Willie Burger kyk na Hans Pienaar se boek oor oorlog, Die generaal
Selde in Afrikaanse prosa is die verwilderende dienspligervaring van die 1970’s só helder, só sensitief, só onstellend uitgebeeld as in Hans Pienaar se Die generaal. Dit is die tweede week in ’n ry wat ek op hierdie blad oor die grensoorlog skryf. Verlede week was Alexander Strachan se boek oor die ontstaan van die spesmagte, 1Recce, aan die beurt en hierdie week val die aandag op Die generaal. Eintlik kan mens dié twee boeke nie in dieselfde asem noem nie.
1Recce is ’n boek van heldeverering, viering van die avontuurlustige en dapper soldate wat taai opleiding ondergaan en nie kan wag om saam met hul kamerade op gevaarlike sendings te gaan nie. Pienaar se roman belig ’n ander kant van die grensoorlog, eintlik ’n gans ander grens. Die feit dat die twee radikaal verskillende boeke byna gelyktydig, amper 30 jaar ná die Grensoorlog verskyn, min of meer dieselfde tyd wat die rolprent Kanarie uitgereik is, laat mens egter besef dat die impak van die destydse Grensoorlog nog nie ten volle beskryf is en agter ons lê nie.
Aanvanklik, gedurende die 1980’s, het talle kortverhaalskrywers indrukke oor die oorlog weergegee, byna asof dit kort momentopnames was van die impak en verskrikking, die vervreemding van die geweld. Bundels soos Strachan se ’n Wêreld sonder grense, Etienne van Heerden se My Kubaan, en versamelings grensverhale soos Forces Favourites het in die 1980’s aan die subgenre “grensliteratuur” beslag gegee. Terwyl 1Recce dalk meer gerig is op ’n soort nostalgie van oorlewendes wat terugdink aan kameraderie en die “gloriedae” toe hulle hulself as die beste soldate beskou het, is Die generaal ’n fyn analise van die geslote, “aparte”, wit (Afrikaner-) samelewing van die 1970’s.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Recce
Byna alle oorlogsromans (dink maar aan Viëtnam-romans en -rolprente) begin met die ontreddering van ’n klomp rou rekrute en die skok van hul inisiasie in die weermagkultuur en geweld. Pienaar doen ten minste twee dinge wat veroorsaak dat Die generaal nie in daardie clichés van oorlogliteratuur verval nie. Aan die een kant bied hy die baie spesifieke ervaring van die Suid-Afrikaanse Weermag en diensplig in die 1970’s met fyn besonderhede en baie genuanseerd aan, sodat die leser ervaar dat dit nie die herhaling van oorlogliteratuurclichés is nie. Maar nog belangriker: Eintlik gaan dit uiteindelik veel meer oor die bevraagtekening van ’n verkrummelende stelsel en die individu wat probeer om ’n plek daarbinne (of daarbuite) te vind, as oor die onmiddellike verwarring. Die roman bestaan uit twee dele.
Die eerste deel word as ’n lang brief deur die jong dienspligtige, Johan, aan sy neef Ben aangebied. Die tweede deel is Johan se lang brief aan Annie, ’n meisie op wie hy verlief raak. Wat die vertelling deurgaans boeiend maak, is dat Johan telkens oor sy ervaring in die “hede” skryf en dan in afwisselende hoofstukke terugspring in tyd na sy skooldae, sy opleiding, die offisierskursus, ’n besoek aan sy oom, die generaal, en veral die naweekpasse wat hy by Ben, die generaal se seun, deurgebring het – dikwels met wilde partytjies. Die “hede” van die eerste deel is wanneer hy begin skryf vanuit ’n kamp in die destydse Rhodesië, waarheen hy as jong luitenant gestuur word om uit te vind watter ongerymdhede met sy voorganger – ’n ander dienspligluitenant – daar gebeur het. Sy brief aan Ben is eintlik ’n poging om Ben se dood te probeer verwerk, om te probeer begryp waarom Ben homself om die lewe gebring het, en waarom hy self dit nie ook doen nie.
In die tweede deel skryf Johan ná sy terugkeer van die grensdiens oor die mobilisering in die Heidelbergbasis vir Suid-Afrika se eerste inval in Angola, terwyl hy dan ook deur terugflitse die geheim van wat eintlik op die grens gebeur het, geleidelik onthul. Pienaar loop die gevaar om ook in talle ander clichés van die Afrikaanse oorlogliteratuur te verval, soos die ongenaakbare patriargale generaal met sy opstandige, gay seun. Maar die roman is uiteindelik baie meer genuanseerd. Die generaal is ’n komplekse ondersoek van die benouende Afrikaanse wêreld van die 1970’s, van wat gebeur wanneer ’n denkende, intelligente en sensitiewe Afrikaanse man geleidelik hierdie wêreld leer bevraagteken: die godsdiens, die rassisme, die geweld, die patriargie, die onderdrukking van seks … Die verset word gefasiliteer deur vaag begrypte musiek van die Moody Blues en Bob Dylan en pogings om filosofiese gronde in Wittgenstein se werk te vind. Johan wil aan die een kant suiwer anargie afwys, maar hy ervaar die noodsaak om te rebelleer.
Hy word ook verwar deur die verleidelikheid om deel van die groep uit te maak, die opwinding van om soldaat te wees en die magsgevoel wat mens maklik meesleur, teenoor die weersin in nuttelose en immorele geweld. Uiteindelik is dit ook ’n roman wat misverstand, verraad en verskillende moontlikhede van verset ondersoek en wat heldedade nie in die groot gebaar vind nie, maar in die klein sabotering van ’n stelsel. Pienaar is ’n gesoute joernalis, ’n dramaturg en ’n gerekende digter. Sy roman tel die vernaamste temas van sy vorige werk op (geweld, rebellie, verset teen uitsluiting) en die veelduidige, komplekse manier waarop hy daarmee omgaan, dwing die leser om verby die talle clichés oor die Grensoorlog te dink. (Tafelberg)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.