Willie Burger kyk na ’n verskeidenheid opwindende boeke vir jonger (en ouer) lesers
Vir jonger lesers is daar baie opwindende nuus. (En baie ouer lesers sal net soveel hiervan geniet.)Die wenners van die Sanlam-prys vir jeuglektuur het pas verskyn. Die goue toekenning het gegaan aan Derick van der Walt se roman Toring van jasmyn. Van der Walt het geen bekendstelling as jeugskrywer nodig nie. Lien se lankstaanskoene is met verskeie pryse bekroon en met Willem Poprok en Hoopvol het hy hom as een van die voorste Afrikaanse jeugromanskrywers gevestig. Toring van Jasmyn voldoen aan twee besonder belangrike vereistes vir ’n jeugboek: uiteraard moet dit eerstens ’n boeiende, snellopende verhaal vertel, vol spanning en interessante wendings om jong lesers, wat aan opwindende TVreekse en flieks gewoond is, se aandag te behou.
Tweedens is dit belangrik dat lesers ook aan ’n “ander wêreld” as hul eie bekende wêreld bekendgestel word, ’n wêreld wat hul wêreld en hul beskouing van die werklikheid kan verruim. In Toring van Jasmyn sorg bomaanvalle en ’n ontvoering vir ’n boeiende verhaallyn. Omdat die romangebeure in Istanbul afspeel, word ’n blik op ’n ander wêreld oopgemaak. Markus Combrink, sy suster Nina en hul vriend Neil gaan vir ’n vakansie saam met Markus en Nina se pa na Istanbul. Hul pa moet werk, maar die tieners kry die kans om die stad te verken. Juis hierdie verkenning van die stad bied ’n blik op ’n eksotiese wêreld wat vir die meeste Suid- Afrikaners onbekend en vreemd is.
Die drie Suid-Afrikaanse tieners word vriende met Sahib en sy suster Meryem en hulle ervaar die stad met al die kleur en geur: die speserymark waar Sahib werk en die tradisionele kos wat Meryem berei. Dan raak Nina weg – moontlik ontvoer deur die geheimsinnige groep Yasemin Kulesi? Die verhaal hou mens aan die raai en omblaai. Die Silwer Sanlamwenner van 2019 is Annerle Barnard se roman Sindikaat. Dit is ’n meesleurende spanningsroman. Die 16-jarige Paul beland in ’n hofsaak en ontvang dan doodsdreigemente. Sy pa huur ’n oud-Recce, Bossie, om hom te beskerm. Bossie neem vir Paul en sy vriende, Adriaan en Karlien, met vakansie na afgeleë plekke in Zambië, Zimbabwe en Botswana in ’n poging om Paul se agtervolgers af te skud. Om alles nog ’n tikkie erger te maak, is die Chinese mafia ook op hul spoor. Sindikaat is ’n aksiebelaaide roman wat vaardig vertel word.
Iets heeltemal anders as hierdie twee avontuurromans vir jongmense, is Carina Stander se Wonderwese. Dit is die tweede roman in ’n trilogie en volg op haar baie gewilde Bergengel. Die leser word weer weggevoer na Gabriëllië en volg vir Eron Verberger verder op sy lang soektog. Soos in Bergengel, is Eron op reis. Hy soek na sy pa, maar ook na die geheimsinnige “Wonderwese” wie se nabyheid tot “verstommende wonders” kan lei. Die reis is egter ook ’n soektog na die liefde. Bowenal is die reis ’n proses waarin Eron Verberger homself moet leer ken. Hy moet deur stede en woude en berge reis en elk van hierdie plekke wat hy deurreis toets hom op ’n bepaalde manier; laat hom meer oor homself en die lewe verstaan.
Hy word deur die voortslepende Vuurstorms gedreig, hy ontmoet geleerdes met boeke waarin wyshede opgeteken is, maar ook wilde mense, en hy trotseer wilde diere. Hy kan nie op enige towerkrag of geheime formule staat maak soos wat dikwels in fantasieverhale voorkom nie, maar moet juis al dieper in homself delf om die uitdagings te bowe te kom. Stander kry dit reg om iets van die gevoel van mitiese wysheid van Paulo Coelho se Die Alchemis met aspekte van Tolkien se Middelaarde en herinnerings aan Narnia te vermeng. Soos in laasgenoemde wêreld van Lewis is daar tussen al die wonderbaarlike wesens en gebeurtenisse ’n spirituele toon en Eron se soeke na dié “Teenwoordigheid”, het ’n Christelike ondertoon sonder die eksplisiete simboliek van Narnia. Boonop het Wonderwese ook ’n ekologiese tema wat in ons tyd eintlik onvermybaar is – die impak van magsuitbreiding op die omgewing, maar veral ook op mense, word op allegoriese wyse aangetoon.
Van fantasie as genre gepraat – die oupa van die genre, JRR Tolkien se Lord of the Rings, is nou in Afrikaans beskikbaar. Die Hobbit het reeds in 2017 in Afrikaans verskyn, terwyl die eerste deel van Die heerser van die ringe, Die kameraadskap van die ring, verlede jaar verskyn het. Die ervare Janie Oosthuysen was aanvanklik die vertaler en Die twee torings en Die koning keer terug is deur die veelbekroonde Kobus Geldenhuys vertaal. Oor hierdie ikoniese werk kan ek niks toevoeg nie en gee dus net ’n proesel daarvan in Afrikaans: Drie Ringe vir die elfkonings onder die hemelwerf, Sewe vir die dwerghere in klipsale gekroon, Nege vir mense, gedoem om te sterf, Een vir die Donker Heerser op sy donker troon In die land van Mordor waar die skaduwees draal. Een Ring om oor almal te heers, een Ring om hulle te vind, Een Ring wat almal bring en in die duisternis saambind In die land van Mordor waar die skaduwees draal.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.