As jy al ‘n paniekaanval ervaar het, sal jy die verlammende vrees onthou. Hier is raad vir lyers
Deur: Zerelda Esterhuizen
Mariëtte is 37 jaar oud, ma van drie kinders en het ‘n veeleisende beroep. Sy was nog altyd ‘n angstige mens, ervaar erge druk by die werk en met die ekonomie wat knyp, is sy ook konstant oor finansies gestres.
“Ek het onlangs paniekaanvalle begin kry en dit maak my pal benoud. My paniekaanvalle kom voor wanneer ek bestuur en nou is ek heeltyd angstig as ek bestuur. My brein assosieer paniekaanvalle met bestuur en ek is omtrent ‘n wrak elke keer as ek ver moet ry. Ek het myself nog altyd as ‘n goeie bestuurder beskou en ek het met selfvertroue bestuur, maar dit het nou verander. Ons huisdokter het vir my kalmeerpille voorgeskryf, maar ek voel steeds asof dit ‘n opdraande stryd is. My keel trek toe elke keer as ek agter die stuurwiel inskuif.”
Dis juis Mariëtte se vrees vir paniekaanvalle wat verdere paniekaanvalle veroorsaak, sê Mark Tyrrell, ‘n terapeut en medestigter van die webwerf Uncommon Knowledge.
Maar wat is ‘n paniekaanval?
Volgens die webwerf www.helpguide.org is ‘n paniekaanval ‘n skielike gevoel van oorweldigende angs en vrees. Jou hart klop vinniger en dit voel of jy nie kan asemhaal nie. Dit mag selfs voel of jy doodgaan of van jou kop af raak. As paniekaanvalle nie behandel word nie, kan dit tot paniekversteuring en ander probleme lei. Selfs gewone aktiwiteite sal vir jou onmoontlik voel, soos om te bestuur, soos in Mariëtte se geval. Die goeie nuus is gelukkig dat dit behandelbaar is en dat jy die simptome kan verminder of elimineer en weer jou lewe onder beheer kan kry.
LEES OOK: Wat is hipnose?
Herhaalde paniekaanvalle word gewoonlik deur ‘n spesifieke situasie veroorsaak, soos om op ‘n snelweg te bestuur of om voor baie mense te praat, veral as die situasie al vantevore ‘n paniekaanval veroorsaak het. Jy kan dalk paniekaanvalle ervaar, maar in die algemeen gelukkig en gesond wees of dit kan deel van ‘n paniekversteuring, sosiale fobie of depressie vorm.
Tekens en simptome
Die tekens en simptome van ‘n paniekaanval bereik gewoonlik binne tien minute ‘n hoogtepunt en kom binne 20 tot 30 minute tot ‘n einde. Baie min hou langer as ‘n uur aan. ‘n Paniekaanval sluit gewoonlik ‘n kombinasie van die volgende simptome in:
- Hiperventilasie of kortasemheid
- Hartkloppings
- Borskaspyn
- Bewerasies
- Onwerklike gevoel
- Natgesweet
- Naarheid of ‘n omgekrapte maag
- Gevoel van duiseligheid, lighoofdigheid
- Gevoel van prikkelings of ‘n doodse gevoel
- Warm of koue gloede
- Vrees dat jy kan doodgaan, beheer verloof of mal word
Hartaanval of paniekaanval?
Die meeste simptome van ‘n paniekaanval is fisiek en die meeste kere is die simptome so erg dat mense dink hulle kry ‘n hartaanval. Dit gebeur juis dat baie mense wat paniekaanvalle kry herhaaldelik dokter toe gaan omdat hulle ‘n hartaanval vrees.
Wanneer is dit paniekversteuring?
Baie mense ervaar paniekaanvalle sonder enige verdere aanvalle of komplikasies, maar mense wat gereeld paniekaanvalle ervaar, kan ‘n paniekversteuring ontwikkel. Paniekversteuring word gekenmerk deur gereelde paniekaanvalle, grootskaalse gedragsveranderings en voortdurende angstigheid oor verdere paniekaanvalle.
Wat veroorsaak dit?
Dit wil voorkom asof daar ‘n verband tussen groot lewensveranderings en paniekaanvalle kan wees. Dit kan ook voorkom in tye wat jy konstant stres ervaar. Dit lyk ook asof sekere families meer geneig is daartoe. Paniekaanvalle kan ook deur mediese toestande veroorsaak word.
Hoe word dit behandel?
Eerstens moet mediese oorsake uitgeskakel word. Kognitiewe gedragsterapie word sterk aanbeveel aangesien dit lyers help om hul paniek in ‘n realistiese lig te sien.
LEES OOK: Skokterapie: werk dit regtig?
Die terapie fokus op die gedragspatrone wat die paniekaanvalle kan veroorsaak. Medikasie kan gebruik word om die simptome te beheer of verminder, maar dit is die doeltreffendste wanneer dit met ander behandelings gekombineer word. Terapie behoort die onderliggende oorsaak aan te spreek.
Beheer jou paniekaanval
Mark Tyrrell sê as ‘n mens eers jou paniekaanvalle oorwin het, sal dit voel asof jy jou lewe terugkry. Dit gaan of heeltemal weg of word maklik beheer. Hy glo jy kan paniekaanvalle met ‘n paar maklike stappe beheer.
1. Laat die paniek weet wie’s baas
Neem beheer terug en dink oor jou paniekaanvalle op ‘n spesifieke manier. Paniek weet nie wat om te vrees nie en volg jou leiding. As jy iets vermy of van iets weghardloop, gaan jou paniekrespons daardie plek as bedreigend sien.
2. Moenie vlug nie
As jy soos in Mariëtte se geval haar motor of sekere paaie vermy, gaan jou paniekrespons besluit dat die paaie/motor ‘n lewensbedreigende gevaar inhou. As jy egter in die situasie bly tot jy kalmeer het, sal jou brein leer dat dit nie die situasie is wat die paniek veroorsaak nie.
3. Beheer jou asemhaling
Hou eers jou asem op solank as wat jy kan. Hou dit vir so tien tot 15 sekondes in, asem uit en herhaal dit. Haal dan stadig en diep deur die neus asem. Tel in jou kop tot sewe terwyl jy inasem en blaas uit terwyl jy tot elf tel. Oefen dit gereeld.
4. Tree normaal op
Hou aan praat al kry jy ‘n paniekaanval. Dit help om iets metodies te doen en jou brein te dwing om te dink. Begin byvoorbeeld by 100 en tel terug in dries. 100, 97, 94 … As jy kan, vul ‘n blokraaisel in of lees die koerant. Dink na oor hoekom jy paniekerig is en gradeer jou angstigheid van een tot tien. Só sal jou brein besef dis nie regtig ‘n noodgeval nie.
Bronne: www.uncommonhelp.me, www.helpguide.org,
American Academy of Family Physicians