Ons kyk na of ‘n gesonde lewenstyl kanker kan keer in ons 22 Januarie 2016-uitgawe.
ANSJA FERREIRA
Mite – Geroosterde vleis en goedgaar vleis word nie aan kanker verbind nie
Verkeerd! Die eet van geroosterde of pangebraaide vleis kan die risiko vir kanker verhoog. Wanneer vleis gerooster word, word skadelike chemikalieë gevorm. Hierdie chemikalieë kom in hoër hoeveelhede voor wanneer vleis goed gaargemaak of gebrand is. Deskundiges beveel aan dat die inname van gebraaide vleis beperk word en dat die braai van vleis op oop vlamme asook die eet van gebrande vleis vermy word. Dit word verder aanbeveel om vleis te marineer en eers vooraf halfgaar te maak om sodoende die roostertyd te verkort. Voeg kleurryke groente en vrugte op die rooster by aangesien geen skadelike chemikalieë tydens die roosterproses van hierdie kossoorte gevorm word nie.
Mite – Daar bestaan geen verband tussen kanker en die eet van vleis en dierlike vet nie daarom kan kankerpasiënte soveel vleis eet as hulle wil.
Verkeerd! In ‘n oorsig van verskeie studies in 2011 deur prominente wetenskaplikes, die American Cancer Society en die WGO, word tot die gevolgtrekking gekom dat kankerpasiënte baie min of selfs geen rooi vleis behoort te eet nie. Dit sluit in bees-, skaap- en varkvleis aangesien al hierdie vleis ‘n hoë ysterinhoud bevat wat hoogs absorbeerbaar is en vir kankerseltoename verantwoordelik is. Sekere aminosure in proteïene stimuleer die groei van kankerselle. Die belangrikste bewys hiervan is gevind by metionien, waarvan varkvleis die hoofbron is. Rooivleis word beskou as ‘n risikofaktor vir kanker soos kolorektale, prostaat-, bors-, baarmoeder- en nierkanker.
Mite – Ek gebruik ‘n antioksidant-aanvulling, ek hoef dus nie die aanbevole vyf porsies vrugte en groente per dag te eet nie
Verkeerd! Antioksidante soos vitamien C en E, karotenoïede en selenium, is bekend daarvoor dat dit kankerveroorsakende vrye radikale in die liggaam beveg. Vrye radikale word gevorm deur omgewingsfaktore soos besoedeling en die son asook deur newe-produkvorming tydens chemiese reaksies in die liggaam.
Antioksidante kom hoofsaaklik in helderkleurige vrugte en groente sowel as volgraanprodukte, neute en sade voor. Gebruik natuurlike antioksidante of aanvullings indien nodig. Sintetiese of kunsmatige antioksidante mag selfs die risiko van kanker verhoog. Die inname van minstens vyf porsies vrugte en groente per dag is steeds die kostedoeltreffendste manier om noodsaaklike voedingstowwe en antioksidante in te neem.
Mite – Suurlemoene maak kankerselle dood
Verkeerd! Daar is geen wetenskaplike bewyse dat suurlemoene of molekules van suurlemoene in staat is om kanker te genees nie. Daar is egter aanduidings dat suurlemoenmolekules (soos limonien) as kankervoorkomende agense optree. Daar is ook enkele bewyse dat suurlemoenmolekules die groei van sekere gewasse in mense kan stopsit. Daar is geen bewys dat suurlemoenmolekules doeltreffender as enige kankermiddel is wat tans in kankerbeheer gebruik word nie. Kansa meen dat suurlemoene wel ‘n belangrike rol in die voorkoming van kanker kan speel.
Vir meer inligting, bel 011 616 7662 of 082 459 5230. Besoek www.cansa.org.za of bel Kansa tolvry 0800 22 66 22 of stuur ‘n e-pos na [email protected]
Addisionele bronne: www.cancer.gov, www.theguardian.com
Meer wenke vir ‘n gebalanseerde lewenstyl, word omvat in Kansa se boek Life is Beautiful of besoek www.cansa.org.za