Willie Burger kyk na Die vrou van die klippesee en Lessons from the Frogs I’ve Kissed
Weskusdorpies en stories oor vissers was vir ’n groot deel van die 20ste eeu ’n gewilde agtergrond vir populêre fiksie. Meestal is die bestaan op hierdie dorpies geromantiseer en het die gekrys van seemeeue die agtergrond van ’n liefdesverhaal gevorm. Skooloperettes en radiovervolgverhale het dikwels teen ’n romantiese Weskusagtergrond afgespeel.
Meg Vandermerwe se tweede roman, Die vrou van die klippesee, speel ook in ’n Weskusdorpie af. Maar van ’n romantisering van ’n eenvoudige vissersbestaan is daar nie sprake nie. Die lewe is hard. Tik, drankmisbruik, ekologiese kwessies en armoede kry baie aandag. Die taalgebruik is veel realistieser as in ou romantiese Weskusverhale. Hendrik is ’n 45-jarige kreefsmous wat veel ouer lyk weens sy intieme verhouding met goedkoop wyn. Hy het kwaai begin drink nadat sy veel jonger vrou, Rebekkah, sommer net verdwyn het. Kort nadat hy in ’n oomblik van totale wanhoop, buite weste gedrink, met klippe in sy sakke die see inloop, gebeur daar egter iets wat sy lewe verander. Hy ontdek ’n beseerde “meermin” wat tussen die rotse uitgespoel het.
Hendrik neem die meermin na sy huis toe en versorg haar in sy bad. Sy verseg om iets anders as kreef te eet, maar gelukkig vind hy in dié tyd skielik veel meer kreef. Hy is te bang om enigiemand van haar te vertel, omdat hy vrees dat sy dalk net in sy verbeelding bestaan – dalk ’n gevolg van al die drank wat sy brein benewel het. Die “meermin” het die bolyf van ’n beeldskone jong swart vrou en die onderlyf van ’n vis en Hendrik onthou stories oor “watermense” wat sy vrou uit die Karoo saamgebring het. Hy hoor ook Xhosaverhale oor ’n “mamlambo”. Uiteindelik besluit Hendrik om haar terug te neem na die Oos-Kaap – waar hy vermoed sy vandaan kom nadat hy in die koerant lees oor ’n riviermonding in die Transkei wat deur ’n (onwettige) bouprojek vir die president vernietig is.
Op hierdie manier word ekologiese en politieke kwessies betrek. Maar ook Hendrik se verhouding met sy eie ouers, en veral sy broer wat in die 1980’s deel van die stryd teen apartheid was, maak deel uit van die spoke van die verlede waarmee Hendrik tot ’n vergelyk probeer kom. Wat aanvanklik soos ’n groot liefdesteleurstelling lyk, word dus veel komplekser. Magiese realisme het veral gedurende die 1990’s nogal ’n sterk oplewing in Suid- Afrikaanse fiksie beleef. Dit was ’n tyd van hoopvolle verwagtings dat die “nuwe Suid- Afrika” nuwe moontlikhede inhou. In plaas van die noodsaak om te rapporteer oor die onreg van apartheid wat talle skrywers gedurende die 1970’s en 1980’s ervaar het, kon hulle ná 1994 die verbeelding meer vlug gee en ander moontlikhede bedink.
Die opbloei van magiese realisme ná 1994 – veral as manier waarop die koloniale en apartheidsverlede met ’n hoopvolle toekomsvisie versoen is – was kortstondig. Gedurende die afgelope 20 jaar lyk dit asof moedeloosheid oor die land se huidige situasie eerder tot verskeie vorms van distopiese romans as tot magiese realisme aanleiding gegee het. Meg Vandermerwe wend magiese realisme in hierdie roman doeltreffend aan om te ondersoek hoedat ’n individu se lewe bepaal word deur die maniere waarop daarna gekyk word. Dit is ’n verhaal van liefde, verraad, verrassende ontboesemings, misverstande en hartseer wat lesers boei, terwyl die magiese element ’n bietjie ekstra betowering bied.
Meer as blote sprokiesagtige betowering, wek die magiese egter ook die gevoel dat die verhaal op ’n manier allegories gelees moet word – dat daar ’n “dieper” betekenis in Hendrik se ervarings moet wees. Die vrou van die klippesee laat Hendrik se persoonlike stryd met verlore liefde en skuldgevoelens oor ’n traumatiese verlede wyer resoneer sodat dit nadenke oor die land se huidige situasie moontlik maak. Umuzi het Vandermerwe se roman gelyktydig in Engels en Afrikaans uitgegee. Die Afrikaanse weergawe is ’n uitstekende vertaling deur Kirby van der Merwe. Die oorspronklike Engels is deurspek van Afrikaanse woorde wat ’n outentieke Weskusgevoel aan die roman gee, en Kirby van der Merwe se Afrikaans lees soos ’n oorspronklike werk. (Umuzi)
Krystal Kolnik, ’n eiendomsagent, beskryf in Lessons from the Frogs I’ve Kissed die vyf verhoudings wat sy as volwassene gehad het. Sy verduidelik hoedat sy meegesleur is in die verhoudings sonder om altyd mooi daaroor na te dink, en hoedat sy betrokke geraak het sonder om haarself of die mans by wie sy betrokke geraak het, te verstaan. Sy deel die soort besonderhede waaroor mens soms voel dat sy die leser dit maar kon gespaar het, maar juis daardeur skep die boek ’n gevoel van eerlikheid.
Sonder om terug te deins, beskryf en analiseer sy elke verhouding, haar eie foute en blindheid en geleidelike groei tot meer insig in verhoudings. Baie lesers sal met die “lesse” wat sy oor verhoudings geleer het, kan identifiseer. Mens kan jouself in talle van die pynlike situasies wat sy met baie humor beskryf, herken, en regtig iets daaruit leer (selfs al kan Kolnik se selfversekerde en pedantiese toon mens plek-plek hinder). (Staging Post)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.