Die charismatiese wynmaker Ken Forrester vier vanjaar 25 jaar in die bedryf
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Die charismatiese wynmaker Ken Forrester en sy vrou, Teresa, vier vanjaar 25 jaar in die bedryf met vier verskillende proe-en-kuier-aande vir die publiek. Hy het by die tweede laaste proe gesê die dae van gemiddelde wyne maak is vir ewig verby en “as die plek nie absoluut geskik is vir daardie kultivar nie, moet dit nie daar plant nie.”
Ken het sy loopbaan in die gasvryheidsbedryf in Johannesburg as restauranteur en hotelbestuurder begin en ook vir Sol Kerzner gewerk. Hy en sy vrou het Kaapstad toe gekom vir ’n troue en toe besluit om na wynplase te kyk. Toe hulle by Scholtzenhof buite Somerset-Wes aandoen, was die 1694-herehuis erg vervalle. Al die hout binne is vir vuurmaakhout gebruik; die dak het reeds ingeval en die mure was bouvallig. Vandag is die huis tot sy vorige glorie herstel en ’n nuwe, ruim proelokaal herhaal die styl en stemming van die historiese plaas.
Ken het destyds met wynmaker Martin Meinert en Cathy Marshall as vennote begin en ook die gewilde restaurant, 96 Winery Road, geopen. Ken het gesê hy het in sy kwarteeu in die wynbedryf geleer dat die storie van wyn by die eindverbruiker begin en dan werk jy dit terug na die plaas toe.
Sy droom destyds was om die beste witwyne in die wêreld te maak en te oordeel aan al die pryse, medaljes en trofees in die proelokaal, kan hy beslis tevrede wees in die wete dat hy nie net Suid-Afrika en Chenin Blanc onder die wêreld se aandag gebring het nie, maar homself as een van die land se voorste wynmakers gevestig het.
Hy het besluit om Chenin Blanc sy fokus te maak omdat die plaas ongeveer 5 km van Valsbaai, soos die kraai vlieg, geleë is en dus baie koel wingerde bevoordeel. Sy Chenins is van die begin af vat-gegis en in ou vate verouder en hy sê om met die natuurlike gis te werk, was al metode wat hy destyds geken het; vandag is dit die mode. Hy sê hulle boer organies, maar hy is nie bereid om al die sertifiseringsfooie te betaal net om dit op die etiket te sit nie.
Gaste kon 10 Ken Forrester-wyne proe, waarvan sommige van bosstokke wat in 1974 geplant is, gemaak is. Die wyne het onder meer Sauvignon Blanc; Old Vine Reserve Chenin; Renegade, ’n Rhȏne-versnit van Grenache, Syrah en Mourvedre van 2002 en 2014; en Gypsy van 2006 en 2013.
Die laaste proe en kuier-aand saam met Ken en Teresa word op 25 September gehou en dan word die jaar se vieringe op ’n hoogtepunt met langtafel middagete op 16 November afgesluit. Kaartjies kan by die kelder bespreek word.