Wat’s die voordele van tuisonderrig?
Angelique Noll
Volgens Google Trends, word die woord “homeschooling” net in Amerika meer opgesoek as in Suid Afrika, en dis ’n beweging wat wêreldwyd groei.
Die dae waar tuisonderrig in die geheim moes plaasvind omdat dit onwettig en as radikaal beskou is, is al lankal verby. Sedert 1996 word daar in ons skolewet voorsiening vir tuisonderwys gemaak. Tuisonderwys word streng gedefinieer as onderwys wat by die kind se huis plaasvind en die meeste van die onderrig moet deur ‘n familielid gedoen word. Dus sluit die konsep van tuisonderrig nie die “mikroskool” in nie.
Daar is tans ongeveer 90 000 tuisleerders in Suid Afrika en daar word verwag dat die getal oor die volgende paar jaar gaan styg.
Retha Viljoen, ’n Johannesburgse ma van drie (die oudste is 14 en die tweeling is 11) het eers as ’n remediërende onderwyseres gewerk, maar het op tuisonderrig vir haar eie kinders besluit nadat sy navorsing daaroor gedoen het. Haar man, wat ’n belastingbestuurder is, het haar keuse ondersteun en dus was hul kinders nog nooit na enige skool óf kleuterskool toe nie. “Dit gee my volle beheer oor my kinders se onderwys,” sê Retha, “en ek kan ons familiewaardes aan hulle oordra.” Dit sluit in waardes soos ‘n liefde vir lees en leer, hoë akademiese verwagtinge, die belangrikheid van roetine en ‘n toekomstige universiteitsloopbaan.
Die Tonoli-gesin het ook nog nooit hul twee dogters na enige skool gestuur nie. Minette Tonoli het ‘n honneursgraad in kommunikasie. “Vir my het die keuse heeltemal spontaan oor ‘n paar jaar ontwikkel ná baie oplees oor opvoedkundige metodes.”
Denise Ganesh, wat ‘n onderwysgraad en klaskamerervaring het in Suid-Afrika en Engeland, gee ook haar kinders onderrig tuis. Haar kinders is onderskeidelik drie, ses en nege jaar oud. “Ek het tuisonderrig gekies om minder druk op my kinders te plaas en om hul kreatiwiteit lewend te hou,” sê Denise. Vir haar is dit ook belangrik dat haar kinders hul kinderjare so lank as moontlik geniet en graag nuwe dinge leer.
’n Tipiese tuisskooldag
Daar is so baie verskillende soorte tuisskool dat ‘n tipiese dag vir elkeen anders lyk.
Minette volg byvoorbeeld ‘n selfleermetode, wat in Engels as “unschooling” bekend staan. Sy verduidelik hoewel die spesifieke definisie van “unschooling” vir elke gesin anders is, kom dit daarop neer dat “‘n leefwyse en filosofie gevolg word waarin die kinders nie in ‘n formele skoolomgewing geplaas word of ‘n streng kurrikulum volg nie.” Kinders word merendeels toegelaat om te leer deur hul daaglikse ondervindinge en in ‘n konteks wat ooreenstem met hul persoonlike belangstellings.
Mari Lautenbach, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, sê die selfleermetode het die potensiaal om kinders beter voor te berei vir ‘n wêreld wat gedurig en vinnig verander.
Hoe lyk ’n dag in ’n selfleerder se lewe? “Die beste beskrywing is seker dat dit soos ‘n normale vakansiedag lyk vir skoolgaande kinders,” grap Minette. Sy gebruik haar kinders se belangstelling in ‘n sekere onderwerp as beginpunt en maak dan gebruik van die internet, boeke, plekke om te besoek, kuns, eksperimente en gesprekke om hulle meer daarvan te leer. Vaardighede soos wiskunde, lees en skryf is ook in hierdie konteks aangeleer. “Niks word geforseer nie en die kinders is merendeels in beheer van hul eie leerproses,” sê Minette. “Ons het ook nie ‘n formele skedule, kurrikulum of klaskamer nie.”
Die Viljoen-gesin volg weer ’n meer tradisionele metode van onderrig en hul dae verskil heelwat van die Tonoli’s s’n. “Ons begin elke dag om agtuur met skool en volg ‘n daaglikse akademiese skedule,” vertel Retha. “Ons werk in ’n leerruimte met ’n groot tafel, stoele en bord en volg ’n kurrikulum wat ek self saamstel deur verskillende kurrikulumverskaffers se boeke te gebruik.” Haar kinders werk al baie onafhanklik van haar hoewel sy nog moet hand bysit, veral met die tweeling.
Denise se leerwyse val iewers tussen Minette se informele selfleer-filosofie en Retha se gestruktureerde metode. “Ons probeer die nasionale kurrikulum volg, maar ek maak seker die kinders verstaan alles wat hulle leer,” sê Denise. Vir haar is die nasionale leerplan net ’n riglyn om haar eie kinders se vordering te monitor. Hulle het ‘n behoorlike klaskamer wat propvol boeke en ander toerusting is, soos blokke, flitskaarte, kunsbenodigdhede en wetenskaplike apparate vir eksperimente. Daar is nie vaste skoolure nie en party dae is meer akademies georiënteer as ander.
Sosialisering en diversiteit
Die tuisonderriggemeenskap is vandag baie divers. Retha noem byvoorbeeld dat in die koor vir tuisskolers waarin haar kinders sing, daar omtrent 80 kinders is en hulle van elke rasse- en geestelike groep in die land afkomstig is.
“Dis belangrik vir mense om te weet dat die tuisskoolgemeenskap nie uitsluitlik wit en Christelik is nie, maar dat dit net so divers is as enige skool in die land,” sê sy.
Minette vind dat haar kinders maklik vriende maak en dat hulle geen sosiale aanpassingsprobleme ervaar nie. “Al die ander tuisskolers wat ons tot dusver ontmoet het, was goedgemanierd en kon lekker in ’n groep saamspeel. Dit is net nie waar dat tuisgeskoolde kinders noodwendig sosiale probleme gaan ervaar nie.”
Retha waarsku egter dat ouers wat tuisonderrig kies, baie moeite moet doen om na hul kinders se sosiale ontwikkeling om te sien. “Die ouer moet bereid wees om baie rond te ry en aktiwiteite vir speel en sosiale interaksie te organiseer.”
Retha meen dis eintlik ’n voordeel en Minette stem saam. “Ek het meer beheer oor wie my kinders se vriende is,” sê Minette, en Retha waardeer die feit dat sy betrokke kan wees en “dat ek my kinders kan leer hoe om goeie keuses te maak wanneer dit by vriende kom.”
Denise se opinie is dat tuisgeskoolde kinders veel meer “regte-wêreld-ervaring” van mense kry. “Ons kinders ontmoet mense soos hulle in die regte lewe is sonder skoolreëls en regulasies om elkeen se gedrag te monitor.” Sy sê ook haar kinders kom “met mense van elke ras-, geloof-, sosio-ekonomiese en kulturele groep in aanraking. Diversiteit is deel van ons lewe.”
Buitemuurse aktiwiteite
Tuisgeskoolde kinders het oor die algemeen dieselfde aktiwiteite as gewone skoolgaande kinders tot hul beskikking.
Hulle neem deel aan koorsang, sport, musiek, dans, swem en drama. Hulle presteer ook in akademiese en kulturele kompetisies soos olimpiades, wat jaarliks gehou word.
“Sommige skole laat ook toe dat kinders wat tuisonderrig kry, by hul spansporte aansluit en aan die kompetisies deelneem,” vertel Retha, “en in die tuisskoolgemeenskap reël ons baie van ons eie kompetisies en byeenkomste.” Dus is daar geen rede vir ‘n kind om nie aan spansport deel te neem nie. Vind net uit wat in jou gemeenskap beskikbaar is.
Kan my kind universiteit toe gaan?
“Tuisgeskoolde kinders is net so aanvaarbaar op universiteit as enige ander skoolkind,” sê Carol Crossley, adjunkregistrateur van studentesake by die Universiteit van die Witwatersrand.
Sy dring egter daarop aan dat tuisgeskoolde leerders eksterne toetse moet skryf vir hul graadtwaalfjaar soos die Onafhanklike Eksamenraad- of Cambridge-eksamens. Baie tuisleerders verkies ook om net hul matriekjaar by ‘n skool te voltooi en sodoende hul Suid-Afrikaanse graad 12-kwalifikasie te behaal.
Retha doen self alles wat sy kan om haar kinders vir die universiteit voor te berei. “Ons oefen om van ’n bord af te werk en elke nou en dan tree iemand anders as onderwyser in sodat die kinders gewoond kan raak om onderrig van verskillende mense te ontvang. Ons stel ook hoë akademiese vereistes aan ons kinders.” En aangesien baie ouers wat tuisonderrig kies, self ’n universiteitsgraad het en ’n professionele pos beklee, is dit duidelik dat tuisonderrig nie ’n universiteitsloopbaan uitsluit nie.
Wanneer werk dit nie?
Mari Lautenbach gee die volgende raad:
Tuisskool werk nie as …
· Ouers nie oor tuisonderrig ooreenstem nie.
· Ouers nie deeglike finansiële beplanning vooraf gedoen het nie.
· Daar nie behoorlike navorsing gedoen is oor die tuisonderrigprogram wat gevolg gaan word nie.
· Sosialisering nie kan plaasvind nie.
Tuisskool werk as …
· Die ouer ’n meer buigsame of nuwe kurrikulum wil instel soos om die selfleermetode (“unschooling”) te gebruik.
· Al twee ouers gedissiplineerd genoeg is om totale verantwoordelikheid vir die kinders se onderrig te neem.
Goeie idee
Mari sê tuisskool is ook ’n baie goeie keuse vir kinders wat aan professionele sport deelneem en aan ’n unieke en meer buigsame leerprogram moet werk. Kinders wat ’n mediese toestand of fisiese gestremdheid het, sal ook baat vind by die persoonlike aandag van ’n tuisskool.
Besoek www.tuisskolers.org en www.pestalozzi.org