Willie Burger vertel meer van boeke uit Europa
Boekeblaaie soos hierdie fokus meestal op die jongste publikasies. Boeke wat pas verskyn het, word bekendgestel en soms ’n bietjie breedvoeriger bespreek, maar aan ouer werk word selde aandag gegee. Ek het verskeie versoeke ontvang van mense wat vra dat ek bietjie raad moet gee oor watter “klassieke” werke hulle behoort te lees.
Eintlik is dit ’n onbegonne taak om lysies van boeke op te stel wat belangrik is om te lees. Sulke lyste word deur mense met ’n spesifieke beskouing en smaak saamgestel. Boonop het selfs mense wat ontsettend baie lees maar ’n fraksie van al die boeke in die wêreld gelees en hulle kan eintlik maar net uit daardie klompie boeke wat hulle ken, volgens hul eie smaak, aanbevelings maak. Verder is elke leser beperk tot die literatuur waartoe hy of sy toegang het. Ek kan nie reg laat geskied aan die ryk Chinese of Indiese literatuur waarvan die meeste nie eens vertaal is nie. Wanneer mens boeke in vertaling lees, buite die konteks waarin hulle oorspronklik verskyn het, staan daardie boeke ook nie op gelyke voet met dié waarvan mens die taal en die konteks goed verstaan nie.
Eietydse literatuur staan altyd in ’n tradisie. Hulle maak van bekende vorms en konvensies gebruik. Omdat ons daaraan gewoond is, verstaan ons nuwe boeke makliker. Enige afwykings van die konvensionele vorms en patrone is vir ons opvallend en word betekenisvol. Hoe beter mens die tradisie en konvensies ken en verstaan, hoe ryker word jou leeservaring. Hierdie week noem ek net enkele van die belangrike romans uit Europa. Volgende week sal ek ’n klompie tekste uit Afrika bespreek en in latere weke ook na invloedryke tekste uit ander dele van die wêreld.
Miguel de Cervantes se Don Quixote word dikwels as die eerste moderne roman beskou en ek dink dit is oor en oor die moeite werd om dié voorganger van baie romans te lees. Daar bestaan ’n verkorte weergawe in Afrikaans wat in die sestigerjare deur André Brink vertaal is. Lees dit gerus, maar dit is tóg ook die moeite werd om ’n volledige vertaling te lees. Die 19de eeu was die goue era van die Europese realisme. Geweldig baie van die konvensies van realisme wat ons vandag as vanselfsprekend aanvaar, is in hierdie eeu gevestig. Hierin was skrywers soos Gustave Flaubert belangrik.
Lees tog ’n keer Madame Bovary. Ander Franse skrywers uit die 19de eeu wie se romans baie tot die vestiging van realistiese konvensies bygedra het – ook van spanning- en avontuurverhale – is Alexandre Dumas en Victor Hugo se romans. Stel jouself ’n keer bloot aan die oorspronklike Die drie musketiers (nie Brakanjan nie!) of The Count of Monte Christo en The Hunchback of Notre Dame in plaas van die Disney-weergawes. Uit die Engelse literatuur van die 19de eeu is dit belangrik om Jane Austen te lees. Moenie dink dat jy die filmweergawes van Pride and Prejudice of Sense and Sensibility gesien het en nie die boeke hoef te lees nie. Twee van die Brontë-susters se Jane Eyre en Wuthering Heights is eweneens boeke wat baie mense slegs uit rolprentweergawes ken, maar dit sal jou loon om hulle te lees.
Mens kan ook te maklik dink dat jy Charles Dickens se werk op grond van musiekblyspele ken, maar dit is belangrik om ten minste iets soos Great Expectations of Hard Times te lees. Die groot Russe van die 19de eeu, Tolstoi en Dostojefski, behoort ook op elkeen se leeslys te wees. Tolstoy se War and Peace en Anna Karenina is seker die bekendstes, maar as hulle te dik vir jou is, kan jy ook van sy korter werk lees. Ook Dostojefski se bekendste werke soos Crime and Punishment en The Brothers Karamazov is baie omvangryk, maar lees gerus die novelle Notes from the Underground.
Die 20ste eeuse modernistiese skrywers uit Europa het ook ’n groot invloed op die Afrikaanse letterkunde gehad. Hulle breek met die konvensies van die realistiese romans van die vorige eeu en daarom verg hulle meer moeite om te lees. Probeer om enigiets van Franz Kafka te lees, dalk Die Kasteel of Die verhoor. Almal weet hulle behoort James Joyce se Ulysses te lees. Ek ken egter min mense wat dit regtig deurgelees het.
Virginia Woolf se werk is veel toegankliker. Marcel Proust word as baie belangrik beskou, maar daar is seker weinig mense wat al die hele Op soek na verlore tyd gelees het. Probeer net om ten minste om die eerste deel (Swann’s Way) te lees. Oor die na-oorlogse Europa is dit belangrik om Günter Grass te lees – The Tin Drum is ’n meesterwerk. Die Franse eksistensialiste het ’n groot invloed op Afrikaanse skrywers gehad. Camus se Die pes is in Afrikaans beskikbaar.
Oor voortgesette worsteling met bestaan en ook verset teen outokrasie is Milan Kundera se werk insiggewend. As jy nog niks van hom gelees het nie, begin by The Unbearable Lightness of Being of The Book of Laughter and Forgetting. Dis ’n onreg teenoor talle ander skrywers (Thomas Mann, WG Sebald, Christa Wolf, Jaroslav Hasek, Gombrowicz, Elena Ferrante …) wat ek nie genoem het nie. Hierdie lysie is maar net ’n beginpunt.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.