Borsvoedingprobleme, tandekry en jou kleinste se dieet – hier is raad
Deur: Christa Swanepoel
As borsvoeding pynlik raak
“Die geboorte is niks teen hierdie seer nie,” sê ’n vriendin se dogter wat normaal gekraam het nou die dag. Dit som die seer van verstopte melkbuise en mastitis (melkkoors) goed op.
In haar boek Borsvoed jou baba vertel Marie-Louise Steyn ons meer daarvan. Wanneer melk nie ongehinderd uit die bors kan vloei nie, is daar twee reaksies in die liggaam. Eerstens is daar inflammasie in die area: dit word rooi, warm en seer. Tweedens – indien die verstopping nie regkom nie – kan infeksie intree, wat lei tot sistemiese simptome soos koors, moegheid, hoofpyn en lyfpyn (soos wanneer ’n mens griep het). Enige inflammasie of infeksie van die borsweefsel word mastitis genoem.
Dit is nie altyd moontlik om te onderskei tussen inflammasie en infeksie nie. Gelukkig is die behandeling vir albei dieselfde. Vinnige, effektiewe optrede kan keer dat inflammasie ontaard in mastitis of selfs in ’n borsabses. Maak dus ’n gewoonte daarvan om een maal per dag in die spieël na jou borste te kyk om te soek na enige rooiheid of knoppe.
Voorkoming is beter as genesing: hou jou borste gemaklik deur jou baba gereeld te voed of deur te pomp wanneer dit nie moontlik is nie. Maak seker dat jou voedingbra’s goed pas en dat die materiaal nêrens in jou borsweefsel insny nie. Baie ma’s wat herhaaldelik borsinfeksies kry, verbind dit met stresvolle tye wanneer hulle nie genoeg rus kry nie. Probeer dus om te slaap wanneer jou baba slaap en om goed vir jouself te sorg. Dit is ook moontlik om ’n borsinfeksie te kry weens barsies in die tepel: die bakterieë dring die bors deur die stukkende plek binne.
LEES OOK: Dis bewys, jy móét met Baba praat
Daar is drie belangrike fasette in die behandeling van verstopte melkbuise en borsinfeksies: gereelde lediging van die borste, hitte en massering. Jy kan die volgende wenke tuis probeer. Dit is gewoonlik genoeg om die inflammasie en selfs infeksie op te klaar:
- Voed jou baba gereeld, minstens tweeuurliks. Laat hom of haar in verskillende posisies drink om al die lobbe te dreineer. Jou melk is veilig vir die baba tydens ’n borsinfeksie, hoewel dit effens souterig kan proe en hy of sy dus minder entoesiasties kan voed. Dit is ook normaal om ná ’n borsinfeksie ’n paar dae lank minder melk in die aangetaste bors te hê. Hou maar net aan om baba dikwels te voed, jou voorraad sal herstel.
- As baba steeds nie genoeg drink nie, kan jy ’n borspomp gebruik om die aangetaste bors behoorlik te ledig.
- Sit warm waslappe op jou bors voor voedings en voor jy pomp om die melk beter te laat vloei en die buise wyer te maak. Jy kan selfs in ’n warm bad uitmelk.
- Week jou bors in ’n skotteltjie warm water waarby jy ’n hand vol Engelse sout (Epsom salts) gegooi het.
- Masseer die knop sagkens met klein sirkelbewegings terwyl baba voed en terwyl jy pomp. Dit kan ’n paar dae neem voor hierdie knop heeltemal verdwyn, maar indien dit ná ’n week nog daar is, moet jy ’n dokter raadpleeg.
- Bly 24 uur lank in die bed. Voed baba dikwels, rus en drink genoeg vloeistowwe.
- Gebruik Ibuprofen- en parasetamol-tablette (veilig vir jou baba) vir die pyn, koors en inflammasie.
- As jy nie binne 24 uur aansienlik beter voel nie, of indien jy ’n baie hoë koors (bo 38,4°C) het, moet jy ’n dokter spreek. Hy sal gewoonlik antibiotika voorskryf. Die meeste antibiotiese middels is veilig vir borsvoeding. Omdat die meeste borsinfeksies deur Staphylococcus aureus (of minder algemeen, deur E. coli) veroorsaak word, is ’n penisillase-bestande penisillien soos Cloxacillin of Diclocsallin gewoonlik die aangewese middel. Sefalosporien is ’n goeie alternatief. Hierdie antibiotika moet vir minstens 10 tot 14 dae voorgeskryf word en jy moet die kursus voltooi om te verseker dat die mastitis nie herhaal nie.
Wat jy ook al doen, moet nooit ophou borsvoed as jy ’n verstopte melkbuis of mastitis het nie. As jy jou baba nou speen, is die kanse goed dat jy ’n borsabses sal ontwikkel wat chirurgies of met ’n naald-aspirasie gedreineer sal moet word.
Raadpleeg ’n laktasiekonsultant as jy gereeld borsinfeksies kry sodat julle saam die oorsaak kan probeer bepaal en toekomstige probleme kan voorkom.
Daai eerste tande
Ná weke se gewroeg is jou baba se tandjie uiteindelik deur die tandvleis. Jy slaak ‘n sug van verligting, maar het jy geweet hoe belangrik daardie eerste tandjies is?
LEES OOK: Pas jou tande op
Die melktande dien as “plekhouers” vir permanente tande. Sonder ’n stel gesonde melktande kan ‘n jong kind sukkel om te eet en woorde te vorm. Dit beïnvloed ook hoe die kakebeen groei.
Dr Imraam Hoosen, ’n pediatriese tandarts, verskaf meer inligting.
- Tande verskyn gewoonlik tussen vier en sewe maande, maar babas verskil. Die eerste twee tande is gewoonlik die twee onder voor, maar sommige babas word met tande gebore – een uit 2 000 tot 3 000 babas. Tandekry kan pynloos wees, maar kan babas ongemaklik en kriewelrig maak, maar dit veroorsaak nie koors nie. ‘n Koue tandering of waslap bied verligting, of jy kan die tandvleis met jou vinger vryf. Vermy aspirien omdat dit Reye-sindroom kan veroorsaak, ‘n ernstige siekte wat die dood kan veroorsaak.
- Sorg reg van die begin af vir jou baba se tandvleis. In plaas van ‘n tandeborsel en tandepasta kan jy ‘n nat waslappie of gaas gebruik en twee keer per dag oor die tandvleis vee, veral ná voeding en voor slaaptyd. Dit raak van bakterieë ontslae en voorkom dat mikro-organismes aan die tandvleis bly kleef. Die bakterieë kan ‘n taai lagie op die tandvleis veroorsaak wat die tandjies kan beskadig as dit uitkom.
- As die eerste tandjies verskyn, kan jy ‘n sagte tandeborseltjie begin gebruik. Maak die tandeborsel aanvanklik net nat. Op een jaar kan jy ‘n ertjiegrootte hoeveelheid niefluoried-tandepasta begin gebruik. Begin eers op twee jaar met fluoriedtandepasta. Neem jou baba op een jaar vir die eerste keer tandarts toe.
- As tandbederf nie behandel word nie, kan dit tot probleme lei wat ‘n kind se leervermoë kan beïnvloed. Moenie jou baba met ‘n bottel melk of sap laat slaap nie, moenie vir jou groter kind verfynde suiker, gaskoeldrank en onverdunde sap gee nie.
- As jou klein kind van sy melktande weens tandbederf verloor, kan dit ‘n uitwerking op die permanente tande hê.
’n Heerlike begin
As jy van die begin af jou baba se dieet beplan, kan jy ‘n waardevolle bydrae tot sy ontwikkeling lewer. Vaste kos help met groei en dra tot ‘n baba se algemene gevoel van welbehae by. As jou baba nou reeds ‘n positiewe verhouding met kos het, is die kanse goed dat dit tot in sy of haar volwasse lewe só sal bly.
Claire McHugh, ‘n dieetkundige verbonde aan die Pampers-instituut, gee raad.
- Of jou baba nou geborsvoed is en of hy formulemelk gedrink het, op sowat ses maande kan jou baba aan vaste kos bekendgestel word. Jy as ma sal agterkom as jou baba reg is om vaste kos te begin eet. Hy sal nie meer met net melk tevrede wees nie. Let ook op wanneer jou baba alleen kan sit en homself op sy elmboë kan oplig as hy op sy maag lê. Dis ook veilig om met vaste kos te begin as jou baba se geboortegewig verdubbel het. Hy sal ook in kos begin belangstel as julle eet.
- Begin met ’n gewone ryspap en meng dit met jou baba se melk; maak dit pap genoeg om van die lepel af te loop. Die ryspap is gewoonlik met yster verryk omdat babas se ystervlak gewoonlik teen ses maande uitgeput is. Gee die eerste keer vaste kos as jou baba nie moeg is nie en nie te honger is nie, want die eerste kennismaking met kos moet aangenaam wees. As jou baba aan die pap gewoond is, kan jy met styselgroente soos pampoen, botterskorsie, patat en lemoenpampoentjie begin. Probeer elke twee tot drie dae ’n nuwe kos en let op enige allergiese reaksies. Hierna kan vrugte soos piesang en fyngemaakte appels en pere bygevoeg word.
- Soos jou baba aan kos gewoond raak, kan proteïen bygevoeg word. Hoenderlewers is ’n uitstekende bron van proteïen en yster. Lamsvleis wat papgekook is, is ook ’n goeie keuse. Bone en lensies is ’n goeie vegetariese keuse en kan maklik met groente gemeng word.
- Soos jou baba meer eet, kan jy ook teksture in sy etes inbring en sy melkinname verminder. Drie etes per dag plus twee snoephappies tussenin behoort voldoende te wees.
- As daar ’n familiegeskiedenis van allergieë is, kan jy kos wat normaalweg allergieë veroorsaak ’n bietjie later in die dieet inwerk. Hou die heuning maar eenkant tot jou baba een word, want dit kan botulisme veroorsaak – ’n ernstige vorm van voedselvergiftiging. Allergiese reaksies kan onmiddellik of vertraag wees. Onmiddellike reaksie sluit swelling, braking en asemhalingsprobleme in. Vertraagde reaksies is tipies ekseem, en gastro-intestinale probleme soos diarree en hardlywigheid.
Meer inligting
Inligting verskaf deur die Pampers-instituut se paneel kenners. Besoek www.pampers.co.za vir meer inligting