Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes het pas sy program vir sy herfs-konsertseisoen aangekondig
Deur JOHAN MYBURG
Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (CPO) het pas sy program vir sy herfs-konsertseisoen aangekondig en dié konserte wat oor vier weke strek, sluit werke uit die vorige twee eeue in – met ’n welkome oorwig 20ste-eeuse musiek. Die oudste werk wat uitgevoer word, is Beethoven se Fidelio-ouverture wat van 1814 dateer. Die jongste werk is William Walton se tjellokonsert, geskryf in 1956.
Die eerste konsert op 31 Mei het drie werke op die program: Sergei Rachmaninoff se simfoniese toondig Isle of the Dead, geskryf in Dresden in 1908 as ’n klassieke voorbeeld van die Russiese laat-Romantiek van die begin van die 20ste eeu; ’n klavierkonsert van Ottorino Respighi met Antonio Pompa-Baldi as solis en Maurice Ravel se orkesweergawe van Modest Moessorgski se Prente op ’n uitstalling. Die dirigent is Conrad van Alphen. Pompa-Baldi, die Italiaans-Amerikaanse pianis wat reeds by verskeie geleenthede in Suid-Afrika opgetree het, het onder meer die Cleveland- internasionale klavierkompetisie in 1999 gewen en daarna ’n loopbaan gevestig wat hom na al vyf vastelande geneem het.
Die tweede konsert op 7 Junie begin met Beethoven se Fidelio-ouverture, gevolg deur Pjotr Tsjaikofski se Vioolkonsert in D, op. 35 en die hoofwerk, Jean Sibelius se Simfonie no. 1 in e, ’n werk wat dié Finse komponis op 33 in 1899 voltooi het. Die solis in die Tsjaikofski is Nikita Boriso-Glebsky, die Russiese violis wat al voorheen saam met die CPO opgetree het. Hy word as een van die voorste violiste van sy generasie gereken. Van Alphen is ook weer op die podium vir dié konsert. Op 14 Junie is die dirigent Victor Yampolsky en die solis die besoekende Amerikaanse pianis Spencer Myer wat onder meer in 2004 die wenner van Unisa se internasionale klavierkompetisie was. Myer speel die Klavierkonsert in a van Edvard Grieg.
LEES OOK: Klassieke musiek: KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes
Die ander twee werke in die program is die Romeo and Juliet-fantasie-ouverture van Tsjaikofski en Sergei Prokofiëf se Simfonie no. 7 in c-kruis. Yampolsky is sedert die ontstaan van die Len van Zyl-kompetisie vir jong dirigente as beoordelaar betrokke en bied ook vanjaar weer meesterklasse aan vir kandidate van dié kompetisie, wat vanjaar vir die vierde keer aangebied word. Die laaste konsert in dié seisoen vind op 21 Junie plaas, weer met Yampolsky as dirigent. Die konsert begin met Richard Wagner se ouverture tot die opera Rienzi, gevolg deur die Walton-tjellokonsert. Die konsert word met Ralph Vaughan Williams se Simfonie no. 5 in D afgesluit.
Vaughan Williams het dié simfonie tussen 1938 en 1943 geskryf en wegbeweeg van die dissonansie van die Simfonie no. 4. Die no. 5 steun swaar op die strykers en word as dié komponis se “stilste simfonie” beskryf. Die solis in die Walton-konsert is die 25-jarige Russiese tjellis Alexander Buslov. The New York Times het oor Buslov geskryf: “Hy is ’n tjellis in die outentieke Russiese tradisie, en boonop een met die gawe om die tjello te laat sing en die gehoor met sy klank te betower. Hy is dosent in tjello aan Moskou se Tsjaikofski-konservatorium. Benewens die simfoniekonserte wat die CPO gereeld aanbied, is dié orkes ook by verskeie ontwikkelingsprojekte soos die Kaapstadse Filharmonie-jeugorkes (CPY) asook die CPY-houtblaasensemble, die CPO-musiekakademie en ’n dirigeerateljee betrokke.