Willie Burger kyk na Elsa Joubert se Spertyd
Kort ná haar 70ste verjaardag in 1985 skryf die digter Elisabeth Eybers in ’n brief aan Elize Botha die volgende: “Jou gelukwense met my sewentigste verjaardag steek hartverwarmend af by dié van Karel Schoeman wat uit één onheilspellende sinnetjie bestaan: ‘Moed en sterkte met die lang vernedering van die ouderdom.’” Schoeman het self verlede jaar sy lewe op die ouderdom van 77 beëindig ten einde aan die “lang vernedering van die ouderdom” te ontkom. Hy het breedvoerig hieroor in Slot van die dag, sy boek oor oudword wat postuum verskyn het, geskryf (’n resensie daarvan het in Vrouekeur van 28 Augustus 2017 verskyn: https:// www.vrouekeur.co.za/nuus-vermaak/karelschoeman).
Teenoor hierdie “onheilspellende” beskouing van die ouderdom as vernedering, staan Elsa Joubert se jongste boek, Spertyd. Sy het Spertyd in 2017, die jaar waarin sy 95 geword het, voltooi. ’n Mens kan byna nie vermy om Slot van die dag en Spertyd, twee outobiografiese beskouings van die oudwordproses deur twee belangrike Afrikaanse skrywers wat in een jaar verskyn, met mekaar te vergelyk nie. Een van die vernaamste verskille tussen Schoeman, wat sy eie lewe geneem het om die verlies en vernedering van die ouderdom te ontwyk, en Joubert, wat op 95, baie bewus van haar eie broosheid en van die vernedering en verlies wat met oudword gepaardgaan, moedig aanhou om te lewe en te skrywe, is dat Joubert kinders en kleinkinders het.
Soos Schoeman, skryf Joubert sonder skroom oor die verlies wat hoë ouderdom meebring: verlies van ’n mens se lewensmaat, verlies van ou vriende wat rondom jou siek word en sterf, terwyl ’n mens nie kans sien vir die belegging in nuwe vriendskappe nie omdat die vriendskappe te broos is – nuwe vriende word deur siektes of die dood oorval. Sonder om sentimenteel te raak, sonder om selfbejammerend te wees, beskryf Joubert in Spertyd hoedat ’n ouerwordende mens se wêreld al meer ingeperk raak, dat ’n mens “met vermindering op elke terrein” leef. Maar dan vra sy haarself af wat die “seën van ’n geseënde hoë ouderdom”, soos die gemeenplaas lui, dan sou wees. En sy antwoord: “Wat hier met helder ligte uitstaan, is jou kinders. Die band wat sterker, inniger word met jou kinders en kleinkinders.” Ook: “Kinders staan by jou as jy siek is en help jou as jy moed ingepraat moet word. Kinders is altyd aan jou kant. Kinders vorm saam ’n skild om jou. Daarom voel jy nooit angstig by hulle nie, want hulle beskerm jou.”
LEES OOK: Kies ‘n boek: Die laaste wals
Joubert is ’n veelbekroonde en bekende skrywer. Haar debuutroman, Ons wag op die kaptein (1963), het dadelik aan haar ’n sentrale plek in die Afrikaanse letterkunde besorg, maar veral Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) het haar statuur as skrywer binne en buite Suid-Afrika gevestig. Die roman is in 13 tale vertaal en telkemale bekroon. Vir my staan haar roman Die reise van Isobelle (1994) egter as ’n hoogtepunt in haar oeuvre uit. Benewens die fiksie, het sy ook talle reisverslae geskryf – oor reise deur Afrika, Indonesië en Europa. Haar outobiografie, in twee lywige boeke, ’n Wonderlike geweld en Reisiger, neem sy bestek op van haar merkwaardige lewe as iemand wat met ’n vurige passie vir Afrikaans en die Afrikanervolk grootgemaak is, maar wat deur die illusies van Afrikaner-nasionalisme ontgogel is en wat haar toenemend daarteen verset het.
Reeds in Ons wag op die kaptein het sy moeilike vrae gevra oor wat dit beteken om van Europese afkoms in Afrika te wees. Dit is ’n moeilike vraag wat sy eintlik deurgaans in haar werk op verskeie maniere weer benader het. Ook in Spertyd skryf sy daaroor. Sy bely in Spertyd dat sy eintlik nie kan ophou skryf nie – en sy verduidelik waarom dit so belangrik vir haar is: “Dit voel my ek het weer my ou kwaal, ek moet alles agternaloop met woorde, anders weet ek nie regtig wat gebeur het nie. Ek sien niks nie, dinge gaan soos rimpelinge in die water verby en ek mis die betekenis van die hele kaboedel. Ek moet hulle inhaal. Die inhaal is my anker. Ek het ook nou baie tyd en plek: Waarmee sou ek my anders besig hou? Ek soek weer my rekenaar op.”
Om te skryf, is ’n manier om ervarings weer te bedink, om betekenis aan alles te kan gee. Joubert het haar lewe lank geskryf om haar bestaan in hierdie land te begryp. Sy doen dit steeds in Spertyd. Haar “agternaloop met woorde” bied vir haarself insigte en gee sin aan haar al meer ingeperkte bestaan. Sy beskryf die inkrimping op nugtere manier sonder om haar aan ’n verlammende nostalgie of moedeloosheid oor te gee. Sy probeer steeds nuwe sin gee, nuwe dinge leer – al is dit hoe om sinvol met haar afgetakelde liggaam om te gaan. En omdat sy steeds wil leer en oop is vir nuwe maniere van verstaan, is Spertyd nie so pedanties en negatief as Schoeman se Slot van die dag nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.