Lausanne Hugo, ’n maatskaplike werker en kinder/spelterapeut, verbonde aan die Vita Nova-beradingsentrum in Pretoria gee die volgende waardevolle wenke vir ma’s van tienerdogters:
Ansja Ferreira
· Respekteer jou tiener se behoefte aan haar eie identiteit en onafhanklikheid
Een van die belangrikste ontwikkelingstake tydens die tienerjare is om jou eie identiteit te ontwikkel en om onafhanklikheid te bereik. Dit is hier waar jou dogter nodig het om te leer wie sy is, apart van haar gesin. Ouers raak soms hier bekommerd, want jou dogter gaan aspekte begin bevraagteken ten einde vas te stel wie sy is en waarin sy glo. Jou dogter moet weet dat dit toelaatbaar is om haarself te leer ken en jy as ma moet dit aanmoedig. As jy nie jou dogter lei en motiveer om haar eie identiteit te bou nie, mag sy dit dalk skelm doen (wat beteken dat jy geen leiding bied nie) of sy gaan nie haar eie identiteit ontwikkel nie. ‘n Tiener met ‘n swak identiteit (sin van self) is weerloos vir negatiewe portuurgroep-invloede en sukkel met interpersoonlike verhoudings.
· Maak dit so maklik as moontlik vir jou dogter om met jou te praat en luister vir haar
Kinders moenie bang wees om met hul ouers te praat nie. Kommunikasie tussen ’n ma en haar dogter moet van jongs af oop en eerlik wees. Jou dogter gaan talle onsekerhede en vrae hê en sy moet veilig voel om met jou daaroor te kan praat. As ‘n ma nie die regte inligting oor aspekte soos seks, menstruasie, swangerskap en verhoudings vir haar dogter gee nie, kan sy verkeerde inligting by maats of op sosiale media kry. Gee eerder vir jou dogter die regte inligting en beantwoord haar vrae (al is dit vir jou ongemaklik).
· Luister na jou dogter se idees en help haar om sekere konsepte beter te verstaan
Vanaf ongeveer 13 jaar oud begin kinders die vermoë ontwikkel om abstrak te dink. Hulle begin dus dink in terme van opsies en moontlikhede. Hierdie vermoë maak hulle egter meer krities en hulle kan soms die kritiek teenoor hul ouers of gesin uitdruk. Probeer as ma om nie die kritiek te persoonlik op te neem nie en help jou dogter verstaan dat daar ongelukkig nie ‘n perfekte wêreld bestaan nie. Luister ook na jou kind – soms het sy goeie idees en dit is vir haar bemagtigend om te voel dat sy ‘n bydra tot die gesin kan lewer. Maak jou dogter deel van die reëlsmaakproses en leer haar hoe om te onderhandel en keuses te maak. Wanneer jou tiener deel van die proses voel, is die kanse baie beter dat sy die huisreëls sal aanvaar.
· Help jou dogter om die verskillende emosies wat sy ervaar, te verstaan, uit te druk en te hanteer
Emosies is nie ‘n maklike konsep vir kinders om te verstaan nie. Tienerdogters kan maklik ‘n oorvloed van verskillende emosies ervaar en gemoedswisselings kan ook voorkom. Jou tienerdogter verstaan nie altyd waar al hierdie emosies vandaan kom nie en weet ook nie hoe om daaroor te praat of dit te hanteer nie. Help jou dogter om oor haar emosies te praat – dit help soms om vir haar ‘n dagboek (joernaal) te gee waarin sy haar emosies kan neerskryf. Sy moet verstaan dat emosies deel is van grootword en dat dit nie ‘n swakheid is nie. Sy moet ook weet dat sy nie vir ewig gaan hartseer/kwaad/bang/onseker wees nie. Tieners neig om te dink dat hulle elke dag sleg gaan voel. Hulle ervaar volwasse emosies, maar het nog nie die vaardighede om dit reg te hanteer nie. As jy ‘n introvertdogter het, gee haar ruimte en alleentyd (sy sal met jou praat wanneer sy gereed voel). As jy ‘n ekstrovertdogter het, gee haar die geleentheid om haarself uit te druk (al raak dit baie emosioneel). Hulle het nodig om uiting te gee aan die emosies. As jy bekommerd is moedig jou dogter aan om met iemand te praat wat sy en julle as ouers vertrou.
· Moenie ophou om vir jou dogter liefde te gee en dit te wys nie (al vra sy nie daarvoor nie)
Jou tiener het nodig om te hoor dat sy onvoorwaardelik aanvaar word en dat sy in haar gesin hoort. Gee haar erkenning vir wat sy in die huis of skool doen, al is dit iets kleins. Sy het ook steeds fisieke aanraking en koestering (drukkies, soentjies) nodig. Al het tieners ‘n behoefte aan onafhanklikheid, is dit steeds vir hulle lekker as hul ma’s vir hulle goedjies doen (kosmaak, koffie in die bed bring, ensovoorts). Jy kan nooit jou kind met liefde bederf nie. Jou tiener moet elke dag weet dat jy haar onvoorwaardelik liefhet. Onthou egter dat tieners redelik maklik skaam raak so kies ook toepaslike tye om jou liefde vir haar te wys.
· Gun jou dogter haar privaatheid
Alle tieners het ‘n behoefte aan onafhanklikheid en privaatheid (binne toepaslike grense). Indien moontlik gee vir jou dogter haar eie kamer, ‘n plek wat haar ruimte is en waar sy alleen kan wees indien sy dit nodig het. Respekteer haar privaatheid.
· Respekteer jou dogter se behoefte aan ‘n portuurgroep (vriende)
Aangesien tieners mekaar baie goed verstaan, is dit belangrik vir hulle om vriende te hê en om deel van ’n groep te wees. Jy moet jou dogter toelaat om vriende te hê en om tyd saam met hulle deur te bring. As jy jou dogter geleer het om ‘n sterk sin van haarself te hê, kan jy minder bekommerd wees dat sy die verkeerde vriende sal kies. Wys jou dogter dat jy haar vertrou om haar eie keuses te maak (al maak sy foute). Ongelukkig is foute die enigste manier waarop ons leer en jou dogter moet die nagevolge van haar keuses kan hanteer. So versterk jy ook haar sin van verantwoordelikheid.
· Help en moedig jou dogter aan om vir haar toekoms te beplan
Aangesien die tienerjare so stormagtig kan wees, is talle tieners oorweldig met al die take wat hulle moet verrig. Help jou dogter om haar toekoms te beplan deur met haar oor haar belangstellings, stokperdjies, aanlegte, drome, ensovoorts te praat. Onthou jou dogter mag dalk nie dieselfde drome/belangstellings as jy hê nie – laat haar toe om haar eie mens te wees. Jy kan nie jou lewe deur jou dogter oordoen of regmaak nie. Respekteer wie sy is en wat sy wil doen. Help haar om inligting bymekaar te maak en wys vir haar dat jy werklik belangstel in haar en dat haar toekoms vir jou belangrik is.
· Vra leiding en hulp as jy sukkel om jou dogter te verstaan
In hierdie geval is dit goed om by professionele persone te gaan leiding en hulp vra sodat hulle jou kan help om jou dogter te verstaan. Hulle kan jou ook help om met jou dogter te praat en om die verhouding tussen julle te versterk.
· Wees ’n goeie voorbeeld vir jou dogter
Kinders doen nie noodwendig wat jy vir hulle sê om te doen nie – maar kinders doen wat jy doen. Wees ‘n goeie voorbeeld vir jou tiener en moenie gedrag/take van haar verwag wat jy self nie sal/wil doen nie. Jou dogter gaan nie respek vir jou hê as jy dit nie verdien nie. Onthou: “Rules without relationship results in rebellion.” Dit is belangrik om te onthou dat jy vanaf geboorte ‘n goeie verhouding met jou kinders moet begin bou. Moenie wag tot jou kinders tieners is voordat jy goeie en oop kommunikasie aanmoedig nie. Maak seker dat jou dogter weet dat sy met jou kan praat, dat jy ook eens op ‘n tyd ‘n tiener was, dat jy ook foute gemaak het, dat jy ook nie altyd gelukkig was nie en dat jy ook mens is. Wees die soort ma wat jou kinders respekteer, nie vrees nie. Leer vaardighede aan as jy nie weet wat om te doen nie en as jy bekommerd oor jou tiener is, praat met ‘n professionele persoon wat jou kan leiding gee. Onthou jy is nie alleen nie en al is jou tienerdogter soms krities en moeilik het sy jou aanvaarding, erkenning en liefde nodig.
Besoek www.vitanova.co.za of kontak Lausanne by [email protected] of 0721 737 973 of bel Anri by 082 541 4357