Willie Burger kyk na Die nuwe Afrikaanse prosaboek wat bykans 150 kortverhale bevat
Die nuwe Afrikaanse prosaboek is ’n versameling van byna 150 kortverhale deur 58 skrywers. Dit beslaan ’n allemintige 688 bladsye, maar gelukkig is dit kortverhale. Jy kan sommer die boek op jou bedkassie laat lê en elke aand ’n paar verhale lees. Jy sal ou bekende verhale weer raaklees, en waarskynlik nou ánders lees, terwyl baie nuwe stemme jou ook sal verras.
In die “standaard” versameling van Afrikaanse kortverhale, Die Afrikaanse kortverhaalboek (wat in 1978 verskyn het en al sewe hersiende en uitgebreide uitgawes beleef het) meld die samesteller, Abraham H de Vries, dat daar ruimte bestaan vir ’n samestelling van langer kortverhale, waarvoor daar nie plek in sy kortverhaalboek is nie. In hierdie “nuwe” Afrikaanse prosaboek, is daar wel ruimte vir langer verhale, sommer twee elk deur Marlene van Niekerk en SJ Naudé. Daar is ook verhale van skaars ’n kwart bladsy lank. Maar dit is nie die enigste verskil tussen die bekende Afrikaanse kortverhaalboek en Die nuwe Afrikaanse prosaboek nie.
Die manier waarop die verhale uitgesoek en gerangskik is, verskil hemelsbreed van De Vries se chronologiese werkswyse. Die kortverhaal is ’n genre wat met die opkoms van tydskrifte gedurende die eerste deel van die 19de eeu begin bloei het. Dikwels het kortverhale aanvanklik in tydskrifte verskyn, voordat hulle later gebundel is. Sommige kortverhaalbundels vorm ’n soort eenheid en dan is dit soms moeilik om een verhaal daaruit te haal en op sy eie te lees (byvoorbeeld Alexander Strachan se verhale in ’n Wêreld sonder grense wat saam byna eerder ’n novelle in kort episodes is). ’n Enkel verhaal in ’n tydskrif kry dikwels talle ander betekenisse by wanneer ’n skrywer dit saam met ander verhale bundel. Wanneer kortverhale egter weer uit skrywers se kortverhaalbundels gehaal en in samestellings soos hierdie opgeneem word, veroorsaak die nuwe omgewing dat mens opnuut anders na hulle kyk. Skielik sien mens ooreenkomste en verskille tussen verhale waarvan mens andersins nie bewus sou wees nie.
De Vries was bewus daarvan by die samestelling van Die Afrikaanse kortverhaalboek en skryf in die voorwoord: “Maar meer as ’n eeu se Afrikaanse kortverhale weef ook ’n eie net waarin verhale, soms uit verskillende tydvakke en om vele verskillende redes, by mekaar aansluit, mekaar aanvul, in gesprek tree met mekaar.” Die nuwe Afrikaanse prosaboek gebruik juis hierdie idee as uitgangspunt. Die samestellers, Sonja Loots en Steward van Wyk, is baie bewus van die manier waarop ’n saamgroepering van verhale die manier waarop mens hulle lees, beïnvloed. Die verhale is in nege afdelings gegroepeer. Elke afdeling word deur een van Jan Rabie se kortverhale ingelui. Die ander verhale in elke afdeling sluit dan op die een of ander manier by daardie spesifieke Rabieverhaal aan: “Die doelwit was om verskillende stemme toe te laat om te oorvleuel, mekaar dood te praat, mekaar te bevraagteken, mekaar te koggel of mekaar te ondersteun. Ons wou veral ook die keuse verteenwoordigend maak van verskeidenheid, met spesifieke aandag aan genoeg ruimte vir die voorheen gemarginaliseerde posisie van vroue, diere, gaywees, orale tradisies en omgangsvariante van Afrikaans.”
Die samestellers beskou Jan Rabie se kortverhaalbundel uit 1956, 21, as een van die invloedrykste kortverhaalbundels in Afrikaans. Die nege verhale hieruit wat as uitgangspunte vir die afdelings dien, word nie gevolg deur verhale wat netjies chronologies of alfabeties daarby aansluit nie. Dit is ook nie altyd voor die hand liggend waarom sekere verhale onder ’n bepaalde afdeling byeengebring is nie. Maar so wou die samestellers dit ook hê. Hulle skryf immers: “Die rangskikking in dié bloemlesing is ’n tentatiewe, verskuiwende kaart en sommige padtekens sal duideliker wees as ander. Daar is sypaadjies, doodloopstrate, voetpaadjies en dwaalroetes. Lesers word uitgenooi om hul eie weg tussen verhale te vind.” Hierdie uitnodiging aan die leser om ’n eie weg tussen die verhale te vind, bied opwindende en stimulerende moontlikhede. Ons is dikwels afgestomp in die manier waarop ons verhale lees – byvoorbeeld binne ’n chronologiese, historiese verloop van opeenvolgende kunsstromings (Realisme, Modernisme, Postmodernisme) of om verhale in historiese periodes saam te groepeer, (die “ouer” Afrikaanse prosa – neerhalend en afwysend soms “gemoedeliklokaal- realisties” genoem; die vernuwing van die sestigs; betrokkenheid van die 1970’s; oorlog en geweld van die 1980’s …).
Volgens dergelike benaderings word verhale dikwels tot voorbeelde van ’n bepaalde tydperk of kenmerkend van ’n sekere kunsstroming gereduseer. Die nuwe Afrikaanse prosaboek ondermyn sulke geykte benaderings. Die samestelling verras ook wat verhaalkeuses betref. Van sommige groot name in die kortverhaalkuns (Koos Prinsloo, Hennie Aucamp, Abraham de Vries) word betreklik min verhale opgeneem. Van Petra Muller is daar meer verhale as van hierdie drie saam opgeneem. Maar die samestellers maak dit duidelik dat hulle nie verteenwoordigend wil wees nie. Sommige nuwe stemme lê klem op ’n wye verskeidenheid van ervarings en op variasies van Afrikaans. Een van die beperkings wat Rabie as uitgangspunt bied, is dat ouer verhale nie opgeneem is nie. Daar is byvoorbeeld geen verhale uit die ander invloedryke dun bundeltjie Eugene Marais se Dwaalstories nie. Dis ’n lekkerleesboek vol verrassings, maar dit bied ook opwindende moontlikhede vir studente van kort prosa en daag geykte literatuurbeskouings uit. (Human & Rousseau)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.