Die 32ste Nedbank Kaapse Wynmakersgilde-veiling het die afgelope naweek by Spier landgoed buite Stellenbosch alle rekords laat spat met verkope van meer R13,8 miljoen en nuwe rekord-pryse vir rooi-, wit-, Méthode Cap Classique en port-styl wyne. Die opbrengs is sowat R2 miljoen meer as verlede jaar.
Die Kanonkop CWG Paul Sauer 2013 het vir die tweede agtereenvolgende jaar die hoogste prys vir ‘n rooi wyn – R13 400 vir ses bottels – behaal. Jordan Chardonnay Auction Selection 2015 het ‘n nuwe veiling-rekord van R9 400 behaal; Silverthorn Wines Big Dog II Méthode Cap Classique 2011 se rekord-prys vir ‘n MCC was R7 000 en Boplaas Cape Vintage Auction Reserve 2009 se rekord-prys was R7 000 ‘n kis.
Tsogo Sun was vir die derde jaar die grootste koper met totale aankope van meer as R2,6 miljoen en ander top-kopers was The Butcher Shop & Grill, Singita, Crown Wine Cellars in Hong Kong, Restaurant Mosaic, Kobo Safaris en Signature Restaurant.
Miles Mossop, voorsitter van die Kaapse Wynmakersgilde, was baie dankbaar teenoor al die veilingkopers wat help met die transformasie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. “Ons kon vanjaar al R1,95 miljoen terugploeg in die ontwikkeling van talentvolle jong wynmakers en wingerdboukundiges, wat deel is van ons Nedbank Kaapse Wynmakersgilde Ontwikkelingtrust en ons Protégé program.”
Die 52 wyne het 34 rooi, 15 wit wyne, 3 Méthode Cap Classique, ‘n port-styl en ‘n potketel brandewyn ingesluit. Die grootste gedeelte van die wyne – 84% – is deur plaaslike kopers gekoop, terwyl 16% deur oorsese wynliefhebbers gekoop is.
Die gilde is vanjaar 33 jaar oud en het 47 wynmakers as lede. Hulle verteenwoordig die room van Suid-Afrika se wynmakers.
Die afslaer was Henré Hablutzel van Hofmeyr Mills Auctioneers, wat vir die 19de agtereenvolgende jaar die veiling waargeneem het.
Rianie Strydom van Strydom Family Wines en Abrie Beeslaar, wynmaker by Kanonkop. Die Kanonkop CWG Paul Sauer 2013 het vir die tweede agtereenvolgende jaar die hoogste prys vir ‘n rooi wyn – R13 400 vir ses bottels – behaal.
Die wyne op die “stil veiling” is in die voorportaal van die konferensielokaal by Spier vertoon.
Frans Smit, keldermeester by Spier en David Nieuwoudt van Cederberg.
Andries Burger, wynmaker van Paul Cluver Wines, Coenie Snyman, wynmaker van Rust en Vrede en Jean Engelbrecht, eienaar van Rust en Vrede.
Cathy van Zyl, Wynmeester en wynmaker Andrea Mullineux van Mullineux.
Miles Mossop, voorsitter van die Kaapse Wynmakersgilde en wynmaker by Tokara, staan by David Trafford van De Trafford Wines.