Willie Burger kyk na Jean-Pierre de Kock se debuutroman, Die daggaboer
Verlede week het ek oor een van die belowende debuutwerke van verlede jaar, Alettie van den Heever se Stof, geskryf. Hierdie week kyk ek na nog ’n debuutroman,Die daggaboer deur Jean-Pierre de Kock.Met die wettiging van dagga wat verlede jaar in Suid-Afrika groot nuus was en wat ook in al meer in ander lande (soos Kanada) begin spoed optel, trek die titel van die roman sommer baie aandag.
Die daggaboer van die titel is Lennet Loots. Hy was nie altyd ’n daggaboer wat in ’n woonwa op ’n kleinhoewe naby Baardskeerdersbos gewoon het nie. Eens was hy deel van die korporatiewe gejaag na geld en statussimbole. Hy was ’n suksesvolle rekenmeester met ’n kar en ’n huis wat hy, soos hy dit vir sy broer stel, “nie kon bekostig nie”. Hy het van mooi klere gehou en in ’n meenthuiskompleks saam met die vrou wat hom werklik verstaan het, Cecilia, gebly. Cecilia het egter uitgetrek toe hy nie tot trou oorreed kon word nie en hy het besef dat hy geen behae in sy middelklasbestaan het nie en na die klein lappie grond uitgewyk. Daar kweek hy vrugte en groente en bedryf ’n gastehuis om ’n inkomste te genereer.
Hy dra nie meer modieuse klere nie, maar ’n kaftan. Hy streef na ’n eenvoudige bestaan: “Die pastorale lewe, die eenvoud wat alles sou vergemaklik. Wat dit draagliker sou maak om net te wees.” Hy verwens die gedwonge kontak wat hy met mense het wat sy gastehuis besoek en probeer om die besoekers so min as moontlik te sien. Hy beperk kontak met mense, want soos hy dit stel: “Hoe vinnig kan jou lewe nie deurmekaargekrap word nie. Als weens mense. Mense wat inmeng. Mense wat nie verstaan nie. Mense vasgevang in hulle eie agendas.” Om sy inkomste so ’n bietjie aan te vul, kweek Lennie dagga. Hy leer deur YouTube-video’s hoe om die plante die beste te versorg, te oes en te droog. Hy kry ’n handelaar wat sy produk verkoop.
Verder luister hy graag na musiek, veral Dvořak, ’n liefde wat hy van kleins af koester, maar wat nie so ’n verstandige beroepskeuse soos ’n rekenmeester sou wees nie. Eintlik is sy lewe, so op sy eie, oënskynlik gelukkig. Dan kom sy broer kuier. Sy broer is ’n dokter wat in Kanada woon en na Suid- Afrika kom om vir Lennet en hul pa, wat in ’n versorgingsoord vir alzheimerlyers is, te besoek. Hierdie besoek gee aanleiding tot ’n ernstige konfrontasie – nie net tussen die broers nie, maar uiteindelik moet Lennet die waarheid oor homself konfronteer, want sy vermyding van ander mense het eerder te doen met ’n weiering om homself te konfronteer, homself te aanvaar.
Plek-plek is die vertelling nogal regtig snaaks, ander kere probeer dit snaaks wees sonder dat dit is. Die verhaal versand ook soms in fyn besonderhede wat net te veel raak vir die ylerige verhaal. Dikwels, soos in die twee aanhalings hierbo, word alles vir die leser uitgespel. Oor Stof het ek verlede week geskryf dat dit ’n opwindende debuut is, omdat dit probeer om nuwe aspekte van bestaan oop te skryf en te ondersoek. Ook omdat die taalgebruik daarin vars is, ander moontlike seggingsmoontlikhede ondersoek en daardeur ander dinkmoontlikhede probeer open.
Hierdie debuut maak egter van oorbekende elemente gebruik wat so baie Suid-Afrikaanse tekste kenmerk: ’n vader of moeder wat op sterwe lê, ’n kind wat van oorsee af terugkeer, ’n “geheim” van seksuele aard wat ontdek word. Daar is natuurlik maniere waarop hierdie oorbekende gegewe ook nuwe lewe gegee kan word sodat die clichématige vermy word, of sodat die problematiek op ’n ander manier belig kan word, anders daaroor gedink kan word. Die daggaboer slaag nie daarin om ’n vars invalshoek te bied nie. Wat wel gebeur, is dat Die daggaboer ’n blik bied op die vernietigende gevolge van samelewingsvooroordele, van veral ’n pa se verwerping van ’n seun. Hierdie verwerping maak die lewe uiteindelik onhoudbaar.
Wanneer die lyding van ’n individu weens samelewingsnorme roerend word, is wanneer die leser intense simpatie met die individu ervaar. Al bring die verhaal dan nie nuwe invalshoeke op die problematiek nie, kan dit inderdaad ontroerend wees, empatie wek. Daar is gedeeltes van die roman waar die leser kortstondig simpatie met Lennet kry, maar oor die algemeen is die emosionele impak nie te sterk nie en daarom is die verhaal nie so ontroerend nie. (Human & Rousseau)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.