Jou kinders verskil hemelsbreed. Moet jy hulle dieselfde benader?
Zerelda Esterhuizen
Dieselfde ma en pa, dieselfde huis, dieselfde als, maar kinders se persoonlikhede verskil heeltemal. Kan ‘n mens dan aanneem dat daar verskillende grense en selfs verskillende dissiplinestyle vir hulle moet wees?
Ansu Coetzer, ma van drie van Pretoria, sê ja. “My oudste is die eiewillige kind wat my met alles teengaan, my middelkind is die dromer en vrygees en my jongste is die inskiklikste, sagste kind wat jy kan kry. Ek moet vir seker verskillende grense vir hulle stel. My dissiplinestyl met elkeen verskil ook ietwat. Ons glo nie aan lyfstraf nie, maar volg ander metodes met elkeen.”
Sarah Kibblewhite, kliniese sielkundige aan die Hincks-Dellcrest-sentrum in Kanada, sê dit is oukei as die graad van dissipline verskil.
“As ‘n kind meer aandag of meer dissipline as ‘n ander benodig, moenie daaroor skuldig voel nie. Wees net bewus van elkeen se individuele behoeftes.”
Daar is egter ‘n fyn lyn, maan sy, want kinders kan gou voel dat ouers partydig is en dat hulle onregverdig behandel word.
Dr Arina Lanser, opvoedkundige sielkundige van Strubensvallei, glo
basiese reels soos kamer opruim, bad- en slaaptye en basiese maniere in die gesin moet geld, ongeag van verskeie persoonlikhede. “Dit moet natuurlik by die kind se ouderdom en fase van ontwikkeling pas. Wat wel nodig is, is dat ouers ‘n meer demokratiese styl in dissipline, die neerlê van reels en roetine, prestasie en dies meer moet hê om die beste uit enige soort persoonlikheid van ‘n kind te kry. Dit beteken nie om met alles in te gee nie. Dit beteken ook nie om ‘n pion te word wat die kind onverskillig kan manipuleer nie.
“Nee, dit beteken dat ouer en kind by basiese reels, wat saam opgestel is, moet bly. Waardes soos basiese maniere, respek, mense-verhoudinge en aanvaarding van gesag behoort ‘liefdevol’ van elke kind verwag te word en ouers moet self die voorbeeld stel. Ouers moet egter, selfs in geval van skeiding of trauma, seker maak dat hulle in ooreenstemming is. Indien nie, gaan die kind die situasie manipuleer en bestaan die kans dat ‘n boelie en bedorwe brokkie ook in so ‘n volwassene ontwikkel.”
Die realiteite
Arina sê ouers het moontlike verskillende ouerskapstyle, waardes en ideale vir hul kinders:
Outokraties: “Jy sal dit doen omdat ek so sê!”
Permissief: “Wees vry, doen alles, leer uit jou foute en mislukkings.”
Demokraties: Onderhandeling tussen ouer en kind. Die ouer het vooraf reeds ‘n antwoord in gedagte, maar gee die kind geleentheid om te onderhandel en deel van die eindbesluit te voel.
Gehoorsame ouer: Laat alles toe, want die ouer voel skuldig oor vorige trauma, byvoorbeeld egskeiding, pendel tussen stede of lang werksure. Die ouer meen dus dat onbeperkte toegang tot tegnologie, sosiale media en dies meer vir hartseer sal opmaak.”
Sy sê daar is boonop nog veranderlikes wat ‘n rol speel:
· Die sosio-ekonomiese stand van die gesin en gemeenskap met sekere waardes en tradisies.
· Die posisie van die kind in die gesin, soos oudste, middelste, jongste, enigste, een van ‘n tweeling.
· Die persoonlikheid en uniekheid van elke kind – ‘n introvert of ‘n ekstrovert.
· Skielike veranderende omstandighede in die gesin, soos werkloosheid, egskeiding, geweld, kaping, en dies meer.
· Skoolomgewing versus ouerhuis. Die skool moedig dalk sekere gedrag en denkwyse aan wat nie noodwendig met die ouers se styl ooreenstem nie.
· Nuwe verskynsels en tendense wat byvoorbeeld nie so algemeen en relevant was soos voor ouers kinders gehad het nie, soos sosiale media, boelies, kompetisie in skole, en dies meer
· Mediese toestande met een kind in die gesin en die uitdagings vir sibbe in die verband.
Arina sê daarom is dit so belangrik dat ouers oor hul ouerskapstyl moet kommunikeer en dieselfde boodskappe aan hul kinders moet stuur.
Trek jy ‘n kind voor?
Volgens ‘n oorsese studie Study of Differential Treatment in 2008 onder vyf- en sewejarige sibbe en hul ouers, is daar onder 172 gesinne gevind dat ouers wel hul kinders verskillend behandel. Hoewel die meeste kinders gevoel het hul ouers hanteer hulle verskillend, het slegs ‘n klein gedeelte ouers erken dat hulle doen. Dit toon dat ouers oor die algemeen voel hulle behandel hul kinders dieselfde of regverdig.
Die sielkundige en skrywer Carl E Pickhardt sê voortrekkery is g’n grap nie en as ouers ‘n gunstelingkind het, kan dit ‘n blywende impak op die gunstelingkind sowel as die ander kind hê.
Kinders wat afgeskeep word, voel asof hulle onregverdig behandel word en die een wat die gunsteling is, op als kan geregtig voel. Tieners is veral baie sensitief vir voortrekkery omdat hul verhouding met hul ouers in hierdie tyd in die algemeen negatiewer raak.
Carl sê die redes vir voortrekkery wissel. Daar is die kind wie se persoonlikheid met haar of sy ouers s’n ooreenstem, die presterende kind, die maklike kind wat net met als inval, die oudste kind wat al die aandag gekry het en nou ekstra aandag kry omdat die ander kinders hom of haar onttroon het, en die jongste kind wat bederf word. Kinders word ook op grond van hul geslag voorgetrek en natuurlik dan ook die kind wat spesiale behoeftes het en wat baie energie en hulpbronne verg.
Wat moet ouers doen?
Carl sê ouers moet na hul kinders se klagtes oor die onderwerp luister en daarop reageer. “Dis regtig net ‘n beroep op ‘n bietjie aandag en goedkeuring. Moenie jou kinders met mekaar vergelyk nie,” maan hy.
Wat ouers moet doen:
1. As jy jou kinders verskillend hanteer, wees eerlik daaroor en verduidelik die rede. Sussie is dalk ‘n bietjie ouer as Boetie en sy mag daarom meer tegnologiese voorregte geniet.
2. Prys al jou kinders se goeie gedrag.
3. Moet nooit kinders met mekaar vergelyk nie. “Hoekom kan jy nie meer soos jou suster wees nie, sy is so gehoorsaam” of “Ek wens jy was so goed in wiskunde soos jou boetie”.
4. As jou een kind meer gedissiplineer moet word as die ander, sorg dat jy hom opbou en veral fokus op dit wat hy reg doen.
5. Probeer tydens konflik kalm bly.
6. Neem jou kinders se ouderdom in ag as jy oor dissipline besluit. Jonger kinders moet onmiddellike gevolge sien terwyl ouer kinders sal besef dat ‘n oortreding in die oggend daartoe kan lei dat ‘n voorreg in die aand weggeneem kan word.
7. Elke kind is anders. Kinders ontwikkel verskillend, het verskillende persoonlikhede en individuele behoeftes. Neem dit in ag en ondersteun hulle ten volle.
Dr Arina Lanser: 083 266 9575, [email protected],
besoek die webwerf vir meer info
Lees meer oor voortrekkery op www.carlpickhardt.com