As jou vertroue geskend is, is dit belangrik dat jy moet weet dat om iemand te vertrou, ’n keuse is wat jy moet maak, beklemtoon Bettie Rall van die Cape Gate Therapy Centre in die Kaap.
Shanda Luyt
“Dit was ook aan die begin ’n keuse toe jy daardie persoon vertrou het – en as jy hom weer wil vertrou, moet jy weer daardie keuse maak. Die gevoel van vertroue is dalk nie daar nie. En daardie gevoel kom ook nie vanself terug voor jy nie die keuse gemaak het nie. Jou gevoel gaan dalk vir jou sê jy moet jou kind se selfoon nagaan, maar jy kies dan teen hierdie gevoel in om dit nie te doen nie. Dit sal begin vrugte afwerp – dan kom die gevoel van vertroue terug. Maar dit is altyd ’n keuse wat jy moet maak.”
Bettie sê een rede hoekom mense nie hierdie keuse maak nadat hul vertroue geskend is nie, is omdat hulle 100% seker wil wees dit sal nie weer gebeur nie. “Maar ’n mens kan nooit 100% seker wees nie. Jy kon ook nie 100% seker gewees het die eerste keer toe jy gekies het om die persoon te vertrou nie.”
’n Nuwe (beter?) verhouding
Dit gebeur dikwels dat ’n vertrouensbreuk die dinamika van ’n verhouding permanent verander – soms ten goede en soms nie, sê Bettie. Sy vertel dat daar soms ’n situasie ontstaan waar die persoon verantwoordelik vir die vertrouensbreuk heeltyd verskonend begin optree terwyl die ander een hiet en gebied. “Dit is nogal belangrik om die verhoudingsdinamika te verstaan, want as die vertrouensbreuk ’n magsding raak wat die een persoon teen die ander gebruik, sal die herstelproses nie kan plaasvind nie.
“By baie verhoudings gebeur dit ook dat die magsrolle omruil. Waar die vrou byvoorbeeld die man voorheen heeltyd wou gelukkig hou en hy amper mishandelend teenoor haar opgetree het, kan dit ná ’n vertrouensbreuk soos ‘n buite-egtelike verhouding skielik omswaai sodat die vrou nou in die magsposisie is en die man haar heeltyd gelukkig probeer hou.” Bettie beklemtoon dat so verhouding in die eerste plek nie gesond was nie en dalk selfs tot die vertrouensbreuk kon aanleiding gee. “’n Magsverhouding werk nooit nie.”
Daar is egter ook ’n positiewe kant: As daar voorheen ’n magsverhouding was, kan so ’n vertrouensbreuk mense soms help om by die punt uit te kom waar hulle hierdie wanbalans raaksien en regstel, sê Bettie. “As die mense dan sien dit was ’n probleem en besef dat hulle nie met dieselfde soort verhouding kan voortgaan nie, kan hulle dit omswaai. Dis die mense wat terugkyk en sien dit het eintlik hulle verhouding gered, al was dit pynlik. Maar nie almal het hierdie insig nie.”
Bettie sê bestaande sterk verhoudings kan gewoonlik deur ’n vertrouensbreuk werk en baie sterk anderkant uitkom, omdat mense uit hul foute leer. “As persoon kan ’n mens ook daardeur groei om deur die pyn te werk. Baie mense leer oop kommunikasie en om eerlik te wees met mekaar. Dis nie ’n maklike proses nie, en nie almal kry dit reg nie, maar baie verhoudings is sterker daarna.”
Versterk jul verhouding
Dr Rosa Bredekamp, sielkundige van Kenridge, identifiseer die volgende basiese stadiums van die herstelproses:
1 Herstel vertroue deur oop en eerlike kommunikasie.
2 Neem bestekopname van die verhouding – wat is die sterk punte en tekortkominge, watter doelwitte word nagestreef, ensovoorts.
3 Praat oor die dinge wat pla, maar ook die dinge waaroor jy dankbaar is.
4 Vind maniere om groter intimiteit, samesyn en vreugde in die verhouding in te blaas.
5 Implimenteer besluite, hersien wanneer nodig, en sorg vir progressie eerder as regressie (terug na die ou verwyte, blamering, ensovoorts).
6 Spreek ’n sielkundige of berader om te help met die finale afsluiting van die proses as julle nie tot daardie stadium kan vorder nie.