Willie Burger kyk na twee bekende fiksieskrywers se werk
Wamuwi Mbao het aan die einde van 2016 in die Sunday Times geskryf dat ’n mens weet jy lees Suid-Afrikaanse fiksie wanneer jy een van die volgende boeke teëkom:
1 Ná die dood van ’n pa/ma/enige ander bloedverwant keer die hoofkarakter na Suid-Afrika terug ná ’n verblyf van 10/15/20 jaar in die buiteland en moet hier ’n donker, onopgeloste geheim uit die verlede oplos (die geheim het meestal te doen met ras, seks of albei).
2 Patroonmatige misdaadfiksie waarin skerp kritiek op die huidige regering uitgespreek word terwyl moeite gedoen word om te wys dat die roman nie oor apartheid handel nie.
3 Gewone mense se (gewone) lewensdramas word opgedis teen die agtergrond van ’n opwindende stad (meestal Johannesburg).
4 Historiese fiksie waarin ’n taamlik onbekende gebeurtenis uit die Suid- Afrikaanse verlede op só ’n manier vertel word dat dit kommentaar op hedendaagse probleme lewer.
5 Wetenskap- of toekomsfiksie waarin die toekomsvisie van Suid-Afrika gebruik word om kommentaar op die hede te lewer. Dit sou natuurlik onregverdig wees om te sê dat alle romans wat in hierdie patrone verval noodwendig vervelig is, of om te insinueer dat sulke romans sonder meer clichématig is. Maar dit is tóg opvallend hoe dikwels Suid-Afrikaanse romanskrywers skynbaar op hierdie patrone terugval.
Pat Stamatélos se nuutste roman, Aankoms en vertrek, val netjies in die eerste kategorie: Baily Kellerman het Suid- Afrika ná ’n liefdesteleurstelling verlaat. Sy trou in Londen met ’n Fransman – ’n huwelik wat nie uitwerk nie. Wanneer Baily se ouers in Suid-Afrika vermoor word, keer sy op haar broer se aandrang terug, maar eers maande ná die begrafnis. Geleidelik word die geheime rondom haar ouers se dood dan ontrafel en in die proses maak Baily deurslaggewende ontdekkings oor haarself. Sy moet haar eie probleem konfronteer en ’n ou liefde weer ontmoet ten einde geluk te vind.
Maar hier is geen gemaklike gelukkige einde nie, slegs die belofte daarvan. Stamatélos word veral onthou as die skrywer van Kroes (2005), die ontstemmende verhaal van ’n vrou wat tydens die apartheidsera haar as wit laat herklassifiseer, en vir Pastoor (2013) oor die aktuele onderwerp van godsdiensgroepe se invloed op individue. Sy het egter ook al gewys dat sy nie slegs oor sulke gewigtige temas kan skryf nie, maar dat sy gewoon baie snaaks kan wees, soos in My groot vet Griekse egskeiding.
Hoewel Stamatélos se Aankoms en vertrek nie ’n vernuwende verhaal of tema bied nie, bly sy ’n goeie storieverteller en die spesifieke manier waarop alles ontvou, is nogtans boeiend. Wat egter die sterkste punt van die roman is, is die karakters wat nie eenvoudige draers van die bekende verhaalpatroon is nie, maar met hul menslikheid en veelkantigheid deernis wek.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Boereverneukers en Onaantasbares
Mike Nicol is een van ons tyd se beste misdaadfiksieskrywers. (En ek het nie geskryf “een van Suid-Afrika se beste misdaadskrywers” nie – want sy wêreldwye reputasie getuig daarvan dat sy erkenning veel wyer strek as ons landsgrense.) Sy nuutste roman, Sleeper, kan ook nie in Mbao se tweede groep (patroonmatige misdaadfiksie waarin kritiek op die huidige regering uitgespreek word) ingedeel word nie, want sy werk kan glad nie van patroonmatigheid beskuldig word nie.
Die misdadige wêreld waaroor dit in Sleeper gaan, word veel wyer as die raaiselagtige moord op die minister van energie wat Fish Pescado moet ondersoek. Die Amerikaanse CIA is ook betrokke. En ISIS. Dit word veel meer as ’n misdaadverhaal, omdat dit ook ’n spioenasieroman is en die hoogs verwikkelde storielyne word boeiend en gesofistikeerd vervleg. Nicol is ’n meester van spanning en so anders as baie van die ander misdaadrillers wat die afgelope tyd in hierdie blad bespreek is, word sy werk gekenmerk deur genuanseerde denke en intelligente intriges.
In Sleeper snoer die branderplankryerprivaatspeurder, Fish Pescado en die oud-spioen-regsgeleerde, Vicky Kahn weer kragte saam. Sommige lesers sal hulle onthou uit Nicol se roman, Of Cops & Robbers, wat in Afrikaans vertaal is as Dieners & donners (2013). Hoewel Of Cops & Robbers baie suksesvol was, is die tweede Fish Pescado en Vicki Kahn-roman, Agents of the State, selfs nog beter ontvang. Soos al Nicol se romans het Sleeper ’n duidelik herkenbare Suid-Afrikaanse gevoel, maar die buitelandse ontvangs van Nicol se werk is ’n teken daarvan dat hy buite die patroonmatige misdaadfiksie werk.
Sy Revenge-trilogie (Payback, Killer Country en Black Heart) het almal die Duitse KrimiZeit se jaarlikse lys van die beste misdaadfiksie gehaal. En die Duitsers kén hulle “krimis”! Ook Of Cops & Robbers en Agents of the State het die Duitsers se toptienlys gehaal terwyl Payback ook in Nederland en Frankryk bekroon is. Nicol verras die leser op elke bladsy en bly onvoorspelbaar. Slaan ’n bladsy oor en jy is verlore. Die derde Fish en Vicki-misdaadriller is ook bestem om roem te haal, want dit is asof Nicol al beter word.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.