Willie Burger kyk hoe ’n boek geresenseer word
Een van die eerste dinge wat ons doen nadat ons ’n boek gelees het, is om vir ander van die interessante boek te vertel, en hoekom hulle dit ook behoort te lees. Of jy vertel vir ander om nie die boek te lees nie omdat dit so vreeslik vervelig of vol foute is.
Hierdie menings is eintlik ’n vorm van “literêre kritiek”, en dit is wat resensente ook maar doen. Soos in ’n vorige rubriek hier geskryf is, lê die verskil daarin dat resensente veronderstel is om nie bloot subjektief aan hul eie smaak en voorkeure uiting te gee nie, maar om eerder die boek sorgvuldig binne ’n wyer konteks te beskryf en te interpreteer en dan enige uitsprake op grond daarvan te maak. Enige interpretasie, ook dié van ’n resensent, is natuurlik subjektief, maar resensente se interpretasies en waarde-oordele behoort op grond van logiese argumentering gemaak te word. Waarde-oordele het byna altyd ’n vergelykende komponent, met ander woorde die spesifieke teks word in ’n verhouding tot iets anders geplaas en daaraan “gemeet”.
1 Argumente wat die boek aa n die “werklikheid” meet ’n Mens hoor en sien dikwels opmerkings soos: “Die boek is so realisties”, “Dit is presies soos die wêreld is” of “Dit is nie hoe mense werklik optree nie” of “Ons land/mense is nie regtig só nie”. Hierdie oordele berus op die argument dat ’n literêre teks die werklikheid moet afspieël. Dit is ’n baie ou argument en natuurlik hang die argument ook af van die “werklikheid” waarmee die boek vergelyk word – dikwels hou mense ’n ideale werklikheid voor en wil hê die boek moet hierdie ideale werklikheid weerspieël (soos dat Afrikaanse mense almal Christelik en welvoeglik leef – en as hulle dalk armoedig of goddeloos voorgestel word, is die boek dus swak). Naas die “afspieëlingsargument” word soms ook ’n “betrokkenheidsargument” gevoer: die boek is goed omdat dit so by die sosiale, politieke, ekologiese of ander situasies van die dag betrokke is. Die boek werp lig op hierdie werklikheid. Hieragter skuil dikwels morele redenasies: die boek word dikwels as goed geag wanneer dit by die resensent se morele waardes (of opvattings oor die werklikheid) aansluit en swak as dit daarvan verskil.
2 Argumente wat die boek met die outeur vergelyk ’n Mens sien soms dat iemand ’n boek aanprys omdat dit so ’n “eerlike” indruk maak, omdat die outeur sy ervaring so goed uitgedruk het, of dat die skrywer (volgens die resensent) sy doel bereik het. Die “suksesvolheid” van ’n boek word ook soms gemeet aan die outeur se eie uitlatings oor wat ’n goeie boek behoort te wees.
3 Argumente wat die boek met die leser vergelyk Baie argumente fokus op die effek van die teks op die leser. Hierby geld die idee dat ’n sterk emosionele reaksie positief is. Die frases in ’n resensie wat hierdie argumente gewoonlik aandui, is byvoorbeeld opmerkings dat die werk “boeiend”, “roerend”, “hartverskeurend” of “ontstellend” is, of dat dit die leser “koud laat”. Benewens die emosionele argumente is daar ook soms identifiseringsargumente: die boek is goed as die leser met die karakters of omstandighede kan identifiseer. Ook didaktiese argumente vergelyk die boek met die lesers – die boek is leersaam; bied vir die leser baie inligting of idees.
LEES OOK: Ken jou storie: Literêre kritiek (Deel 1)
4 Argumente wat die boek met ander boeke vergelyk Hierdie argumente is dikwels daarop gerig om die waarde van die spesifieke werk te bepaal deur dit relatief teenoor ander werke te plaas. Hierdie vergelyking vind soms binne die oeuvre van een outeur (dit is sy beste boek) of binne ’n genre (’n uitstekende liefdesverhaal) plaas. Soms word tekste ook met ander vergelyk ten einde hul oorspronklikheid aan te toon: hierdie spesifieke werk herhaal al die clichés, voeg niks nuuts toe nie, of bring juis vernuwende tegnieke of insigte teweeg. Hoewel sommige aanvoer (veral in die 20ste eeu) dat vernuwing noodsaaklik is, kry ’n mens soms ook die teenoorgestelde argument, naamlik dat ’n bepaalde teks so goed is omdat dit by die tradisie aansluit. Soms neem laasgenoemde argumente die vorm aan dat daar iewers byna ’n soort ideale werk bestaan en dan word elke werk daarmee vergelyk – hoedat dit tekortskiet of aan daardie vereistes van die ideale kunswerk voldoen.
5 Argumente wat die boek “aa n homself” meet Argumente wat die teks juis nie met iets buite die teks vergelyk nie, maar met die teks self, laat die fokus op die “eenheid” van die teks val en wys gewoonlik daarop dat alles in die teks naatloos tot ’n geheel saamvoeg, dat elke element (van klank en taal tot tegnieke en inhoud) geïntegreer is. Hoewel ’n mens skerp kritiek kan uitspreek op die uitgangspunte waarop talle van hierdie argumente berus, en hoewel sekere van hierdie argumente in bepaalde tye oorheersend was, is dit ook so dat sommige van die mees bevredigende resensies ’n wye verskeidenheid van hierdie argumente benut, eerder as om slegs op enkeles daarvan te fokus.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.