Willie Burger kyk na van die werke van Kazuo Ishiguro, Nobelpryswenner van 2017
Kazuo Ishiguro het hierdie jaar die Nobelprys vir letterkunde ontvang. Dalk was die verligting so groot dat die Nobelprys weer aan ‘n gevestigde romanskrywer gegaan het en nie soos verlede jaar aan ‘n liedjieskrywer nie, dat daar weinig gekla is oor die toekenning aan Ishiguro.
Ishiguro het die prys vir sy oeuvre ontvang, eerder as vir ‘n spesifieke roman. Elk van sy agt romans is met die een of ander prys bekroon. The Remains of the Day (1989) is destyds met die Bookerprys bekroon, terwyl When we were Orphans (2002) en Never Let Me Go (2003) ook op die kortlys vir die Bookerprys was.
The Remains of the Day en Never Let Me Go word deur die meeste lesers as sy indrukwekkendste romans beskou en albei is ook verfilm.
Ishiguro is in 1954 in Japan gebore, maar sy ouers het toe hy vyf jaar oud was na Engeland verhuis en hy het ‘n Britse skrywer geword.
In The Remains of The Day, dink ‘n ou Britse hoofbediende (butler), Stevens, terug aan die dae voor die Tweede Wêreldoorlog toe hy in die diens van lord Darlington was. Stevens was absoluut toegewyd aan sy taak om onder alle omstandighede waardig, met respek en integriteit sy meester te dien. Hierdie toewyding aan sy rol as hoofbediende het daartoe gelei dat hy nooit sy eie emosies gewys het nie – nie toe sy pa gesterf het of toe hy op een van die ander bediendes verlief was nie.
Die roman bestaan uit Stevens se herinneringe. Hy kyk in die hede (1980’s) as ou man terug na die vooroorlogse jare, met die doel om ‘n beeld van ‘n ideale hoofbediende voor te hou. Dit skemer geleidelik deur dat al sy herinnerings nie so betroubaar is nie; dat hy hulle plooi om sy voormalige baas in so ‘n positiewe lig as moontlik te stel (ten spyte van dié se twyfelagtige politieke beskouings), en om sy waardigheid as hoofbediende te behou. ‘n Mens word egter geleidelik bewus van die prys wat hy moes betaal en die negatiewe impak wat sy toewyding aan die identiteit wat hy gekies het, hom gekos het.
LEES OOK: Ken jou storie: Die waarde van lees
Een van die opvallende kenmerke van Ishiguro as skrywer is dat elke roman heeltemal van die ander verskil. Terwyl The Remains of the Day byna as historiese fiksie beskou kan word, sluit Never Let Me Go by wetenskapsfiksie aan. Die leser kry aanvanklik die indruk dat dit ‘n roman oor skoolkinders in ‘n kosskool is, maar geleidelik raak ‘n mens daarvan bewus dat hierdie leerlinge klone is, wat deur die Britse regering gemaak is en aan die lewe gehou word ter wille daarvan om hulle organe te oes wanneer regte mense dit nodig kry. Gevolglik is hulle lewensverwagting kort.
Die roman is skokkend – enersyds oor die onthulling dat die hoofkarakters slegs eksperimenteel soos gewone mense aan die lewe gehou word tot hul organe vir regte mense nodig is, maar andersyds oor die manier waarop vertel word. Die gewoonheid van die klone se alledaagse lewens en die gelatenheid waarmee hulle hul lot aanvaar, laat die leser baie ongemaklik voel oor die skrikwekkende vergrype. Uiteindelik besef ‘n mens egter dat ons lewens nie veel anders is as die lot van die klone nie. Die roman word ‘n boeiende manier om na ons lewens en dood te kyk.
Ek het The Buried Giant nou pas eers, nadat die Nobelprys aan Ishiguro toegeken is, gelees. Ishiguro verras weer met ‘n roman wat hierdie keer by die populêre fantasie-genre aansluit. Dit speel in die newels van die verlede (6de of 7de eeu) in Brittanje af, ná die dood van die legendariese koning Arthur. Die Britte en Sakse leef in vrede met mekaar in naburige dorpies regoor die land, maar dit blyk dat dié vrede teen ‘n prys gekom het: Nadat Arthur die Sakse die versekering gegee het dat hulle slegs teen die soldate sal veg, het sy leër Saksiese vroue en kinders op groot skaal uitgewis. Ten einde wraak en weerwraak te voorkom, het die towenaar, Merlin, ‘n draak gegoël sodat haar asem al die mense in die land se geheue uitwis.
Die hoofkarakters is ‘n ou man en vrou wat in besondere teerheid en liefde teenoor mekaar optree, maar wat weens die draak se asem nie veel van hul lewens saam kan onthou nie. Hulle neem aan dat hulle goeie herinneringe behoort te hê, aangesien hulle so lief is vir mekaar, maar omdat vae herinneringe hulle soms pla, onderneem hulle ‘n reis op soek na hul seun en in ‘n poging om die oorsprong van die geheueverlies te ontdek. In die proses ontmoet hulle een van Arthur se ou ridders (wat baie aan Don Quijote herinner) en ‘n sterk Saksiese vegter wat van plan is om die draak te verslaan, sodat die Saksers die onreg kan onthou en wraak pleeg.
Ek het slegs hierdie drie romans van Ishiguro gelees, maar hulle is al drie emosioneel roerend, filosofies boeiend en op uiteenlopende maniere meesterlik vertel.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.