Kenners gee raad vir ‘n affair-bestande verhouding in ons 12 Augustus-uitgawe. Lees hier verder
JB ROUX
“Die eerste en seker die belangrikste waarskuwingsteken dat jy gevaar staan om in ’n affair betrokke te raak,” sê die skrywer Timothy Kieswetter van die boek Maak jou huwelik affair-bestand, “is wanneer jy die aandag en liefde van ’n ander persoon aktief begin najaag en dit vir jou huweliksmaat geheim hou.
“As jy vermoed dat jou huweliksmaat ’n affair het, is dit raadsaam om voor die tyd met die ander party te gesels. Geheimsinnigheid is ’n affair se grootste dryfkrag. Hoe vinnig ’n ontwikkelende affair op die lappe kom, hoe vinniger gaan die affair daardie dryfkrag verloor.
“As ek berading moet gee aan ’n paartjie waarvan een van die twee partye ’n affair oorweeg, is my raad om nie op te hou met die berading totdat hulle presies weet hoekom daar ’n begeerte na ’n affair is nie. Die party wat op die punt staan om in ’n affair betrokke te raak, moet vrede maak met die oorsaak van sy of haar begeerte om aandag en liefde elders te kry. Jy moet erken dat dié begeerte deel is van wie jy is en om stelsels in plek te plaas om jou emosionele seer te bestuur – weg van ’n affair en terug na jou huweliksmaat.
“As jy besef dat jy self gevaar loop om ’n verhouding te hê en dit wil keer, is die beste raad: Ken jou emosionele seer. Wees bewus van trauma uit jou kinderdae. Identifiseer jou seksuele voorkeure. Dit voel dalk of ’n affair die oplossing vir jou probleme is, maar dit is niks meer nie as ’n fantasie en ontvlugting van jou innerlike pyn.”
Die boek “Maak jou huwelik affair-bestand” is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar.
5 lesers kan met die komplimente van Lux Verbi die boek wen.