Is jy ’n slagoffer van omstandighede of skep jy vir jouself ’n ryk en opwindende lewe?
Regina Malan
Hy het daar en dan besluit hy sou “a life of no regrets” lei. En so het hy vir homself drome gekies. Hy het ’n lys van 127 dinge opgestel wat hy in sy lewe wou doen, ervaar en bereik.
Goddard se bucket list
• Vaar op riviere: die Amasone, die Kongo, Colorado en die Yangtze in China.
• Klim berge: Everest, Aconcagua in Argentinië, Kilimanjaro en Ararat.
• Leer om ’n vliegtuig te vlieg.
• Bestudeer inheemse kulture se medisyne.
• Lees al die werk van Shakespeare.
• Lees die Encyclopaedia Britannica.
• Skryf ’n boek.
• Bestudeer draakakkedisse op die Komodo-eiland.
• Leer Frans, Spaans en Arabies.
• Hardloop die myl in vyf minute.
• Reis maan toe (let wel, sy lys is reeds in 1940 opgestel!).
Dit was ’n merkwaardige en formidabele lys vir ’n skoolseun van 15 jaar, maar teen die tyd dat hy 47 was, het hy reeds 103 van sy 127 drome bewaarheid.
John Goddard het ’n keuse gemaak. Hy het gekies om vir homself ’n ryk en stimulerende lewe te skep.
Kyk ons om ons, sien ons dikwels ’n heel ander prentjie. Kyk hoeveel mense brand hulself uit. Dis ’n dolle gejaag onder druk – werk, gesin, skool, kerk en gemeenskap en toenemend groter finansiële eise.
Of kyk hoeveel mense is verroes. Mense wat oor niks meer entoesiasties raak nie; wat nie regtig meer in iets belangstel nie; wat net van dag tot dag bestaan en eintlik ’n leë lewe lei.
Vir al twee dié groepe geld die skrywer en joernalis Normans Cousins se woorde: “The tragedy of life is not death, rather it is what we allow to die within us while we live.”
Die uiteinde van uitbranding en roes, is innerlike doodsheid.
Hoe kan ’n mens so ’n dooie lewe voorkom?
Die oplossing lê in bewustelike keuses – let wel, bewustelik. Die uitgebrandes en verroestes het ook gekies, maar nie bewustelik en proaktief nie. Hulle het gekies om slagoffers te word van wat met hulle gebeur. Hulle het gekies om beheer oor hul lewe af te staan.
Dis soos ‘n boom in ’n sterk rivier se stroomversnelling. Die water stroom om en oor die boom – hy kan niks doen behalwe om te probeer staan nie. En hy probeer hard, maar as die water sterk genoeg is, gaan hy weggevat word. Nou praat ons van depressie en ineenstorting – die wegraak in die stroom.
As ’n mens eers dáár is, is die pad terug oneindig lank en moeisaam en jy doen letsels op waarvan jy nooit weer heeltemal herstel nie. Dis beter om so ’n situasie te voorkom.
Deur bewustelik keuses te doen wat jou help skep aan jou lewe, voorkom jy innerlike doodsheid. Ons moet keuses doen wat ons in beheer plaas en nie omstandighede kans gee om vir ons te dikteer nie.
Hoe neem jy beheer oor jou lewe?
Elke mens se lewe stel unieke eise en ons moet individueel met daardie eise werk. Daar is egter beginsels wat vir almal geld en wat elkeen aan ‘n gehaltelewe kan help bou.
Besin oor gejaagdheid Ons het almal presies ewe veel tyd: 24 uur per dag. Hoe jy daardie 24 uur deurbring, lê in jou hande. Jy moet self jou tyd bestuur. Onthou, gejaagdheid is nie gelyk aan sinvolheid nie. Om jou dae tot oorlopens toe met aktiwiteite vol te prop, maak nie van jou ’n beter mens as iemand wat rustiger leef nie. Gejaagdheid kan trouens belaglik raak, soos die man wat net twee saggekookte eiers vir ontbyt eet, want dit gaan vinnig af!
Ruim sielstyd in Jy sal weinig aan ’n oorvol program kan doen as jy nie tyd maak om oor jou waardes te besin nie. Party mense baat by ’n daaglikse stilte- en meditasietyd. Ander funksioneer goed as hulle een keer per week ‘n betekenisvolle stiltetyd inruim. Party voel weer goed as hulle so een keer in ses maande ’n gesondheidsoord besoek waar hulle na liggaam en siel opgebou word. ’n Mens rig jou sielstyd volgens jou persoonlikheid in, maar sonder sulke tyd sal jy sukkel om regtig beheer oor jou lewe te kry.
Gebruik jou energie verstandig Gestel jy het ’n bedrag van R700 per week om te bestee – R100 per dag. As jy op dag een reeds oor jou limiet gaan en R170 bestee, tap jy reeds in dag twee se voorraad. Op dag twee oorbestee jy weer en so hou dit aan tot jy ná vier dae alles vir die week opgebruik het. Nou is jy in die nood. Net so het jy ’n sekere hoeveelheid energie.
Oorbestee oor ’n lang tyd en dit raak op. Die kers flikker-flikker en gaan dood – uitgebrand.
Ons is elkeen uniek ten opsigte van die hoeveelheid fisieke en psigiese energie wat ons het. Dis belangrik om jouself en jou grense te ken. Weet wat en hoeveel jy kan doen. So gebruik jy jou energie verstandig. Energie word deur sielstyd (psigiese energie) en deur ’n gesonde dieet, slim oefening en ‘n gesonde lewenstyl (fisieke energie) opgebou.
Beplan konstruktiewe dade Besluit wat vir jou belangrik is. Kyk na jou waardes, na dinge wat jou dieper self raak, en beplan jou aktiwiteite so dat dit jou verryk en versterk. Moenie net aanvaar dat die lewe leeg, vervelig en sinloos is nie. Maak dit sinvol.
Ons het almal vlerke waarmee ons kan vlieg. Die vraag is: Wat maak jy met jou vlerke? Wat kies jy?
’n Vers van Elisabeth Eybers illustreer hierdie keuse mooi
Wie vlerke dra, kan draai en dans –
’n windswael, glad, lasuuromglans;
of sit loodmoedig, dae aaneen
’n duif geboggel onder reën.
Jy kies die gehalte van jou lewe – soos John Goddard dit gedoen het. Jy kies of dit ’n uitgebrande dooie lewe is; of dit ’n leë lewe vol “regrets” is, en of dit ’n lewe van rykdom en vervulling is.
Die volledige lys verskyn in Richard D Leider se boek, Life Skills: Taking Charge of your Personal & Professional Growth. Pfeiffer & Co. San Diego