Willie Burger kyk na drie verskillende romans
Twee boeke met eenwoordtitels, maar die woorde “Wrok” en “Bos” roep veel emosies en assosiasies op.Mens sou nie vermoed dat Wrok Beyers de Vos se debuutroman is nie. Dit is besonder vlot geskryf en ’n deurdagte misdaadroman. Eintlik is dit ’n bietjie misleidend om die woord misdaadroman te gebruik, want hoewel die roman al die elemente van ’n spannende misdaadroman bevat, verskaf De Vos se roman ook ’n paar verrassende wendings met die formule. Juis daarom is dit die moeite werd om Wrok te lees. Die ruimte waarin ’n verhaal plaasvind, is meestal meer as sommer net ’n toevallige agtergrond.
In Wrok word die Pretoria waarin die moordsaak op Benjamin Rust ondersoek word, veel meer as ruimte, dit word byna soos ’n karakter in die roman. Die leser word in die bekende sowel as minder bekende kante van die stad meegesleur. Geweld staan sentraal in misdaadfiksie. Nie in alle misdaadfiksie word daar ook oor geweld nagedink nie. Meestal word ’n misdaad en die straf as regstelling van die misdaad met soveel bloed en skok as moontlik uitgebeeld om die leser, gestimuleer deur die sensasie, te laat aanlees. Dié vertelling het ’n haastige tempo en die wraak wat Freya beplan ná haar broer vermoor is, word ’n verterende vuur. Soos die speurder Nolwazi dink wanneer sy ’n vermoorde se dogter sien: “Sophie. Gebroke, oorweldig, geskok. Maar woedend. Niks fout met woede nie; woede verdoof die pyn. Woede kan logies en metodies wees. Bevrydend. Jy kan dit gebruik, tot nut maak. Maar sy het ook die haat gesien (…) en haat sal jou vernietig.” (Penguin)
Helene de Kock se jongste roman, Die kind uit die wingerd, is van ’n heel ander aard as die spanningsromans. In Die kind uit die wingerd staan ’n soeke na identiteit sentraal. Laurens Erasmus het as driejarige kind by die Erasmusse beland, maar niemand weet waar hy vandaan gekom het nie. Al het hy ’n gelukkige lewe by die Erasmusse en selfs al vind hy liefde by die bure se dogter, bly die onsekerheid aan hom knaag oor wie hy eintlik is. Laurens reis uiteindelik na Nederland om na sy regte moeder te soek en ontdek dat hy ook ’n suster het. Maar dit gebeur tydens die Tweede Wêreldoorlog en hy raak uiteindelik by die geheime Britse projek by Blechley Park betrokke, waar vyandelike kommunikasie onderskep en ontsyfer word.
Dit is ’n konvensionele liefdesroman. Voor Laurens nie die raaisel van sy eie identiteit kan oplos nie, kan hy nie volkome aan sy liefde vir Carijn oorgee nie. En dan kom die oorlog tussenin en verhinder hulle om by mekaar uit te kom. Die kind uit die wingerd is ’n lekkerleesliefdesroman. Helene de Kock is uitmuntend met die vertel van hierdie soort verhale. Sy vervleg ook ’n stukkie boeiende geskiedenis oor die hoogs geheime Britse oorlogsprojek met die verhaal, maar die effek van geheimhouding, die impak van die verskrikking en geweld van die oorlog word nie regtig ondersoek nie. Dit staan alles op die agtergrond, in diens van die eintlike liefdesverhaal. Baie lesers sal die karakters se innerlike wroeging en worstelings met die weë van die liefde geniet, maar vir ander sal dit tóg so ’n bietjie outyds aandoen, met plaaswerkers wat naamloos op die agtergrond beweeg, bloedlose beskrywings van Londen in ’n bloedige tyd en maklike oplossings vir al die karakters se probleme. (Human & Rousseau)
’n Spanningsriller boei slegs as die beskrywings van wapens en gevegte en moeilike situasies oortuigend is. In te veel sogenaamde spanningsromans word die situasies en die gevegte sonder genoeg fyn besonderhede wat oortuig van kennis van sulke situasies en wapens weergegee en dan voel dit soms asof mens ’n goedkoop kinderboek lees. Jaco Wolmarans het die vermoë om presies die regte hoeveelheid fyn detail te gee sodat elke situasie oortuig. Die stilte in die bos voor die skote val, die manier waarop daar met ’n AK47 tussen geboue geloop word, met die kolf buite die skouer sodat dit nader aan jou bors gehou kan word … dit is die soort besonderhede wat uiteindelik veroorsaak dat die leser meegesleur word, meeleef, en verder lees.
Baie ander skrywers skryf ook verhale vol misterie. Hulle kan ook teruggaan na die Bosoorlog en ook verhale oor voormalige operateurs vertel wat nou in moeilike omstandighede na antwoorde moet soek. Maar min kry dit met soveel oortuiging reg. Bos is meesleurend en boeiend omdat die karakters interessante mense is, gekwelde mense met gewonde psiges, op soek na liefde en aanvaarding, mense verbind deur kameraadskap. Dit is ook meesleurend omdat daar geheime bly wat tot aan die einde ontrafel moet word. Maar uiteindelik is Bos veral boeiend en bly die tonele mens by lank ná jy klaar gelees het, weens die realistiese vertelling wat jou selfs deur die onrealistiese gebeurtenisse en situasies vasgenael hou. (Tafelberg)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.