Willie Burger kyk na naïewe en politiek korrekte literatuurkritiek
In John Miles se pryswennerroman, Op ’n dag ’n hond, besoek die hoofkarakter, ’n onderwyser, ’n boekwinkel. Die eienaar van die boekwinkel stel hom voor aan “die literator TC Malan”.
Reeds met die beskrywing van TC Malan as “die literator”, skyn iets van ’n spottende toon deur, veral omdat die sin waarin Malan as literator beskryf word, soos volg lees: “Montalbán vertroetel elke klant en stel die onderwyser voor aan ander boekliefhebbers soos ook aan die literator TC Malan wat sy teenwoordigheid sedertdien met ’n kort knik erken, kennelik is ’n vinnige blik voldoende om van gewone lesers kennis te neem.”
Deur die woord “literator” te gebruik, word Malan duidelik onderskei van “gewone lesers”, soos die onderwyser. Die woord “literator” kry in hierdie verband iets van ’n selfingenome en vername konnotasie. Kort ná die ontmoeting lees die onderwyser twee resensies deur Malan: “Van hom sou die onderwyser kort daarna twee resensies van nuwe romans lees, in albei gee hy ellelange uiteensettings van die rasen gender-houdings by die karakters om dit met sy selfopgestelde beeld van die nasionale psige te vergelyk en so afwykings op ’n persentasieskaal af te merk.” Dikwels word gewys op hierdie verwydering tussen “literatore” en “gewone lesers”. Soms kla lesers oor literatore se resensies wat volgens hulle net vir akademici geskryf word, en nie vir die “gewone lesers” nie. (Wat presies met “gewone lesers” bedoel word, is natuurlik weer ’n ander vraag.) Die soort resensies waaroor gekla word, is juis resensies soos hierdie deur TC Malan. Die kritiek teen hierdie soort resensies sal ook vir talle akademiese artikels en vir kursusse in letterkunde geld.
Oor die afgelope klompie dekades het die idee van literêre kritiek as “kritiese denke” baie sterk in literêre kringe geword. Hiervolgens is die taak van literêre kritiek (en dus van literatore soos TC Malan) om literêre tekste baie agterdogtig te benader. Literêre werke word versigtig ondersoek vir enige tekens van hoedat die bestaande sosiale kragte op verdoeselde maniere daarin aan die werk is. Die literêre werke word dan gekritiseer vir die wyse waarop hulle met die onderdrukkende magte in die gemeenskap saamwerk. TC Malan se resensies (waarvan ons slegs die spottende beskrywings deur die onderwyser het), is voorbeelde hiervan: hierin word die karakters in romans se houdings oor ras en oor gender beskryf en dan word hierdie houdings gemeet aan ’n “selfopgestelde beeld van die nasionale psige”.
Dit is dus die soort resensies waarin gewys word hoedat die romans wat bespreek word, eintlik net die bestaande houdings oor ras of gender in die gemeenskap versterk, byvoorbeeld: liefdesromans bevestig heteroseksuele geslagsrolle omdat daar geen gay karakters daarin voorkom nie, of die afwesigheid van swart karakters in ’n roman dui op rassisme. Hierdie soort kritiek gaan van die standpunt uit dat elke literêre werk eintlik iets wegsteek, dat sekere houdings en opvattings wat op verdoeselde wyse in die samelewing voorkom, ook in die literêre teks verhul is. Daarom is dit die taak van die kritikus om soos ’n speurder deur die teks te werk ten einde bloot te lê hoedat die spesifieke literêre teks aandadig is aan die instandhouding van hierdie verdoeselde houdings en opvattings.
Die kritikus as speurder is eintlik besig om ’n misdaad op te los. Die Amerikaanse letterkundige, Rita Felski, wys daarop dat die literêre werk deur die “speurder”-literator by voorbaat as óf die skuldige, óf die handlanger by ’n misdaad beskou word. Om soos ’n speurder te soek na tekens van uitsluiting en onderdrukking in elke literêre werk, kan nogal pret wees. Boonop kan hierdie soort agterdogtige ondersoeke baie insiggewend wees en dikwels lesers help om bewus te word van aspekte van die samelewing waaraan hulle nog nooit gedink het nie. Maar die soort ondersoeke kan ook – veral in die hande van minder bedrewe kritici (soos TC Malan) – erg vervelig word wanneer niks nuuts oor enige literêre werk gesê word nie, maar net weer aangedui word dat daar vooroordele en stereotipes oor klas, ras, geslag of godsdiens bestaan en dat sekere groepe uitgesluit word.
’n Kritikus wat egter nie op so ’n agterdogtige wyse na literêre tekste kyk as misdadigers of handlangers van misdadigers nie, word maklik as naïef beskou. Só ’n kritikus werk dan eintlik saam met die onderdrukkende politieke magte omdat die gevare van uitsluiting en onderdrukking nie aangetoon word nie. Die uitdaging vir kritici, vir dosente, studente en uiteindelik vir alle lesers, is om nie kritiekloos te lees nie – want dit dui inderdaad op ’n politieke naïewiteit – maar om tóg ook nie kritiese lees te verwar met die vervelige vergelyking van elke teks met ’n vooropgestelde raamwerk van (politiek korrekte) opvattings oor hoe die samelewing behóórt te wees of wat die “foute” in die samelewing is nie. Want dít doen die literêre teks en die individuele ervaring daarvan geweld aan.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.