Willie Burger kyk na Herman Giliomee se omvangryke boek, The Afrikaners. Biography of a People
Die bekende historikus Hermann Giliomee se omvangryke boek The Afrikaners. Biography of a People het in 2003 verskyn en is uit byna alle oorde met groot lof ontvang. Dit was ’n lywige werk van 656 bladsye. Intussen het hy dié oorspronklike geskiedenis van Afrikaners bygewerk en die 2017-uitgawe beslaan oor die 700 bladsye.
The Afrikaners is ongetwyfeld die omvangrykste geskiedenis van die groep mense wat as Afrikaners bekendstaan. Giliomee het met hierdie werk ’n baie indrukwekkende, dog toeganklike verhaal van mense vertel wat oor 350 jaar as ’n groep gevestig geraak het – ’n groep wat uit ’n komplekse botsing tussen Europese, Afrikaen Oosterse mense en invloede in stryd ontstaan het en wat sedertdien voortdurend in ’n oorlewingstyd gewikkel was. Die begrip “Afrikaner” is aanvanklik gebruik om na slawe en sogenaamde “vryswartes” te verwys wat in Afrika gebore is. Tot in die 18de eeu het Europeërs aan die Kaap na hulself as Christene verwys en dit was eintlik eers sedert die einde van die 18de eeu wat die begrip Afrikaner gebruik is om te verwys na mense wat oorwegend van Europese afkoms was en wat Afrikaans as spreektaal gebruik het.
Gemotiveer deur ’n sterk onafhanklikheidstrewe het die Afrikaners hul verset teen pogings van die VOC om hulle te beheer en teen die Britse oorname van die Kaap. Hulle het die binneland ingetrek en talle oorloë teen die inwoners van die binneland gevoer. Hulle het geleidelik al meer mag bekom en uiteindelik ’n anti-koloniale oorlog teen Brittanje gevoer. Geleidelik het hulle meer mag bekom voordat hulle uiteindelik sonder ’n militêre stryd hul politieke mag prysgegee het. Wat die verhaal so aangrypend maak, is dat Giliomee dit besonder genuanseerd vertel, met ’n fokus op talle individue se bydraes, hul beweegredes, hul idees, hul handelinge.
Deur die klem van die geskiedenis nie op die opeenvolging van groot gebeurtenisse te laat val nie, maar op individuele mense se bydraes tot die gebeurtenisse, het Giliomee dit reggekry om ’n genuanseerde blik op Afrikaners te bied. Die geskiedenis help ’n mens om die ingewikkeldheid van situasies en mense raak te sien eerder as om in gemaklike stereotipes te verval. Giliomee se verhaal van Afrikaners bied ’n insiggewende blik op die prestasies van ’n losse groepie mense om ’n volk te vorm wat drie jaar lank ’n oorlog teen die grootste moondheid van die tyd kon voer, wat uit ekonomiese armoede kon opstaan en wat hul taal kon vestig as ’n taal wat al die hoogste funksies kan vervul, met ’n sterk letterkunde, joernalistiek en wetenskapsbeoefening.
LEES OOK: Kies ‘n boek: ‘n Droë wit seisoen
Al hierdie prestasies word egter nie as ’n eensydige lofsang aangebied nie, want Giliomee bied ook die teenpool aan: hoedat Afrikaners van gekoloniseerdes tot koloniseerders beweeg het, vanuit armoede tot ’n dikwels hartelose rykdom, van magteloosheid tot die misbruik van mag. Juis in die ambivalensie tussen die bewondering van die prestasies van individue en ’n groep om ekonomies, opvoedkundig en polities uit ’n posisie van onmag en armoede te groei aan die een kant en ’n veragting vir afskuwelike magsmisbruik en onderdrukking aan die ander kant, lê die krag van Giliomee se geskiedenis.
Wat die boek egter nóg merkwaardiger maak, is dat Giliomee daarin kon slaag om die geskiedenis op meesleurende manier te vertel, sodat dit byna voel soos om ’n vlot roman te lees. Terwyl The Afrikaners dus ’n genuanseerde beeld van ’n groep mense bied wat dikwels sonder meer op grond van eensydige stereotipes verwerp word en ’n eerlike ondersoek van magsvergrype is, het die boek (en in besonder die Afrikaanse vertaling van die eerste uitgawe) vir baie Afrikaners ’n veel beter begrip van hulself gebied. Die onkritiese heldeverering wat dikwels in Afrikaner-nasionalistiese geskiedskrywing oorheers het, word in hierdie boek ondermyn deur ’n eerliker ondersoek van ook die foute en mislukkings en gevolge van optrede in eiebelang.
Tans bied Giliomee ’n verwerking van sy boek as ’n reeks op kykNET aan. Die verwerking van so ’n omvangryke boek tot ’n TV-reeks bied baie uitdagings. Talle historiese gebeurtenisse kan byvoorbeeld nie maklik as dramatiese beeldmateriaal aangewend word nie. Ook beperk die aard van dokumentêre rolprente die hoeveelheid inligting wat oorgedra kan word. Hierdie soort beperkings het daartoe gelei dat Giliomee sy oorspronklike boek baie verkort het en daar is besluit om die verkorte weergawe ook uit te gee. Hierdie verkorte weergawe van Giliomee se boek (sonder die bronnelys maar 238 bladsye) bied vir baie Afrikaanse lesers wat nie kans sien om die oorspronklike boek te lees nie, die geleentheid om die boeiende verhaal te lees. Hopelik sal die kykNET-reeks ook baie nuwe lesers inspireer om die boek te lees – iets waarop die uitgewers sekerlik hoop. ’n Mens hoef nie noodwendig met al Giliomee interpretasies en verduidelikings saam te stem nie, maar elke leser sal moet erken dat dit ’n meesleurende boek is wat nie in enige gesprek oor Suid-Afrikaanse geskiedenis of oor Afrikaners geïgnoreer kan word nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.