Willie Burger kyk na die Nederlandse skrywer Ilja Leonard Pfeijffer se roman Die mooiste meisie van Genua
Soms kan ’n roman ’n stad só goed vasvang dat dit by mens die begeerte wek om die stad te besoek of dwing om anders na ’n bekende stad te kyk. Dink maar aan Harry Kalmer of Ivan Vladislavic se romans oor Johannesburg of Orhan Pamuk s’n oor Istanbul.
Die Nederlandse skrywer Ilja Leonard Pfeijffer se roman Die mooiste meisie van Genua vang dié Italiaanse stad op onvergeetlike wyse vas. Talle mense stroom na Genua in die hoop om daar geluk te vind. Genua is, as hawestad in die suide van Europa, ’n plek waar baie vlugtelinge uit Afrika met die hoop op ’n beter lewe beland, maar die karakters in dié roman sluit mense op alle vlakke van die samelewing in: ’n ryk man wat op avontuurlike manier sy fortuin kom uitleef en ’n legende in die stad word; ’n hardwerkende, mooi meisie wat diep ongelukkig is; ’n ouer dame wat teen die ouderdom veg deur voortdurend met jong mans uit te gaan; ’n pa wat sy seun beskerm, ’n Marokkaanse ingenieur wat slegs werk as blommeverkoper kan vind en nie teenoor die familie in Marokko kan erken dat dat dit swaar gaan nie omdat almal daar verwagtings van rykdom en sukses uit Europa koester; prostitute uit Senegal in stegies; ’n skrywer wat sy indrukke van die stad neerpen om dit met ’n vriend te deel.
Al dié karakters koester verwagtings oor die stad. Hulle het ideale en fantasieë oor die wêreld en hul eie plek daarin wat uiteindelik teen die realiteit stuit. Elkeen skep ’n beeld van die wêreld uit hul ervarings met behulp van die verbeelding. Hierdie beeld moet voortdurend aangepas word, of ’n front moet voorgehou word om die beeld teen die lastige realiteit te beskerm. Soos die Afrikaanse titel suggereer, gaan Die mooiste meisie van Genua nie slegs oor die stad nie, maar ook oor ’n meisie. Dit is onder meer ’n roerende liefdesverhaal. Die titel van die oorspronklike Nederlandse roman is La Superba (Italiaans vir “die hoogmoedige”). Genua word soms só genoem omdat dit beskou word as ’n hoogmoedige stad wat mense afwys. Dit is ook ’n roman oor die rol van die verbeelding in ’n mens se lewe.
Voortdurend word daar in die roman ontken dat dit ’n roman is. Dit word aangebied as die aantekeninge wat ’n karakter met die naam Ilja of Leonardo oor sy eerste indrukke en sy belewenisse in die stad maak. Hy herinner homself dat hy, wanneer hy uiteindelik die aantekeninge tot ’n roman gaan verwerk, aan sekere aspekte aandag sal moet gee. Hy skryf byvoorbeeld dat hy die clichébeelde van Nederlanders oor Italië in gedagte sal moet hou en dat hy die werklikheid van die stad ook moet weergee terwyl hy sy eie fantasieë daaroor moet blootlê. Hy spel selfs die tema uit wat hy in die roman voorop wil stel – die manier waarop fantasieë mense se lewens bepaal. Mense wil almal deel van ’n verhaal wees. Enersyds vind elkeen sin deur opgeneem te wees in ’n verhaal en andersyds skep dit ’n goeie indruk by ander indien ’n mens in ’n verhaal opgeneem is.
Die probleem is dat verhale gemáák woord. Soos ’n skrywer wat ’n roman versin, versin ons elkeen ons eie verhale, ons eie wêrelde, ons dink ons in wat ander mense (oor ons) dink, soos skrywers hul karakters se gedagtes uitdink. Die roman is vol selfspot van die skrywer (wat in Genua woon). Dit is ook snaaks. Die skrywer tel byvoorbeeld die been van ’n mooi meisie in die donker op sonder om te weet wat dit is. Wanneer hy in afsku daarvan ontslae wil raak, lei dit tot skreeusnaakse en vreemde situasies. Pfeijffer is ’n gewilde skrywer in Nederland. La Superba is in 2014 met die Librisprys bekroon. Intussen het sy roman Grand Hotel Europa baie opspraak verwek en is as een van die belangrikste romans van die eeu tot dusver aangewys. In Europese lande word baie vertaal.
Dikwels verskyn Engelse romans sommer gelyktydig ook in Duits, Pools, Nederlands, Italiaans, Sweeds en Frans. Ook andersom. In elk van hierdie lande is daar ’n groot leserskorps wat gretig boeke uit ander tale in hul eie taal lees. Die vertaalde werk word as’t ware binne die eie literatuur opgeneem. In ’n veeltalige situasie soos in Suid-Afrika, waar die meeste lesers Engels goed magtig is, verkies Afrikaanse lesers om boeke uit ander tale in Engels te lees. Die boeke word nie ervaar as deel van ’n eie literêre tradisie nie en het nie dieselfde verruimende invloed op die eie tradisie nie. Dit maak sin om ’n Nederlandse werk deur ’n belangrike eietydse skrywer soos Pfeijffer in Afrikaans te vertaal. Eerstens is dit (nog) nie in Engels beskikbaar nie en maak dus iets van die internasionale literatuur in Afrikaans leesbaar. Meer nog, dit verruim die Afrikaanse literatuur. Die vertaler (Fanie Olivier) word gedwing om Afrikaans te rek en plooi ten einde die oorspronklike Nederlands te laat Afrikaans praat. Hy kry dit meestal goed reg. Waar woordkeuses en idiomatiese gebruik soms iets Nederlands behou, is dit juis verruimend vir Afrikaans, terwyl die effense vervreemding ook betower. (Protea)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.