Willie Burger kyk na die interpretasie van literêre werke
Die interpretasies wat ons van literêre werke maak en die waarde-oordele wat ons daaroor uitspreek, hang altyd af van ons eie (dikwels onbewuste) opvattings van wat letterkunde is of behoort te wees. Oor wat sulke opvattings kan wees en hoe dit ons interpretasies bepaal, het ek reeds in twee vorige aflewerings geskryf (3 November 2017 – https://www.vrouekeur. co.za/nuus-vermaak/lliterere-kritiek en 1 Desember 2017 – https://www.vrouekeur. co.za/nuus-vermaak/ken-jou-storie-literere- kritiek-deel-2).
Omdat literatuurbeskouings oor tyd heen verander en omdat letterkunde nie los van die wêreldgebeure ontstaan en gelees word nie, verskuif die maniere waarop letterkunde beoordeel word ook oor die tyd heen. Wat die Afrikaanse literatuurkritiek betref, kan daar op grond van baie growwe veralgemenings ten minste vier groot verskuiwings onderskei word. Hierdie week kyk ek na die eerste “fase” wat ek die fase van “nasionalistiese kritiek” noem. Die “nasionalistiese fase” in die Afrikaanse literatuurkritiek strek van die vroegste besprekings in publikasies soos Die Patriot en Ons Kleintjie uit die laat 19de eeu tot min of meer die 1930’s.
In hierdie vroeë stadium van die Afrikaanse letterkunde is mense aangemoedig om as ’n politieke daad in Afrikaans te skryf. Bloot om in Afrikaans te skryf, was ’n uitdrukking van ’n politieke wil om ’n onafhanklike, nie-Nederlandse en nie-Engelse identiteit te vestig. In hierdie omstandighede is byna elke skryfpoging aangemoedig, want dit het bygedra tot die gevoel van ’n eie volk met ’n eie taal en ’n eie letterkunde as merkers daarvan. Die tegniese aspekte van skryfwerk het veel minder aandag ontvang. Afrikaanse gediggies en verhale moes egter nie slegs in die Afrikaanse taal geskryf wees nie; dit moes ook, om dieselfde politieke redes, die “(wit) Afrikaanse wêreld” weerspieël.
Een van die onderliggende eise wat dus aan Afrikaanse skryfwerk (“letterkunde”) gestel is, is die sogenaamde “afspieëlingseis”, naamlik dat dit ’n uitdrukking van die Afrikaanse leefwêreld moet wees. Hoe beter hierdie Afrikaanse wêreld en Afrikaanse ervaring daarvan uitgedruk word, hoe beter is die teks. Die probleem is dat die idee van wat hierdie “Afrikaanse werklikheid” sou wees, iemand se idee daaroor was. Die “Afrikaanse werklikheid” bestaan immers nie iewers soos ’n klip in die Paarl nie, dit is ’n ideale beeld wat deur sommige mense uitgedink en opgebou is en wat byvoorbeeld insluit dat Afrikaners Christene is (spesifiek protestants, tog net nie katoliek nie en beslis nie agnosties of ateïsties nie!) of dat ’n Afrikaner aan die grond verbonde moet wees, “boer” moet wees.
LEES OOK: Ken jou storie: Literêre kritiek (Deel 2)
Literêre uitdrukkings is dan aan hierdie ideale beeld gemeet – hoe meer die literêre werk hierdie “ideale Afrikaanse wêreld” uitbeeld, hoe beter is dit. Indien dit nie hierdie “werklikheid” weerspieël nie, is dit maklik as “leuens” en dus as minderwaardig, selfs as “volksvreemd” beskou. Hierdie soort kritiek word “nasionalistiese kritiek” genoem, omdat die literêre tekste aan ’n spesifieke idee van die “nasie” moes voldoen en omdat van die letterkunde verwag word om in diens van die nasie te staan.
Literêre tekste wat nie aan die nasionalistiese eis voldoen nie, is ondermynend, volksvreemd en behoort verwerp te word. Agter hierdie eis lê dus die idee dat letterkunde ter wille van die nasionalistiese ideaal bestaan; dat letterkunde ’n uitdrukking van die “volksgees” moet wees. So ’n nasionalistiese opvatting was nie ’n unieke opvatting wat in ’n vakuum onder nasionalistiese Afrikaners ontstaan het nie. Gedurende die 19de eeu, met die opkoms van ’n sterk nasionalistiese bewussyn onder Europese lande, het talle literatuurgeskiedenisse in die verskillende lande ontstaan. In elke land (taal) se literatuurgeskiedenis is die ontwikkeling van die letterkunde in daardie land en taal beskryf as ’n ontwikkeling van die volksgees, ’n veredeling daarvan, ’n bewys van die hoë kulturele prestasies waartoe die spesifieke volk in staat is.
Veral ná die Anglo-Boereoorlog het die opbloeiende Afrikaner-nasionalistiese strewe ’n sterk rol gespeel om Afrikaans as amptelike taal te laat erken en om onafhanklik van Britse oorheersing te wees. Daarom het ’n nasionalistiese literatuuropvatting ook ’n lang ruk ’n groot rol in Afrikaans gespeel nadat dit in baie ander lande al afgeneem het. Talle Afrikaanse skrywers was die slagoffers van hierdie soort kritiek. Toon van den Heever moes byvoorbeeld hieronder deurloop omdat sommige van sy gedigte nie blindelings die idee van ’n Afrikanervolk opgehemel het nie (soos in sy gedig “Die beeld van oom Paul” waarin staan: “Hy peins oor jongestorwe hoop, die waan van volkwees …”).
Soos hierbo gesê, is hierdie eerste “fase” van Afrikaanse literatuurkritiek op ’n growwe veralgemening gegrond. Daar was natuurlik ook ander kritiese opmerkings oor Afrikaanse werke in hierdie vroeë jare, maar die nasionalistiese eis was oorheersend. Dit het ook nie sonder meer in die 1930’s tot ’n einde gekom nie, maar elemente hiervan kom selfs nou nog voor. In die 1960’s is die werk van die Sestigers (onder meer André Brink, Etienne Leroux, Breyten Breytenbach) dikwels as “volksvreemd” afgemaak en in die 1970’s het selfs ’n vooraanstaande kritikus soos TT Cloete aangevoer dat Brink se werk onaanvaarbaar is omdat dit Christelike waardes sou ondermyn!
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.