Willie Burger kyk na Antoinette Pienaar se nuwe boek, Die lang man sonder skaduwee
Antoinette Pienaar het as aktrise en sangeres naam gemaak en danksy haar gereelde gesprek oor genesende kruie oor die radio, het sy die status van ’n kenner van “alternatiewe geneesmiddels” gekry. Hierdie kennis van Karoo-kruie het ook neerslag in haar boek Kruidjie roer my gevind.Op die agterblad van haar nuwe boek, Die lang man sonder skaduwee, word gemeld dat mense van “heinde en ver kom” om by haar en oom Johannes, ’n “legendariese Griekwa-medisyneman, gesond te raak”. Nie net word kennis van Karoo-kruie ingespan om mense van allerlei kwale te genees nie, in hierdie boek word stories, raaisels en rympies ook as ’n genesende krag ingespan.
Stories het volgens Pienaar ’n genesende werking “want dikwels het ’n fisieke probleem ’n emosionele oorsaak en is dit stories wat die hart kan genees”. Die lang man sonder skaduwee dui op die grondpaaie van die Karoo. Reisend op hierdie paaie, word baie stories vertel en reisend deur die stories word allerlei wyshede ontdek, word genesing gevind. Vroeg-vroeg verduidelik Pienaar hoedat sy in Theefontein geleidelik ook genesing vir haar eie probleme gevind het: “Met die tyd het ek begin verstaan dat hierdie stories die regte medisyne op die regte tyd was. My verbeelding het die storie uitgespeel en my weggevat van my eie vassit af en stories, soos kruie, maak gesond.”
Die stories wat vertel word, sluit dan welluidende aforismes in: “Jou bang maak jou eers souerig en dan maak hy jou dapper, Juffrou,” vertel die oom vir Pienaar: “Jou glo en jou dapperheid – dis jou doepa en jou paljas.” Pienaar verduidelik hoedat sy geleer het om haar “glo voor haar bang” te laat staan. Die klinkende stellings en storietjies, die rympies en raaisels word vervleg met inligting oor kruie en die genesende werking van allerlei rate – soos om ’n knoffelhuisie as “setpil” teen aambeie te gebruik! Agter in die boek is daar ook ’n indeks waarmee die leser verwysings na spesifieke kwale en “geneesmiddels” vinnig kan naslaan – wat ’n misleidende “wetenskaplikheid” aan die boek verleen.
Pienaar verwoord versigtig genoeg om nie direkte aansprake teen gevestigde mediese praktyke te maak nie, maar mens wonder waarom dokters allerlei duur toetse laat doen as al die antwoorde volgens Pienaar sommer op ’n mens se tong leesbaar is: “Die tong is ook ons padkaart. Deur na jou tong se kleur en vorm soggens voordat jy tande borsel te kyk, kry jy idee van wat binne-in die liggaam aan die gang is – watter organe bietjie swaar trek of waar jy ekstra aandag aan jou liggaam kan gee.” Hierop volg dan ’n lang beskrywing van die kleur en vorm van die tong en siektetoestande soos beskryf deur ene “dokter” Otis Chiu wat in Chinese medisyne spesialiseer. Hy leer byvoorbeeld dat ’n “kort tong wys dat die hart en die milt in die moeilikheid is”.
Terwyl ek heelwat simpatie het met die idee dat stories mens kan help om insig in jou eie situasie te kry, dat stories moontlike oplossings van probleme kan ondersoek, ingewikkelde situasies kan belig en deur die emosionele rit waardeur stories mens kan neem, roerend en oortuigend kan wees, maak die direkte medisinale aansprake soos hierbo my baie ongemaklik. Uiteraard is dit vir mense goed om hul stories vir mekaar te vertel, om na mekaar te luister, om te deel. Dit is onnodig om te maak of hierdie waarde slegs, of sterker, aan ou-Griekwastories behoort. Die skryfstyl van dié boek is romanties – soos die eerste sin al aandui. Die boek is deurtrek van melancholie en ’n verlange na ’n vervloë tyd – ’n tyd toe alles goed en wonderlik was omdat mense tyd gehad het om stories te vertel en te luister en nie ver en haastig gereis het nie; toe hul koppe nie deurmekaar was as gevolg van die moderne wêreld nie en toe hulle in eenvoud en met ’n intieme kennis van die veld geleef het.
Hierdie romantiek en nostalgie maak ’n sterk aanspraak op Afrikaanse lesers met ’n nostalgiese verlange na ’n vroeëre plaasbestaan. Dit maak ’n aanspraak op mense wat ontuis voel in ’n wêreld waarin dinge voortdurend verander en waarvan hulle sukkel om sin te maak. Die maklikste reaksie op onsekerheid is immers nostalgie, om terug te verlang na ’n vorige era toe alles beter sou gewees het. Dit is ’n gevaarlike reaksie, want die verlede waarna verlang word, is ’n geromantiseerde en vals beeld. Terwyl niemand sal ontken dat rus en gesels en ’n ontspanne kuiertyd en storievertel saam met vriende vir mens goed is nie, kan romantisering van die vroeër tyd gevaarlik wees.
Ek is dankbaar ek leef in ’n tyd wat ’n dokter ’n EKG kan neem, eerder as om my tong se lengte te meet. Pienaar se boek kan as vermaak gelees word. Sommige van die stories is interessant en vang iets van ’n wêrelddeel vas. Maar die onverdunde nostalgie en verdraaide, ongetoetste idees en resepte en rate kan ook gewoon gevaarlik wees – selfs lewensgevaarlik – vir mense wat dit letterlik gaan opneem. (Umuzi)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.