Die feestyd word met talle mites en staaltjies verbind, skryf Carla van der Spuy
Kerskouse het sy oorsprong by drie arm oujongnooiens, Kersvader se beroemdste takbok se rooi neus is aan ’n parasitiese infeksie te wyte en spinnerakke is algemene Kersboomversierings in Pole. Dis maar ’n paar van die talle prettige feite rondom Kersfees. Die lekkerste omtrent Kersfees is dat dit verpligtend is – nes ’n donderstorm – en dat ons almal saam daardeur moet gaan, het Garrison Keillor, ’n Amerikaanse skrywer, gesê. Hier is ’n klompie prettige feite en mites rondom Kersfees. Neem sommiges maar eerder met ’n knippie sout.
Kersvader se takbokke
- Hoewel Kersvader se takbokke mansname soos Blitzer en Comet het, skud manlike takbokke hul horings rondom Kersfees af. Dus is die takbokke wat KERSVADER se slee trek waarskynlik vroulik of gekastreer.
- Volgens Noorweegse wetenskaplikes bestaan die hipotese dat Kersvader se takbok, Rudolph, se rooi neus die gevolg van ’n parasitiese infeksie van sy respiratoriese stelsel is.
Sinterklaas
- Sinterklaas is op ’n werklike mens gegrond, naamlik sint Nikolaas van Myra wat ook as Nikolaas die Wonderwerker bekendgestaan het. Hy word as die wêreld se bekendste nie-Bybelse heilige beskou en is meer dikwels as Maria uitgebeeld. Hy was in die ou dae eerder ’n simbool van strengheid as van vrolikheid.
- Ysland het 13 Sinterklase, wat een insluit wat kinders ontvoer. Hul Kersvaders sal óf geskenke vir kinders los óf poetse bak. Gryla is ’n nare ou vrou wat kinders op Kersdag ontvoer as hulle stout was.
Aanhalings oor kersvader
- Daar is drie fases van die mensdom; jy glo aan Kersvader, jy glo nie aan Kersvader nie; jy ís Kersvader – Bob Philips
- Ek het opgehou glo aan Kersvader toe my ma my in ’n winkel na hom toe geneem het en hy my vir my handtekening gevra het – Shirley Temple
- Jy weet jy raak oud as Kersvader begin jonk lyk – Robert Paul
Kersfeite
- Die Puriteine in Amerika het Kersfees as ’n dekadente Katolieke vakansiedag beskou en hulle het tussen 1659 en 1681 alle Kersvierings verbied, met ’n boete van vyf sjielings vir elke oortreding.
- X in “Xmas” is die Griekse simbool vir Christus.
- Daar is wetgewing in Engeland wat jou verplig om op Kersdag kerk toe te gaan. Hierdie wetgewing rakende heilige dae en vas bestaan steeds, maar word nie afgedwing nie.
- Na raming sing minstens 56% van Amerikaners vir hul troeteldiere in die Kerstyd. Dis dalk ’n vervullende ervaring aangesien die troeteldiere nie juis kan kla nie.
- LEES OOK: Kortverhaal: ’n Kersfeessandaal
- Ondanks die elektroniese era, is dit nog nie oudmodies om Kerskaartjies vir mense te stuur nie. Amerikaners stuur gemiddeld 28 Kerskaartjies aan vriende en familie en ontvang net soveel.
- Mense stap wel oor die feestyd kilometers verder as gewoonlik om Kersinkopies te doen, maar sit steeds gewig aan.
- Volgens ’n Facebook-opname verbreek die meeste paartjies hul verhoudings twee weke voor Kersfees, maar Kersdag self is die ongewildste dag om jou geliefde vaarwel toe te roep.
Kan jy dit glo?
- Hekse en bose geeste is die grootste besemdiewe. Die Noorweërs het eens geglo dat hierdie booswigte hul besems op Kersnag steel.
- Die gebruik om Kerskouse op te hang, het ontstaan toe drie ongetroude meisies hul wasgoed gewas het en dit teen die skoorsteen gehang het om droog te word. Hulle kon nie trou nie, want hulle het nie ’n bruidskat gehad nie en was toe tot ’n lewe van prostitusie verdoem. Die goeie sint Nikolaas het besef wat hul dilemma was en het tot hul redding gekom. Hy het by hul skoorsteen afgekruip en goue munte in elkeen se kous geplaas. Die meisies het dit die volgende dag ontdek en hulle is toe almal getroud.
Geskenke
- Volgens ’n ondersoek gee sewe uit tien Britse honed-eienaars vir hul honde Kersgeskenke .
- Die Franse het die grootste Kersgeskenk nog in 1886 gegee . Dit was die Vryheidsbeeld wat hulle vir Amerika gegee het.
- Op ’n ligter noot – enigeen wat glo dat mans vroue se gelyke is, het nog nie gesien hoe ’n man ’n Kersgeskenk probeer toedraai nie. – Anon iem
Kersfeeswêreldrekords
- Die grootste getal Kersvaders het op 14 Desember 2008 by Porto in Portugal, voorgekom toe 14 200 mense soos Kersvader geklee geld vir liefdadigheid ingesamel het en die wêreldrekord vir die grootste versameling Kersvaders opgestel het. Elke “Kersvader” wat deelgeneem het, het een euro vir behoeftige kinders in Porto bygedra.
- Die grootste groep Kerssangers het op 25 Desember 2010 by die Hong Myung Bo-stigting in Seoel, Suid-Korea, opgetree. 15 111 sangers het deelgeneem.
- Die wêreld se langste Kersklapper was 63,1 m lank en 4 m in omtrek en is in 2001 deur ouers van die Ley Hill-skool en -kleuterskool in Buckinghamshire, Engeland, gemaak.
- Die wêreld se hoogste Kersboom was ’n Douglas-denneboom van 67,36 m en het in 1950 by die Northgate-winkelsentrum in Seattle, Washington, gepryk.
Kos
- Die tradisionele Kersete in Engeland was vroeër ’n varkkop wat met mosterdsous voorberei is. Daar is seker baie Britte wat verheug is dat dit nie meer die geval is nie.
- LEES OOK: Kersfeestradisies en -gebruike
- Bak jou brood op Kersnag en dit sal altyd vars bly, lui ’n ouvroustorie.
- Kerspasteitjies het teëspoed beteken as dit met ’n mes gesny is en jy dit op enige ander tyd as tussen Kersfees en die Twaalfde Nag geniet het.
- Pasop vir die Kersmaal se oorskietkos. As jy dit nie vinnig genoeg verslind nie, sal jy boet. Duisende Amerikaners het glo al ná Kersfees maagaandoenings gehad.
Kersboom en versierings
- Martin Luther was glo die eerste mens wat ’n Kersboom versier het. Hy was glo so beïndruk met die sterre wat deur die sipresse geskyn het, dat hy die Kersboom huis toe gebring en dit met kerse versier het om die beeld met sy kinders te deel. Die eerste nagemaakte Kersboom is uit gansvere vervaardig.
- Kersbome word sedert 1850 in Amerika verkoop.
- Ongeveer 30 tot 35 miljoen regte Kersbome word jaarliks in Amerika verkoop.
- In Pole is spinnekoppe of spinnerakke algemene Kersboomversierings, want volgens ’n legende het ’n spinnekop ’n kombersie die baba Jesus geweef. Die Pole beskou spinnekoppe as ’n simbool van goedheid.
- Die eerste Kersversierings was appels.
- Daar hang 269 Kerskranse in die Withuis.