Willie Burger kyk na Debbie Loots se nuwe roman Die boek van gelukkige eindes
Die boek van gelukkige eindesis propvol uiteenlopende mense se stories. Soos Willemien, wat twee keer, 25 jaar uit mekaar, deur dieselfde man verlei word en elke keer met ’n baba agtergelaat word sonder dat sy weet waar om hom weer op te spoor. Of die ouer Priscilla wat graag verhoudings met jonger mans aanknoop en op dié manier wegkom van haar man wat aan demensie ly. Of Simone wat haar met haar kunsprojekte in haar man se garage onttrek. Of Neil, die restauranteienaar wat te skaam is om te erken sy klein vroutjie rand hom aan. Of Caitlin, die kunsonderwyser wat aan ’n groter projek werk om die versierde vroulike liggaam te ondersoek en mans gebruik.
En dan is daar nog Connie, wat haar man, ’n sielkundige, verlaat wanneer hul twee dogters uit die huis is en aankondig sy is gay. En John, wat op 50 sy eie kunstalent ontdek nadat hy sy werk verloor … Debbie Loots het reeds in haar debuutroman, Split, bewys dat sy ’n storie boeiend kan vertel. Hier vertel sy meesleurend van al hierdie mense wat desperaat na “gelukkige eindes” op soek is en sy doen dit so oortuigend dat mens begin voel jy ken hulle. Om stories van mense só te kan vertel dat die leser die hele tyd nuuskierig bly, steeds meer wil uitvind, steeds verras word deur ’n nuwe wending, is natuurlik ’n kuns: ’n kuns wat Debbie Loots bemeester het.
Die ou Griekse wysgeer Aristoteles het geleer dat ’n storie ’n begin, middel en einde het. Dit klink miskien na ’n voor die hand liggende opmerking, maar hy het daarmee bedoel dat enige storie altyd ’n seleksie van sekere gebeurtenisse is wat op ’n bepaalde manier gerangskik word sodat dit ’n geheel vorm – met ’n begin, middel en einde. Die einde gee sin aan die geheel van die vertelling. Aan die einde kry elke brokkie wat uitgesoek is, sin. Gelukkige eindes is iets waaroor mense fantaseer. Daarom vind die geliefdes mekaar aan die einde van liefdesromans en skelms ry aan die pen in misdaadverhale. In Die boek van gelukkige eindes is die gelukkige eindes nie so eenvoudig nie. Die roman word in vier dele verdeel: “Die begin”, “Die middel”, “Die einde” en dan “Na die einde”. Dit is betekenisvol dat die verhaal dus verby die einde strek; dat dit lyk asof die einde nie die einde is nie.
Hierdie laaste afdeling sluit aan by die motto voor in die roman, ’n uitspraak van Orson Welles: “If you want a happy ending, that depends, of course, on where you stop your story”. Loots hou egter nie bloot aan om verby die een moontlike eindpunt te vertel nie. Dit is ook die manier waarop sy vertel wat die leser boei. In die eerste drie dele word elke karakter se verhaal uit sy of haar eie oogpunt weergegee. In die laaste deel, “Na die einde”, word die verhaal skielik ook uit die oogpunte van ander karakters – diegene wat net “newekarakters” in die eerste dele was – vertel. Dit maak ander perspektiewe op die vorige verhale moontlik. Verhale wat gelukkig eindig, kan met verdere vertelling nuwe ongeluk inhou. En andersom. Ook nuwe beginne word oopgemaak. Die talle uiteenlopende karakters se lewens word almal op die een of ander manier saamgeknoop deur hul kontak met Chris, ’n suksesvolle (afhangend van jou maatstawwe) sielkundige in Kaapstad. Sy tweede vrou vra hom op ’n dag uit oor wat sy werk eintlik behels: “Dink jy vir almal happy endings uit?” wil sy weet.
Die roman bied ’n blik op ’n bepaalde wit middelklasbestaan in Suid-Afrika – op mense wat op uiteenlopende maniere na sin en geluk op soek is. Sommige mense soek net vermaak, byna almal word deur seksuele begeertes gedryf, almal veg teen aspekte van hul verlede wat hulle wil vergeet. Baie het die behoefte om “reg te leef”: “Recycle, ophou drink, ophou vleis eet, Xhosa leer, deel raak van my omgewing. Regtig deel maak. Opmaak.” Elkeen se storie is boeiend (hoewel hulle soms swaar dra aan stereotipering). Dis ’n prestasie dat Loots soveel karakters – uiteindelik kom meer as ’n dosyn karakters aan die woord! – tog in een roman kon saamhou. Die voordeel wat so baie stories bied, is dat al die mans nie varke is nie, al die vroue nie slagoffers van die patriargie nie. Stereotipes word opgebou, maar weer ondermyn. Uiteindelik is niks eenvoudig nie en kan die leser met begrip (al is dit nie noodwendig met simpatie nie) na byna al die karakters kyk.
Die boek is vermaaklik. Daar is baie humor. Baie hartseer. Mens herken baie van jou eie optredes en gedagtes (soms met skaamte) en leer veel uit die ingewikkelde verhoudings met mense. Die kritikus James Wood het eens opgemerk dat romankuns in ons tyd al meer gaan oor gladde storievertelling waarin die storie mens moet meevoer en vermaak, eerder as oor ingewikkelde vertellings wat tot nadenke stem. Die boek van gelukkige eindes is heerlike vermaak, juis omdat dit so vaardig vertel word. Té veel nadenke gaan die roman nie deurstaan nie, maar daar is genoeg besonder menslike ervarings daarin om die leser nog ’n rukkie by te bly. (Queillerie)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.