ANSJA FERREIRA
Kanker word deur baie kenners ‘n siekte van ons moderne lewenstyl genoem. Ons almal word geraak deur iemand wat kanker het, dit oorwin het of daaraan gesterf het.
Om ‘n kankerdiagnose te kry, kan verpletterend wees vir die pasiënt en sy of haar geliefdes en hulle sal dikwels in die hoop op genesing na enige grashalmpie gryp.
Dit sluit in behandeling wat deur dokters voorgeskryf word, soos chirurgie, chemoterapie en bestraling, afhangende van die tipe en graad van kanker waaraan die pasiënt ly. Dan is daar ook diegene wat allerhande alternatiewe kure op die proef stel, soos spesiale diëte, die gebruik van mediese marijuana asook boererate en homeopatiese middels.
Hoewel stres ‘n aantal fisieke gesondheidsprobleme kan veroorsaak, is die bewyse dat dit kanker veroorsaak swak. Sommige studies het ‘n verband gevind tussen verskeie psigologiese faktore en ‘n verhoogte risiko om kanker te ontwikkel, terwyl ander die teendeel bewys.
Mense wat stres ervaar, ontwikkel dikwels sekere gedrag soos rook, ooreet en die gebruik van alkohol, wat wel ‘n mens se kankerrisiko kan verhoog.
Nuwe navorsing deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) toon dat verwerkte en geprosesseerde vleis soos spek, ham en worsies saam met sigarette ‘n groot oorsaak van kanker is en in dieselfde kategorie as asbes, alkohol, arseen en tabak geplaas word.
Volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) bestaan daar talle mites en halwe waarhede oor kanker op die internet en elders. Wat moet jy as die waarheid aanvaar?
“Nadat ek ek in Januarie 2014 met borskanker gediagnoseer is, het ek baie boeke en webwerwe oor kanker gelees en besluit om ‘n nuwe eetplan te volg,” vertel Lorette van Vuuren van Bloemfontein.
“Dit was baie moeilik aan die begin, maar ek het daaraan gewoond geraak. ‘n Goeie riglyn is om alles te gebruik wat natuurlik gekweek (organies) word en in die geval van eiers, pluimvee en rooivleis, nog op die werf en die plaas sonder hormone geproduseer word.”
Lorette beveel alle vrugte en groente en veral aarbeie, bloubessies, papajas, appels, kiwivrugte, boontjies, komkommer, broccoli, aspersies, suurlemoene en groen druiwe aan. Lorette gebruik ook appelasyn, olyfolie en gooi borrie oor al haar kos. Sy bly weg van koue vleise, polonies en preserveermiddels.
Kansa se riglyne vir ‘n gebalanseerde lewenstyl
Volgens die WGO word die doelwitte aangaande die beheer van kanker die beste bereik met ‘n omvattende benadering wat al die fasette insluit wat kankerrisiko verminder. ‘n Internasionale verslag dui aan dat voedsel, fisieke aktiwiteit en liggaamlike samestelling ‘n rol speel in die risiko vir kanker. Daar is vyf gedragspatrone wat sleutelfaktore is vir die bevordering van gesondheid, die handhawing van ‘n gesonde lewenstyl en die vermindering van kankerrisiko:
1: Eet slim
- Eet daagliks minstens vyf porsies vrugte (in seisoen) en groente.
- Beperk die inname van sout en suiker asook voedsel en drankies wat suiker bevat. ‘n Nuwe riglyn van die WGO is dat volwassenes en kinders hul daaglikse inname van suiker en produkte wat suiker bevat met meer as 10% van hul totale daaglikse energie-inname moet beperk.
- Maak veselryke stysel en volgraanvoedselprodukte die basis van die meeste maaltye.
- Eet suiwelprodukte en proteïne van dierlike oorsprong matig.
- Beperk diervet en versadigde vette.
- Drink genoeg skoon en veilige water.
- Beperk die inname van verwerkte en verfynde kossoorte.
2: Wees fisiek aktief en handhaaf ‘n gesonde gewig
In Suid-Afrika is daar ‘n onrusbarende toename in die aantal oorgewig en vetsugtige individue met meer as 29% van mans en 56% van vroue wat as oorgewig of vetsugtig geklassifiseer word.
Obesiteit word as ‘n chroniese siekte geklassifiseer en word as ‘n verhoogde risikofaktor vir kanker beskou. Obesiteit by vroue hou verband met kanker van die oorplantingstelsel en obesiteit by mans aan kanker van die rektum, kolon, niere en prostaat. Navorsing toon ook aan dat obesiteit verband hou met kanker van die kolon en niere sowel as ander nie-oordraagbare siektes soos kardiovaskulêre siektes, diabetes, beroerte en hipertensie.
- Volwassenes: Doen minstens 30 minute lank matige tot strawwe fisieke oefening (dit is behalwe normale aktiwiteite) op vyf of meer dae per week.
- Kinders en adolessente: Doen minstens 60 minute per dag matige tot strawwe fisieke oefening minstens vyf dae per week.
3. Vermy karsinogene
Alle tabakprodukte is skadelik vir die gesondheid. Kansa moedig mense aan om op te hou rook. Besoek Kansa se webwerf en lees meer oor hul aanlyn-‘eKick Butt’-program.
- Beperk of vermy alkohol – alkoholmisbruik kan kanker van die kop en nek, slukderm, dikderm, lewer en hormonale kankers veroorsaak.
- Maak seker jy is veilig in die son. Oormatige blootstelling aan die son kan velkanker veroorsaak. Vermy die gebruik van sonbeddens en verbruiningsmiddels wat jou vel verbruin en wat melanotan bevat.
- Kies Kansa se Smart Choice- en SunSmart-produkte wat jou teen sonbrand sal beskerm.
4. Wees pro-aktief en neem beheer om jou kankerrisiko te verminder
- Vergewis jouself van jou familiegeskiedenis en risiko’s.
- Ken jou liggaam om seker te maak jy herken veranderinge en verkry professionele mediese hulp as simptome voortduur.
- Doen gereeld selfondersoeke om borskanker, testikulêre kanker en velkanker betyds op te spoor.
- Gaan gereeld vir siftingstoetse en doktersondersoeke vir die vroeë opsporing van kanker.
- Laat jouself teen hepatitis B en menslike papilloomvirus inent om jou risiko van lewer- en servikale kanker te verminder.
5. Hou kos veilig
Onveilige kos kan tot ‘n reeks gesondheidsprobleme lei: diarree, virussiektes, reproduktiewe en ontwikkelingsprobleme en kankers. Voedselveiligheid is van die allergrootste belang.
- Was altyd jou hande en ontsmet oppervlaktes wanneer jy kos hanteer.
- Hou rou en gekookte kos apart van mekaar in jou yskas.
- Berg kos teen ‘n veilige temperatuur.
- Gebruik veilige water en let op na vervaldatums van gebottelde water.
- Verhit gekookte kos na behore.
- Maak veral seekos en hoender goed gaar.
Kankermites
Kansa gee die volgende inligting oor algemene mites.
Daar is niks wat ek kan doen om kanker te voorkom nie
Feit – verkeerd! Minstens 30–40% van kankers kan voorkom word. Moontlike kankerrisiko’s kan aansienlik verminder word deur die vermyding van agense wat kanker veroorsaak en die handhawing van ‘n gesonde en gebalanseerde lewenstyl. Verskeie kankers kan voorkom word as jy tabak vermy, ‘n gesonde dieet volg, gereeld oefen, jou vel beskerm deur oormatige blootstelling aan die son, alkohol vermy en om jouself gereeld vir kanker te laat toets.
Minstens 20% van kankers in Derdewêreldlande soos Suid-Afrika word deur infeksies (meestal virale infeksies) veroorsaak. Doeltreffende entstowwe is beskikbaar om mense te teen die menslike papilloomvirus (MPV) beskerm wat die hoofoorsaak van servikale kanker is. Daar is ook hepatitis B-entstof beskikbaar wat mense teen primêre lewerkanker beskerm.
Kansa beveel aan dat jong meisies met die aanvang van puberteit (hoofsaaklik nege- tot tienjariges) met die MPV-entstof ingeënt word. Kansa doen verder ‘n beroep op ouers/voogde en professionele gesondheidswerkers om toe te sien dat alle babas die volle verloop van die Hepatitis B-entstof (3 dosisse) ontvang, wat deel van die standaardimmunisasieprogram vorm om sodoende doeltreffende beskerming te verseker.
Mite – Kanker is altyd fataal
Feit – verkeerd! Kanker is ‘n ernstige siekte wat tot sterfte kan lei. Deurlopende deurbrake in voorkoming en vroeë opsporing, asook meer spesifieke en doeltreffende behandelingsprosedures dra by om kanker beter te bestuur. Na raming word meer as 40% van volwasse kankers en 60% van kinderkankers in Suid-Afrika suksesvol behandel.
Mite – ‘n Positiewe houding is al wat jy nodig het om kanker te oorwin
Feit – verkeerd! Daar bestaan geen wetenskaplike bewys dat ‘n positiewe houding tot jou voordeel sal strek om jou kanse te verbeter om van kanker genees te word nie. ‘n Positiewe houding sal wel die gehalte van jou lewe verbeter terwyl jy behandeling vir kanker ondergaan en daarna. ‘n Positiewe mens sal meer geneig wees om aktief te wees, om aandag en tyd aan familie en vriende af te staan en om met sosiale bedrywighede voort te gaan. Verder sal dit ‘n gevoel van welsyn teweegbring en so ‘n persoon tydens sy of haar kankerreis help.
Mite – Alternatiewe behandeling kan konvensionele behandeling van kanker soos chemoterapie en bestralingsterapie vervang
Feit – verkeerd! Daar bestaan tans geen wetenskaplike bewyse dat enige alternatiewe behandeling doeltreffender en veiliger is as bestaande kankerbehandelingsprogramme nie. Daar is egter talle natuurlike stowwe soos noodsaaklike vetsure omega 3), fitochemikalieë en mikrovoedingstowwe wat deur talle wetenskaplike bewyse onderskryf word om die risiko van kanker te verminder en selfs die groei van gewasse te onderdruk. Dit word ook as komplimentêr tot bestaande konvensionele terapieë erken om ankervoorkoming en -behandeling te bevorder.
Mite – Blootstelling aan elektromagnetiese strale verhoog nie die risiko van kanker nie
Feit – verkeerd! Elektromagnetiese radiasie (EMR) vorm deel van nie-ioniserende bestraling, ‘n begrip wat gebruik word vir bestraling deur toestelle wat elektriese krag vervaardig, uitstraal, gebruik of verskaf. Dit sluit elektriese en magnetiese velde, radiogolwe, mikrogolwe, infrarooi, ultraviolet en sigbare straling in. Sommige bronne van EMR is kraglyne, selfoonmaste of torings (seintoestelle)
en huishoudelike elektroniese toestelle soos televisies, mikrogolfoonde en draadlose kommunikasietoestelle soos selfone.
Gedurende die afgelope 15 jaar is verskeie studies gedoen om kinders en volwassenes se residensiële blootstelling aan elektriese en magnetiese bestraling in verhouding tot die risiko’s van sommige kankers soos glioom, leukemie, limfoom en borskanker te evalueer. Hoewel baie bevindinge nog onbevestig is, klassifiseer IARC Radiofrekwensie Elektromagnetiese Velde as moontlik karsinogenies vir mense (Groep 2B). Dit volg na aanleiding van ‘n langtermynstudie in 14 lande, wat duidelike bewyse toon van ‘n verhoogde risiko vir glioom en akoestiese neuroom met die hoë gebruik van selfone – ‘n gemiddelde gebruik van 30 minute per dag oor ‘n tydperk van tien jaar. Dit is dus wys om maatreëls te tref om die blootstelling aan selfoonstraling te beperk deur van ‘vrye-hand’ -toestelle gebruik te maak en eerder te SMS as om te bel. As voorsorgmaatreël raai Kansa die publiek aan om die afstand tussen jouself en toestelle wat EMR uitstraal te vergroot en ontmoedig verder ook die naby blootstelling van kinders aan kraglyne en seintoestelle.
*Skuilnaam
Vir meer inligting, bel 011 616 7662 of 082 459 5230. Besoek www.cansa.org.za of bel KANSA tolvry 0800 22 66 22 of stuur ‘n e-pos na [email protected]