Die 16de jaarlikse SA Kaasfees is die afgelope naweek weer by Sandringham buite Stellenbosch gehou
Woorde en foto’s: Maryke Roberts
Kaas bly steeds die middelpunt van hierdie gewilde fees. Kaasmakers van regoor die land bring hul crème de la crème vir besoekers om te proe en aan te koop. Daar was vanjaar ook verskeie nuweling-uitstallers: Chechil SA van Bloemfontein, Bettie Bok (Weskus), Milkwood (George) en vele meer.
Vir feesvieringe uit die boonste rakke kan jy natuurlik ook nie sonder kaas se pasmaats soos uitgesoekte wyn, bier, varsgebakte brood, heerlike vleisprodukte, soete verleiding, sowel as handige resep-idees nie. Die grootste verskeidenheid kaas was in die Checkers Kaasemporium, en ander produkte in die Checkers Food Market, ’n gerieflike mini-winkel.
Glanssjefs Nataniël (geborg deur Checkers), Carmen Niehaus, Errieda du Toit, Haidee Muller, Amore Bekker en ander het feesgangers vermaak met hul koskennis in die nuwe Agri-Expo Kookpot en jy kon met die kaaskundiges en van die land se voorste kaasmakers soos Kleinrivier Kaas, La Montanara, Fairview, Udderley Delicious en Taaibosch Kaas in die nuwe Agri-Expo Cheesery gesels.
Die sjefs van die Private Hotel School het ’n reeks spesiaal-ontwikkelde resepte wat kaas en alternatiewe nisprodukte soos granate, vye en persimmons saam inspan, in die Cape Made Kombuis (met ondersteuning deur die Wes-Kaapse Departement Landbou) demonstreer en in die Standard Bank Proelokaal is wyn-en-kaas paringsessies, ’n kaas-en-bier ervaring met meesterbrouers Tim Godfrey en Stephan Lotz, Carmién Tee met ’n kaas-en-tee proe, Stellenbosch Vineyards met gegeurde wyn en kaasproe asook’n ontdekking van bokmelkkaasprodukte deur sjef Pete Goffe-Wood aangebied.
So tussen al die eet en drink deur, was daar vermaak deur Kurt Darren, BlackByrd en ander kunstenaars en verskeie aktiwiteite vir die kinders en tieners.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.