei mengvorme van biografie of geskiedenis met fiksie, baie gewild geword. First Person is ’n roman waarin onder meer vrae oor hierdie soort “realiteitsgenres” gevra word. Flanagan bied ook nie een of twee maklike antwoorde op die vrae nie, maar kompliseer die vraagstuk van mense se behoefte aan onthullings oor ander mense se lewens, aan onthullings van hul eie lewens aan ander. Die roman fokus veral op die ingewikkelde verhouding tussen fiksie en feite – hoedat enige weergawe van ’n lewe altyd maar deur die verbeelding en vertelkonvensies bepaal word en veral hoedat dit eintlik onmoontlik is om ’n ander persoon ooit werklik te kan ken en verstaan.
Die Australiese skrywer Richard Flanagan het in 2014 die Bookerprys met The Narrow Road to the Deep North gewen. Dit was vir my ’n verbluffende roman wat steeds by my spook en daarom het ek na First Person uitgesien. Die hoofkarakter in First Person is ’n aspirantskrywer wat die geleentheid kry om as spookskrywer die lewensverhaal van een van Australië se groot swendelaars (Ziggy Heidl) te vertel. Hy moet saam met die swendelaar werk en het slegs enkele weke tyd voordat Heidl tronk toe moet gaan. Die probleem is dat Heidl weier om enige inligting oor homself aan te bied. Wanneer die spookskrywer uit moedeloosheid biografiese gegewens uit Heidl se vae suggesties optower, gryp Heidl dit aan en vertel dit ook as die waarheid aan joernaliste.
Jare later word die spookskrywer ’n wêreldberoemde vervaardiger van realiteits- TV-programme, maar hy bly leef in die ban van Heidl se invloed en die effek wat die skryf van daardie onsuksesvolle biografie op hom gehad het. Soos in The Narrow Road to the Deep North, slaag Flanagan voortdurend daarin om die leser met nuwe wendings te verras. Hy is ’n meesterverteller wat die mees onkenbare dele van die menslike bestaan verken, soos die oorsprong van boosheid, die moontlikhede van kennis oor onsself en oor ander, die maniere waarop ons ons wêreld aan onsself verduidelik en hoedat elke verduideliking en beskrywing reeds deur so baie faktore beïnvloed is.
Die roman vra vrae oor selfkennis en kennis van ander, oor vriendskap en oor vyandskap, oor vreemdelingskap. Dit is nie waar dat fiksie wyshede uit een of ander bedekte bron, waartoe slegs skrywers toegang het, aan ons gewone lesers onthul nie. Daardie idee bestaan wel by sommige lesers wat letterkunde byna soos heilige geskrifte interpreteer op soek na brokkies wysheid oor hoe om te lewe. First person demonstreer hoedat dit nie die geval is nie. Maar dit doen ook meer: Dit bied ’n leeservaring waaruit ’n mens op ’n bepaalde manier die wêreld belig sien wat ons alledaagse ervarings daarvan oorskry, en daarin vind die leser wysheid – nie as vaspenbare aanhalings vir die dag nie, maar as brokkies perspektiewe op jou eie bestaan.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.