Willie Burger kyk na teenoorstaande beginsels – die plesier- en realiteitsbeginsel in letterkunde
“Hoekom is al die ‘letterkundeboeke’ wat vir ons voorgeskryf word so donker en ongelukkig?” wil een van my studente weet. “Hoekom kan ons nie meer positiewe en vrolike boeke lees nie?”
Geen eenvoudige antwoord op hierdie vraag is moontlik nie. Miskien kan ’n mens die vraag probeer beantwoord deur na twee begrippe uit die sielkunde van Sigmund Freud te verwys. Freud het aangevoer dat ’n mens deur twee teenoorstaande beginsels gedryf word: die “plesierbeginsel” en die “realiteitsbeginsel”. Die plesierbeginsel is ons instinktiewe soeke na plesier en die vermyding van pyn. Ons wil graag onmiddellik al ons behoeftes bevredig (as ek honger is wil ek eet, as ek dors het, water drink en as ek te warm kry, my warm klere uittrek). Ons ontwikkel egter ook die vermoë om die beperkings van die werklikheid waarin ons onsself bevind in ag te neem, en besef dat alle behoeftes nie onmiddellik bevredig kan word nie.
Freud noem hierdie besef die “realiteitsbeginsel”. Die realiteitsbeginsel tem as ’t ware die plesierbeginsel. Jy mag lus wees om jou seksuele behoefte dadelik met die eerste persoon wat verbyloop te bevredig, maar die realiteitsbeginsel tem hierdie behoefte wanneer jy besef dat die eerste persoon wat hier verbyloop jou dalk van seksuele teistering kan aankla of dat seksdade in die openbaar onaanvaarbaar is. Ook literêre fiksie is tot ’n mate aan die botsing tussen die plesierbeginsel en die realiteitsbeginsel uitgelewer. Fantasieë, sprokies, mites en legendes is soos die talle liefdesverhale, misdaadrillers en avontuurverhale eintlik in diens van die plesierbeginsel. Hulle verskaf aan die leser behoeftebevrediging deur ’n wêreld te bied waarin alles goed uitwerk, waarin daar samehang is en waarin boosheid oorwin word, sodat die karakters se lewens sinvol eindig.
LEES OOK:Ken jou storie; Wat het die outeur bedoel?
Ons weet egter uit ervaring dat die lewe nie altyd goed uitwerk nie. Baie “goeie mense” gaan ten gronde terwyl talle booswigte oënskynlik floreer. Ons ervaar dikwels pyn en lyding wat geen sin maak nie. Wanneer ons dus om hierdie redes krities begin kyk na verhale wat slegs deur die plesierbeginsel gedryf word, wanneer ons toegee aan die realiteitsbeginsel, begin ons hierdie wensvervullende fantasieë as “onrealisties” ervaar. Die meeste lesers vind hierdie soort fantasieë wat glad nie met die werklikheid rekening hou nie, op die duur onbevredigend. Die realiteitsbeginsel begin teen die plesierbeginsel werk. Wanneer die speurder die skurk te maklik vastrek, of as die heldin van die liefdesverhaal sonder enige teenspoed sommer dadelik haar ewige liefde vind, ervaar die leser die verhale as onbevredigend.
Die invloed van die realiteitsbeginsel lei daartoe dat die held of heldin darem eers moet sukkel. Nietemin oorheers die plesierbeginsel uiteindelik, want die leser se wense oor hoe die wêreld moet wees – dat die ware liefde moet oorwin en dat die goeie uiteindelik die bose moet oorwin sodat die lewe sinvol kan wees – word vervul, ten spyte van teenspoed wat die verhaal meer realisties maak. Hierteenoor is daar verhale wat nie eerstens op wensvervulling gerig is nie, maar op pogings om die werklikheid te ondersoek. Hierdie verhale word eerder deur die realiteitsbeginsel oorheers.
LEES OOK: Ken jou storie: Die dood en die letterkunde
In die moderne era word die idee dat die wêreld noodwendig sin moet maak, dat alles in die lewe op ’n goeie einde afstuur, dikwels bevraagteken. Daarom kan romans ook nie op geloofwaardige manier te maklike antwoorde op die probleme van die werklikheid bied nie. Die skrywer is bewus daarvan dat ’n te maklike wensvervulling inbreuk maak op die realiteit. Ons realiteitservaring wys ons dat alle verhoudings nie voor die kansel eindig nie, dat al die moordenaars nie agter tralies beland nie en dat al die bedreigings nie afgeweer word nie. Om dus elke boek met ’n huwelik te eindig, met ’n skurk in boeie en ’n verslane draak, is ongeloofwaardig. Ons glo nie sulke boeke nie. Sprokies en fantasieë eindig dalk nog op hierdie manier.
Ook Victoriaanse romans eindig dikwels met huwelike. Die ouer Afrikaanse plaasromans eindig meestal met ’n goeie reënbui ná die droogte, ’n huwelik of die geboorte van ’n kind. In die moderne era (in Afrikaanse letterkunde sedert die 1960’s) lyk hierdie soort slotte nie meer oortuigend nie. Natuurlik is daar steeds fantasieë – want mense wil steeds hul wense vervul. Die diepste wens is waarskynlik dat hul eie lewe sinvol moet wees. Daarom gee baie mense hulle daagliks oor aan die fantasieë wat samehang, sin en oplossings vir alles bied. En daarom verkoop liefdesverhale soos soetkoek en is misdaadfiksie en fantasie die topverkopergenres. Lesers wat ’n behoefte daaraan het dat nie slegs hul wense vervul moet word deur die fiksie wat hulle lees nie, maar dat die fiksie vrae oor die werklikheid moet vra en moontlike antwoorde op daardie vrae moet ondersoek, verwag meer as wensvervullende fantasieë. Hierdie lesers se verwagtings word deur die realiteitsbeginsel oorheers. Hulle sal nie geredelik deur fantasieë bevredig word nie omdat dit hulle slegs uit die werklikheid laat ontsnap en nie bemoeienis maak met die werklikheid nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.