Willie Burger kyk na Etienne van Heerden se lywige nuwe roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Het fiksie nog ’ n plek in die 21ste eeu? Is fiksie nog nodig in ’n tyd waarin elektroniese media, veral sosiale media, ongetwyfeld ’n veel groter impak op mense se lewens het? Is fiksie selfs wenslik in ’n tyd waarin die bestaan van feite uitgedaag word? Die biblioteek aan die einde van die wêreldis ’n reaksie op hierdie vraag, ’n demonstrasie van wat ’n roman in ons Twitter- tyd van aandaggebrek en groot-lawaaibestraffing deur die #deugpolisie kán wees.
Die roman (alle kuns) word ’n soort vesting (’n biblioteek aan die einde van die grondpad) buite die alsiende oog van die inligtingoorlaaide “netwerk”, wat tot genuanseerder denke vanuit persoonlike ervarings dwing. Byna elke relevante besprekingstema in ons land word in Die biblioteek aan die einde van die wêreld betrek: grondonteiening; dekolonisering; die #Feesmustfall en ander “val”-veldtogte (die “Valliste” wat die val van Rhodes, klasgeld, Eurosentrisme, heteroseksuele norme, ensovoorts bepleit); post-waarheid. Dit is ’n roman oor korrupsie en staatskaping; oor verraad. Identiteitsdebatte oor gender, ras, klas, kleur, generasies, geloof, kultuur en taal word betrek, asook argumente tussen jong Valliste en ouer generasies vryheidsvegters; tussen nostalgiese Afrikaners en dié wat van wit bevoorregting bewus is.
Soos in Van Heerden se hele oeuvre, is terugkyk na die verlede belangrik: hoe bepaal ons onthou en vergeet ons greep op die hede en verwagting van die toekoms? Sentraal is egter – soos die oë op die buiteblad suggereer – ’n ondersoek na die invloed van groot data en alomteenwoordige toesig (surveillance) op privaatheid, demokrasie en ons gevegte oor identiteit (spesifiek Suid-Afrikaanse en Afrikaneridentiteit). In ’n wêreld vol kameras en ander elektroniese tegnologie waarmee elkeen se handelinge dopgehou word, word data aangewend om verkiesings te swaai, om individue se begeertes, behoeftes en gedagtes te ken (en te skep) sonder dat hulle eens daarvan bewus is.
Al hierdie inligting (in ’n biblioteek aan die einde van die wêreld) word deur Big Brother aangewend om alles te beheer. Maar anders as in Orwell se 1984, is Die biblioteek aan die einde van die wêreld nie ’n distopiese toekomsvisie nie, dit bied ’n eietydse realiteit. Twitter lei onder meer daartoe dat openbare menings deur gebelgdheid gevorm word. Die vrees om aanstoot te gee en daarvoor genoem en verdoem te word, lei geredelik tot onkritiese denke. Ook van kunswerke en wetenskaplike ondersoek word verwag om nie-kwetsend en skadeloos te wees. Hierdie roman is ’n pleidooi vir kuns om boos te wees, om te kwets, vir die reg om stadig, genuanseerd na te dink. En die 636 bladsye dwing mens daartoe.
Verskillende verhaallyne, gebou om karakters wat saam ’n vertaalkursus by die Universiteit van Kaapstad volg, belig die genoemde temas uit verskillende hoeke: Thuli, een van die voorste Valliste wat later na China gaan in ’n poging om ’n exposé oor korrupsie te skryf; Jerome, ’n arm Noord-Kaapse student wat probeer om ’n beter lewe te kry; Ian, ’n Afrikaanse prokureur wat vir sy reg op ’n taalgebaseerde identiteit veg; die liberale Engelse professor wat konflik vermy. Hulle lewens word egter deur magte groter as hulself– soos hulle geleidelik uitvind – eerder as deur hul eie keuses bepaal. Van Heerden is ’n meesterverteller in volle vaart. Storievertel gaan oor die aanbied van inligting. Inligting word bietjiesbietjies gegee, sodat die leser nuuskierig gemaak en gehou word.
Die verskillende verhaallyne, aangebied uit die perspektiewe van uiteenlopende karakters, en boonop gekompliseer deur vooruit- en terugverwysings, sorg vir spanning. Wanneer idees uit die wêrelde ervaarde van verskillende individue aangebied word, is dit nie meer abstrakte menings nie, maar die leser beleef die emosies en motiverings agter die idees – iets waartoe fiksie mens in staat stel. Die rondspring tussen verhaallyne veroorsaak telkens cliffhangers: sodra die leser gespanne raak oor wat volgende gaan gebeur, word eers na ’n ander verhaallyn of tyd gespring. Só word spanning geskep, maar ook temas uitgelig: die betrokke tema wat in een verhaallyn ondersoek word, word dikwels in die daaropvolgende een uit ’n ander hoek belig. In ’n wêreld beheer deur diegene met toegang tot groot data, verander gevegte en vrese oor identiteit en taal, die haat wat so kwistig aangehelp word deur radikaliserende drukgroepe wat teen hul uitsluiting en gekwetsheid skreeu, word minder belangrik as die noodsaak om mekaar as mense oor alle grense mekaar te kan ontmoet.
Hierdie uitreiking na mekaar is ook die enigste weerstand teen die manipuleerders van groot data. Dit is ’n baie dik roman, en nie vry te spreek van oordaad en soms stereotipering nie. Nietemin is dit ’n moet-lees vir 2020. Die manier waarop debatte in ons samelewing uitgepak en belig word, maak van die roman ’n nie-fiksie-inligtingbron. Maar dan beweeg dit oor die grense tussen fiksie en niefiksie en so word die debatte op ’n ander manier gekontekstualiseer. Jy identifiseer met jou eie argumente, maar kom agter hoe hulle bots en teenoor ander ménse (eerder as ander argumente) staan, en skielik is niks meer so maklik nie. Selfs idees waarvoor jy sou veg, word minder belangrik in ’n konteks van ervaarde kontak – deur fiksie moontlik gemaak.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.