Willie Burger kyk na wyle Karel Schoeman se laaste werk, Slot van die dag
Karel Schoeman se afsterwe op 1 Mei vanjaar het baie mediaaandag ontvang. Enersyds het die dood van een van Suid-Afrika se merkwaardigste skrywers tot talle lofsange oor sy werk as historikus en as fiksieskrywer gelei. Andersyds het sy selfdood en die nagelate brief waarin hy vir die reg op ’n waardige beëindiging van ’n mens se eie lewe pleit, ook heelwat reaksie ontlok.
Slot van die dag was die laaste werk wat hy voltooi het voordat hy sy eie lewe beëindig het. Dit is ’n werk wat onder meer ten doel het om besinning en debat oor oudword en die reg op waardige selfdood aan te moedig. Dit is ’n outobiografiese werk en sluit in dié sin aan by drie ander outobiografiese tekste deur Schoeman. In 1998 het Merksteen verskyn, “’n dubbelbiografie”, oor sy grootouers aan moederskant.
Twee jaar later het die biografie oor sy pa se eerste voorouer aan die Kaap verskyn: ’n Duitser aan die Kaap 1724–1765. Die lewe en loopbaan van Hendrik Schoeman. Nog twee jaar later, in 2002, is omvangryke “outobiografiese aantekeninge”, Die laaste Afrikaanse boek, gepubliseer. Slot van die dag vul in ’n sekere sin dan die laaste 15 jaar sedert Die laaste Afrikaanse boek in. Hierdie laaste werk berus nie op uitgebreide navorsing soos Merksteen en ’n Duitser nie en dieselfde sistematiese en estetiese greep van Die laaste Afrikaanse boek is ook nie deurgaans teenwoordig nie. Slot van die dag sluit by talle ander boeke oor oudword aan. In hierdie genre is daar byvoorbeeld “handleidings” oor hoe ouerwordende mense hul finansies behoort te bestuur, behoort te eet of te oefen. Schoeman se boek is nie van hierdie “handleiding”- soort nie, hoewel dit ook heelwat praktiese raad vir ouerwordende mense bevat: byvoorbeeld oor soorte kieries, looprame en stootkarretjies en hoe om hulle te gebruik.
Eintlik skryf Schoeman egter oor sy ervaring van die fase van sy lewe waarin sy krag en vermoëns besig is om te taan, sy lewe al meer ingeperk raak en daar al minder is wat elke dag se opstaan regverdig. Gevolglik is die boek eerder besinnend en daar word heelwat oor die sin van die lewe, oor die aard van die lewe wanneer ’n mens al hoe afhankliker van ander word, oor die afname van skeppende krag, die rol van kuns, en natuurlik oor die dood nagedink. Die vorige paragraaf sou natuurlik ook as beskrywing kon geld vir talle Schoeman-romans (bv Hierdie lewe). Bejaardes of siekes wat met sterwe gekonfronteer word, bevolk immers byna al sy romans.
LEES OOK: Kies ‘n boek ‘n Droë wit seisoen
Hierdie boek is egter nie fiksie nie, maar ’n outobiografiese werk en dit bied insae in die manier waarop Schoeman oor die laaste dekade geleef het. Benewens sy historiese navorsing en skryfwerk, bestee hy skynbaar die meeste van sy tyd wat hy nie lees of slaap nie, op YouTube en Google. In sy Bloemfonteinse aftree-oord het hy graag na ou kunsrolprente en musiekoptredes deur Europese kunstenaars in ou konsertsale gekyk. (Hy hang ’n Europese estetika van ’n vorige era aan, waarna hy met vererende waardering kyk terwyl hy op die gebrek aan soortgelyke “beskaafdheid” in Suid-Afrika – of selfs in die Engelssprekende wêreld – neersien.)
’n Mens kom onder die indruk van die ouer Schoeman wat hom met fyn estetiese produkte omring: sy spesiale koppies, ingevoerde leeslamp, sy Duitse, Franse, Nederlandse en Latynse boeke, en die uitsonderlike YouTube-rolprente. Hy voer ’n geïsoleerde bestaan in ’n kokon van hoë kuns (uit ’n vorige era). Vanuit hierdie kokon spreek hy sy kritiek op die samelewing, op dokters, letterkundiges, Afrikaanse skrywers, Afrikaners, Suid-Afrikaners en argitekte uit. Enigeen is natuurlik vry om kritiek oor ander uit te spreek en baie van Schoeman se kritiek mag geregverdig wees, maar so baie daarvan spruit uit vooroordele en berus op veralgemenings.
Hy kom slegs met enkele individue in aanraking en stel homself volgens eie erkenning nie aan baie inligting oor die land bloot nie, maar hy skroom nie om op grond daarvan breedsprakig oor almal uitsprake te maak nie. Maar uiteindelik is dit nie al waaroor die boek gaan nie. In die grootste deel van die werk raak die bekende Schoeman-prosa meesleurend en bied ’n aangrypende blik op die aftakelende reis van oudword, en die besef dat ’n mens ’n punt bereik waarop jy nie langer wil leef nie. Die geleidelike besef dat die kreatiewe impuls verdwyn, en daarmee saam die wil tot lewe, word ondramaties, maar hartroerend weergegee. Slot van die dag laat ’n mens oor oudword, sterf en die moontlikheid van keuses in verband met ’n mens se eie dood nadink. Jy lees egter nie die boek vir goeie argumente daaroor nie, want Schoeman beredeneer nie; jy lees ook nie vir nuutgevonde insigte nie, want nuwe idees word nie aangebied nie. Schoeman se gefragmenteerde, dog ritmiese prosa bied egter ’n ervaring: jy ervaar die wêreld van oudword van binne af en dáárvoor is die lees van Slot van die dag meer as die moeite werd.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.