Willie Burger het met Kate Mosse, ’n internasionale topverkoperskrywer, gesels toe sy onlangs in Suid-Afrika gekuier het
foto Ruth Crafer
Dis nie aldag wat mens die kans kry om in Johannesburg met ’n internasionale topverkoperskrywer te praat nie. Wêreldwyd is altesaam meer as vyf miljoen eksemplare van die Brit Kate Mosse se romans in 38 tale verkoop. Mosse is veral bekend vir Labyrinth (2005), die eerste roman in ’n trilogie van historiese avontuurverhale, gevolg deur Sepulchre (2007) en Citadel (2012) – saam bekend as die Languedoc-reeks. Labyrinth is ook in ’n TV-reeks verwerk. Ná die Languedoc-trilogie het The Taxidermist’s Daughter (2013) gevolg, en dié gotiese roman was eweneens ’n treffer.
Mosse het Suid-Afrika besoek om haar nuwe reeks boeke bekend te stel – waarvan die eerste, The Burning Chambers, pas verskyn het. Daar is egter nog ’n goeie rede waarom sy na Suid-Afrika gereis het – ’n deel van die verhaal speel juis in Suid-Afrika af! Trouens, met die intrapslag, wanneer mens die heel eerste bladsye van The Burning Chambers lees, is jy in Franschhoek, in Suid-Afrika, in 1862. Hierdie proloog is ’n voorsmakie van die einde waarop die beplande vier boeke gaan uitloop. Mosse gaan haal die verhaal egter 300 jaar vroeër in 1562, in Frankryk, by die uitbreek van die godsdiensoorloë in Frankryk. Die sogenaamde “godsdiensoorloë” tussen Katolieke en Protestante in Frankryk het uiteindelik daartoe gelei dat die Hugenote (Protestante) uit Frankryk moes vlug.
In hierdie reeks historiese avontuurromans vertel Mosse die storie van die vervolging van Protestante en die lot van die vlugtelinge na verskillende wêrelddele. Uiteindelik, in die vierde roman, wat ook die slot van die reeks sal wees en waarin al die intriges uiteindelik saamgevat word, beskryf Mosse die lot van Hugenote wat hulle in die Kaap gevestig het. In die eerste spannende roman van 576 bladsye word die vervolging van die Protestante in Frankryk aan die hand van die Joubert-familie gevolg, veral uit die oogpunt van Minou Joubert. Donker kastele, wantroue, verskillende oortuigings, lojaliteit, haat, wraak en liefde, en natuurlik geheime, vorm die kern van die roman. Mosse vertel dat sy aanvanklik juis deur die kastele in Frankryk geïnspireer is. Sy verduidelik dat die atmosfeer wat sy op ’n bepaalde plek beleef, telkens haar verbeelding aan die gang sit en dat haar stories dan onstaan.
LEES OOK: Ken jou storie: So skryf ’n wenner: Kazuo Ishiguro
Toe sy enkele jare gelede in Kaapstad was (waar haar seun, ’n akteur, aan ’n rolprent gewerk het), het sy Franschhoek besoek en die omgewing het haar dadelik aangegryp en sy het verbande begin lê met die omgewing in Frankryk waar sy en haar man lank gewoon het. Sy sê benewens die pleknaambordjies het die berge en die grond se kleur haar aan Frankryk herinner. Sy was dadelik verlief op Franschhoek en het geweet dit is waar haar nuwe verhaal gaan eindig. Die beplande tweede boek in die reeks gaan hoofsaaklik in Parys, Amsterdam en Londen afspeel, aangesien baie Hugenote na Amsterdam en Londen gevlug het.
Die derde roman volg die intrige van die Hugenote wat van Amsterdam na die VSA toe is, voordat al die spanning en familieraaisels wat oor byna drie eeue opbou op Franschhoek, in die vierde boek, opgelos word. Die geskiedenis van die Franse Hugenote is vir die meeste Afrikaners boeiend omdat hierdie groep immigrante ’n groot rol in die land se geskiedenis gespeel het. Ek vertel vir Mosse dat Hermann Giliomee in Die Afrikaners skryf dat Simon van der Stel nie wou toelaat dat die Hugenote wat hulle hier kom vestig het, hul Franse taal en tradisies moes behou nie en dat hulle moes vernederlands. Die Franse is dus tussen Nederlandssprekendes gevestig en hoewel WA van der Stel ’n afsonderlike gemeente vir die Hugenote toegelaat het, mag hulle slegs elke tweede erediens in Frans gehou het.
Giliomee wys daarop dat die Hugenote, hoewel hulle maar 8,5% van die Kaap se wit bevolking uitgemaak het (teenoor ongeveer 40% van Nederlandse afkoms en 32% uit Duitse gebiede), ’n baie groot rol gespeel het om die Kaapse gemeenskap te stabiliseer. Hulle het as gesinne hierheen gekom en was ook besonder sterk gemotiveer om te oorleef en ’n nuwe lewe vir hulself te skep. Mosse verduidelik dat die werklike historiese gebeurtenisse haar verhale inspireer. Sy besoek die historiese plekke, bestudeer die argiewe en raadpleeg historiese werke en kry daaruit ’n “gevoel” (sense) van karakters wat daardie historiese gebeurtenisse beleef. Dit is vir haar belangrik dat die karakters getrou aan hul tyd moet wees: ’n Vrou uit die 17de eeu het immers nog nie die regte en moontlikhede wat ’n vrou in die 21ste eeu het nie en kan dus nie soos ’n vrou van vandag dink en doen nie.
Mosse wil getrou bly aan hoe mense destyds gedink het. Sy benadruk dat dit vir haar belangrik is dat haar karakters juis vroue se perspektief op die historiese gebeurtenis bied, en haar hoofkarakters is vroue – vroue wat egter vir hulself dink en probeer om so ver as moontlik hul eie lot te bepaal. Mosse beywer haar nie slegs in haar fiksie vir vroue se belange nie. Sy is een van die vroue wat ook ten nouste gemoeid is met die gesogte Woman’s Prize for Fiction wat jaarliks in Brittanje aan ’n Engelse roman deur ’n vrou toegeken word. Ek wil by haar weet waarom sy dink ’n afsonderlike prys vir vroueskrywers nodig is. Wil ’n skrywer regtig as die beste vroueskrywer, of eerder as bloot die beste skrywer bekroon word? Daar is immers nie ’n prys vir beste manlike skrywer nie!
Sy sê dat haar pa jare gelede dieselfde vraag gevra het. Sy het geantwoord dat sy nie ’n afsonderlike tafel wil hê waar net vroue kan eet nie, maar uiteindelik dat die tafel groter gemaak word en dat daar vir almal plek kan wees. Die prys is in 1991 ingestel toe dit duidelik geword het dat 60% van die boeke wat in Brittanje gepubliseer word, deur vroue geskryf is, maar dat vroue slegs 30% van die pryse wen. Die probleem kon dus nie wees dat vroue nie toegang tot uitgewers het nie, maar dat vroue se boeke nie dieselfde bemarking kry nie. Om ’n literêre prys te wen, bied uitstekende bemarking, maar hierdie groot bemarkingswaarde het nie vroueskrywers bevoordeel nie.
Ons gesels oor Anne Michaels se roman Fugitive Pieces wat in 1996 die pryswenner van hierdie prys was. Ek noem dat dit een van my gunstelingromans is. Mosse word sommer opgewonde en skuif na die voorpunt van haar stoel. Sy beklemtoon dat dit juis die waarde van die prys illustreer. Sy meen dat ek waarskynlik nie eens van die roman sou geweet het as dit nie vir die prys was nie! Fugitive Pieces het voor die prystoekenning maar taamlik flouerige resensies ontvang en slegs 800 eksemplare daarvan is in die Verenigde Koningryk verkoop. Nadat die prys aan die roman toegeken is, het dit ’n topverkoper geword! Mosse het aanvanklik, in die 1990’s, twee “literêre romans” geskryf. Volgens haar was dit nie baie goeie romans nie en sy het ook haar uitgewers versoek om daardie twee pogings nie te herdruk noudat sy so beroemd geword het nie.
Sy sê dat dit eers met Labyrinth was dat sy haar “eie stem” gevind het. Sy het agtergekom dat sy eintlik ’n storieverteller, eerder as ’n stilis is en dat sy daarom “plotgedrewe, kommersiële fiksie” moet skryf. Sy hou veral daarvan om haar stories teen ’n historiese agtergrond te plaas. Talle opwindende gebeurtenisse wat mekaar vinnig opvolg, terwyl verrassende wendings telkens die verwagte uitkoms in nuwe rigtings stuur en die leser laat naels byt, is vir haar die kern van wat sy “plotgedrewe kommersiële fiksie” noem. Styl, reken sy, neem ’n tweede plek in. Hierin lê vir haar die verskil tussen literêre fiksie en populêre fiksie. Nietemin beteken die feit dat sy gekies het om “kommersiële fiksie” te skryf, nie dat sy het van “literêre fiksie” afstand gedoen nie.
LEES OOK:Ken jou storie: So skryf ‘n wenner
Sy sê dat daar vir haar ’n verskil tussen haar “vertelstem” en haar “leesstem” is. Sy verkies om literêre fiksie te lees, maar skryf kommersiële fiksie. Sy beskou haar skryfwerk as ’n manier om deur middel van haar verbeelding ’n bestaan te maak en moedig veral vroue aan om haar voorbeeld te volg. Benewens die inspirasie wat sy uit spesifieke plekke put, word sy ook deur argiewe geïnspireer. Sy het baie tyd in die argiewe van verskeie lande deurgebring ten einde ’n geloofwaardige, volledige historiese wêreld te kan opbou. Talle van die karakters in haar romans is historiese figure en haar eie fiktiewe karakters beweeg as ’t ware in die skadukolle van die bekende geskiedenis. Hulle is mense wat liefkry en jaloers word, wat droom en kul en werk en veg en deernis toon soos mense nog altyd gedoen het, maar alles gebeur teen die historiese agtergrond.
Sy redeneer dat historiese fiksie slegs kan werk indien dit getrou is aan die tyd en plek wat uitgebeeld word en daarom doen sy baie moeite om dit “reg” te kry. Tydens die oorlog tussen Protestante en Katolieke in Frankryk (1562–1598) is byna 10% van die Franse bevolking uitgewis. Toe die Edik van Nantes in 1685 herroep is, het duisende Hugenote uit vrees vir ’n herhaling van massamoorde uit Frankryk gevlug. Mosse erken dat sy nie aanvanklik daaraan gedink het om juis oor vlugtelinge te skryf nie, maar geleidelik het sy besef dat hierdie tema eintlik tans baie belangrik is, veral in die EU waarheen talle vlugtelinge daagliks stroom.
Sy vertel dat sy in haar navorsing oor die Franse “diaspora” verskeie plekke soos Amsterdam en Franschhoek besoek het ten einde dit te probeer ervaar vanuit die oogpunt van ’n buitestander, van ’n vlugteling wat ongewens daar aanland en wat sonder die moontlikheid van ’n terugkeer na ’n “vaderland”, noodgedwonge moet aanpas. Toe die uitgewersmense naderstaan om aan te dui my onderhoud is verby, vra Mosse hulle om eerder ’n papier en pen te bring en sê sy wil nog ’n rukkie gesels. Sy skryf die besonderhede oor Giliomee se boek neer. Ons praat nog ’n bietjie oor ons gunstelingboeke en al my vooroordele oor die skrywer van internasionale blitsverkopers is opgeskort. Ek is beïndruk deur Kate Mosse, die entoesiastiese storieverteller.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.