Willie Burger kyk na Jodi Picoult se vertaalde weergawe van Plain Truth en André le Roux se Kinders wat moor. Wie se skuld is dit?
Sommige mense sal wil weet waarom die werk van ’n wêreldberoemde Amerikaanse skrywer in Afrikaans vertaal word? Afrikaanssprekende lesers kan immers Engels lees en sal daarom eerder die boek in sy oorspronklike vorm wil lees?
Daar is eintlik sommer ’n hele paar redes waarom ’n vertaling van ´n boek deur Jodi Picoult in weerwil van die skeptiese vrae belangrik is. Die eerste, voor die hand liggende rede is dat daar wel baie lesers is wat verkies om in Afrikaans te lees. By hulle sal die werk van iemand soos Picoult gewoon verbygaan as dit nie vertaal word nie. Picoult het sedert haar debuutroman in 1992 verskyn het, byna 30 romans geskryf wat in 34 tale vertaal is en waarvan meer as 14 miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop is.
As enkele romans deur hierdie gewilde skrywer in Afrikaans vertaal word, word talle lesers waarskynlik na die werk van hierdie invloedryke en gewilde skrywer gelei. Vertalings verruim ook die ervaringswêreld van Afrikaanse lesers, en brei hul Afrikaanse woordeskat uit. Die belydenis is ’n roman wat op ’n Amiese plaas in die VSA afspeel. Wanneer die lyk van ’n baba op die plaas ontdek word, word aangeneem dat die 18-jarige ma van die baba die moordenaar is. ’n Advokaat wat eintlik probeer om van haar lewe in die howe weg te vlug en wat toevallig by familie in die omgewing kuier, raak by die saak betrokke. Ten einde die meisie te verdedig, moet sy eers die gemeenskap waaruit sy kom leer ken. Die roman gee ’n blik op die Amiese wêreld, wat vir die meeste Suid-Afrikaners vreemd is en sodoende verruim die vertaling die Afrikaanse verwysingsraamwerk.
Maar die roman is boonop relevant in ons land. Die idee om iemand anders binne sy/ haar wêreld te verstaan, sonder om in ’n relativisme of opheffing van ’n mens se eie verstaansraamwerk te verval, is baie relevant. Die belydenis se oorspronklike titel was Plain Truth (2001). Picoult se blitsverkoper Nineteen Minutes (2007) gaan oor die gevolge van ’n skoolskietery in ’n klein dorpie. Dit was haar eerste roman wat die nommer 1-posisie op die New York Times se topverkoperlys gehaal het. Daniël Hugo het dié roman ook vertaal en dit sal in Mei beskikbaar wees. Picoult is ’n meesleurende verteller (dit is seker ’n dom opmerking, hoekom anders sal haar boeke telkens die nommer 1-posisie haal en wêreldwyd so gewild wees?) Al is daar talle voortreflike spanningsverhaalskrywers in Afrikaans, was hierdie presiese soort werk nog nie in Afrikaans beskikbaar nie. (Jonathan Ball) Jodi Picoult. 2020. Die belydenis. Deur Daniël Hugo vertaal
In ons land word só baie moorde gepleeg dat mens mettertyd onwillekeurig afgestomp raak deur al die berigte oor mense wat vermoor is. Ten spyte van die afstomping, word mense egter telkens tot stilstand geruk wanneer die moordenaars kinders is. Min moorde het soveel opspraak verwek soos die moord op die Van Breda’s, ’n oënskynlik gelukkige gesin wat alles vir hul kinders gebied het. Vrae oor waarom Henri van Breda sy ouers en broer vermoor en sy suster probeer vermoor het, was dadelik op almal se lippe. Wat laat ’n kind sulke verskriklike dinge doen?
Die ervare joernalis André le Roux skryf op ’n boeiende manier hieroor in sy jongste boek, Kinders wat moor. Wie se skuld is dit?. Die subtitel, “wie se skuld is dit?”, is waarskynlik een van die eerste vrae wat deur mens se kop gaan wanneer jy hoor van nog kind (of groep minderjariges) wat iemand (of hul ouers) vermoor het. Ons is dikwels haastig om te oordeel. ’n Kind van tien jaar oud kan tog nie inherent boos wees nie, die skuld moet by die ouers lê, is die soort gedagte wat dikwels geopper word wanneer mense oor kindermoordenaars praat. Le Roux het deeglike navorsing gedoen en bespreek geweldig baie van hierdie gevalle.
Mens skrik eintlik as jy sien hoeveel sulke kindermoordenaars al in ons land se geskiedenis opslae gemaak het – en mens kom ook met ’n skok agter van hoeveel jy al weer vergeet het, tot jy skielik die name sien: Don Steenkamp, die Waterkloof-4 en Henri van Breda was almal “bevoorregte jong moordenaars” wat groot opspraak verwek het; maar daar is ook talle ander: Xander Bylsma, Marlene Lehnberg, Morné Harmse, Kosie van Zyl … Le Roux se navorsing is nie tot die Suid-Afrikaanse werklikheid beperk nie. Hy fokus byvoorbeeld in ’n hele hoofstuk op Amerikaanse skoolskieters.
Dit gaan egter nie bloot oor die sensasionele hervertelling van die stories waarvan ons sommige al vergeet het nie. Sy boek is van sensasie gestroop en hy probeer om antwoorde te vind – word kinders moordenaars op grond van gene of opvoeding? Wat maak mens as jou kind ’n psigopaat is? Wat is die rol van mishandeling, molestering en verwaarlosing op kinders? Dié komplekse faktore word van talle kante belig en op boeiende manier bespreek, soos net ’n ervare skrywer dit kan doen. Elke ouer behoort die boek te lees. (Tafelberg) André le Roux. 2020. Kinders wat moor
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.