Willie Burger kyk onder meer na die memoires van Jennifer Friedman
Queen of the Free State het my aangenaam verras. Dit is besonder vermaaklike, prettige, droewige, meesleurende herinneringe oor Jennifer Friedman se grootwordjare in die 1950’s en 1960’s op ’n klein Vrystaatse dorpie.
Memoires word gewoonlik beskryf as ’n versameling persoonlike herinneringe wat iemand oor sy of haar eie lewe neerskryf. Hoewel die vorm van memoires ook soms in romans aangewend word, word van hulle verwag dat die herinneringe oor feitelike gebeurtenisse gaan, nie fiksie nie. Memoires verskil van ’n outobiografie in dié sin dat ’n outobiografie gewoonlik ’n hele lewensverhaal aanbied, terwyl memoires net sekere gebeurtenisse uit ’n lewe bevat; sommige herinneringe aan belangrike gebeurtenisse wat vir die skrywer van deurslaggewende betekenis in sy of haar lewe was.
Memoires het oor die afgelope paar dekades nogal in gewildheid toegeneem. Miskien het dit te make met die vinnige verandering in ons samelewing, dat mense, soos hulle ouer word, besef dat baie dinge, baie maniere van doen, besig is om verlore te gaan of vergete te raak en dan probeer hulle om dit vir die nageslag op te teken. In die Suid-Afrikaanse konteks is daar baie skrywers wat terugdink aan hul grootwordjare tydens apartheid en dikwels bevat herinneringe sekere deurslaggewende momente waarin die persoon vir die eerste keer besef dat apartheid bestaan, met die verlies aan onskuld wat daarmee gepaardgaan.
Queen of the Free State bevat die herinneringe van Jennifer Friedman, wat as die dogter van ’n Joodse apteker op ’n klein Vrystaatse dorpie grootgeword het. Haar maatjies is Afrikaners en sy gaan skool in die plaaslike Afrikaanse skool. Haar ouers is sekulêre Jode, maar word deur die gemeenskap met agterdog bejeën bloot omdat hulle Joods is, hoofsaaklik Engels praat en omdat haar ma aan UCT studeer het (en daarom as ’n Kommunis beskou word) en omdat hulle nie Christene is nie. Elke herinnering beslaan slegs ’n paar bladsye en al kan hulle elkeen as ’n klein skets of kortverhaal alleen staan, bou hulle saam ’n beeld van die grootwordjare op die platteland. Sommige herinneringe is hartroerend – soos wanneer ’n laerskoolmaatjie kanker kry en sterf.
Intense emosies word gesuggereer, dikwels uit ’n kind se beperkte begrip – ’n sterk punt van die boek as geheel. Die vervreemding van Joods-wees in ’n Afrikaanse gemeenskap, maar om terselfdertyd nie “Engels” of Joods genoeg te wees volgens haar ouers en hul vriende nie, word telkens op subtiele maniere belig. Ook die bewuswording van rasseverhoudings en die groter politieke gebeurtenisse se implikasies (Sharpeville, Verwoerd se dood) word treffend vanuit die kind se ervaringswêreld beskryf. Sentraal is die verhouding tussen die jong Jennifer en haar ouers – ’n pa wat nie skroom om straf uit te deel nie en in wie se oë sy nooit goed genoeg kan wees nie, en ’n ma wat soms emosioneel afwesig is.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Schalk Schoombie en Lloyd Zandberg se nuutste
Haar verhouding met Marta, die huishulp, is veel beter as met haar moeder. Hoewel sy dikwels ontuis voel tussen die Afrikaanssprekende, Christelike skoolvriende, is dit vir haar hartverskeurend om gedwing te word om in haar voorlaaste skooljaar na ’n Joodse skool in Kaapstad te gaan en om alles waarmee sy vertroud is, agter te laat. Dat memoires maklik in nostalgie verval, kan ’n mens verstaan. Dikwels het ’n mens terugskouend talle goeie herinneringe aan ’n jeug van koestering, aan ’n bekende omgewing, sorgvrye kaalvoetdae en lang somermiddae van speel en lag en ’n ma se goeie kos. Nostalgie kan gevaarlik word omdat dit dikwels nie herinneringe aan die werklikheid bied nie, maar aan ’n geïdealiseerde verlede.
Friedman se werk is ook nostalgies, maar die vertelwyse en ontblotende eerlikheid, veral ten opsigte van haar verhouding met haar ouers, voorkom dat die nostalgie in ’n verdraaiende en gemanipuleerde herinnering verval. Daar is so baie boeke vol nostalgiese herinneringe oor die vergange, plattelandse, Afrikaanse wêreld dat talle van die “standaardherinneringe” aan die dominee op huisbesoek, die rassistiese onderwyser en die rasseverhoudings al clichés geword het. Friedman se memoires ontsnap meestal aan daardie clichés, enersyds omdat die herinneringe uit ’n ander (Joodse) perspektief aangebied word en andersyds oor die vars manier waarop sy vertel.
Raakgesien FA Venter se historiese roman, Offerland, is deur Protea heruitgegee. Offerland het oorspronklik in 1963 as die tweede van Venter se vier romans oor die Groot Trek verskyn en het deur die jare talle herdrukke beleef. Die tetralogie is deur Geknelde land ingelui, waarin die lewe op die destydse “oosgrens” en die oorlog tussen die boere op die oosgrens van die Kaapkolonie en die Xhosas, saam met die druk van die Britse koloniale mag, tot intense spanning en geweld gelei het. Dié roman is gevolg deur Offerland, oor die wegtrek uit die grensgebied na KwaZulu-Natal, tot die dood van Piet Retief. Hierna het Gelofteland gevolg met die uiteindelike oorwinning in 1838 by Bloedrivier. Die laaste roman is Bedoelde land waarin die Britse besetting van Natal tot ’n verdere trek na vryheid anderkant die Vaalrivier lei.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.