Ons hoor dikwels van die woord ‘gemaksone’ en dat dit goed is om soms ons tone daarbuite te waag. Maar hoe werk dit regtig?
Ansja Ferreira
Ons is almal met ‘n sekere persoonlikheid gebore en jou persoonlikheid hou meer van sekere situasies as ander, sê Rozanne Raath, ‘n lewensafrigter van Bloemfontein.
“Jy floreer daarin en dit is vir jou bekend. Jy weet ook uit ervaring dat die situasie of sone vir jou werk.
“Bogenoemde teken die kaart van ons lewens waarvolgens ons na die wêreld kyk, maar ook waardeur ons die wêreld ervaar en beoordeel. ‘n Gemaksone is dus ‘n oogpunt of plek wat aan ons bekend is. Eintlik moet ons dit eerder ‘n bekende ‘sone’ noem, want hierdie sone is nie noodwendig vir ons so gemaklik nie.”
Is jy bang vir die onbekende of hou jy van verandering? vra Rozanne. Sy verduidelik verder.
“Ons het in alle stadiums twee pare diep kernbehoeftes wat in balans met mekaar moet wees: Die behoefte aan sekerheid, stabiliteit en beheer, versus die behoefte aan verskeidenheid, verandering en vernuwing. Die volgende twee behoeftes wat in so ‘n wisselwerking is, is: Beduidendheid of eie belang (individualisties gerig), versus liefde, konneksie en vrede met ander (groepgerig).
“In elke aspek van jou lewe is hierdie wisselwerking aan die gang en beweeg ‘n mens van die een na die ander kant.”
Wanneer die bogenoemde vier behoeftes bevredig en in balans is, is ‘n mens reg om te groei en ‘n verskil te maak. So, wanneer jy gelukkig voel, jou behoeftes bevredig is en jy voel jy is waarlik op ‘n goeie plek, moenie torring aan ‘n ding wat werk nie. Daardie gemaksone of bekende sone is vir jou goed, sê Rozanne.
“Wanneer jy dan ongelukkig voel in ‘n spesifieke aspek van jou lewe, moet jy oplet of jou behoeftes eerstens bevredig en tweedens in balans is,” verduidelik Rozanne. “Jy sal sukkel om te groei of ‘n verskil te maak as jy die rookseine van jou ander behoeftes ignoreer. Dit is die hooftaak van psigoterapeute of lewensafrigters om jou gedagtegang hieroor te bevraagteken. Is jou gemaksone werklik so gemaklik? Is dit werklik so veilig?”
Sy gee ‘n paar voorbeelde:
- Mense wat sê hulle wil gewig verloor, maar aanhou verkeerd eet en drink.
- Mense wat sê hulle wil terugvoer oor probleemgedrag hê, maar verdedigend of aggressief raak as hulle dit ontvang.
- Mense wat sê hulle wil rustiger leef, maar besluit om ‘n ekstra kontrak in te neem (al moet hulle 55 uur per week werk), nog klein kinders het, ‘n lewensmaat het wat ook werk en spanningshoofpyne kry.
- ‘n Vrou wat haar buite-egtelike verhouding ter wille van haar kinders wil beëindig, maar steeds aanhou om die ander persoon te kontak, want dit is ‘n avontuur.
- ‘n Man wat sê hy wil ophou rook, maar aanhou om snags sigarette in te smokkel.
- ‘n 25-jarige wat sê dat hy wil uit sy ouerhuis trek, maar nie aktief vir ‘n woonstel soek nie.
“Ons sê maklik dat ons ‘n beter lewe wil hê, dat ons wens dinge kon anders wees of ons wens dat ons ander mense kon verander,” sê Rozanne. “Daar is iets in die menslike psige wat net daarteen skop as iemand jou voorsê, want ons eie wil is te sterk. Mense doen wat hulle uit die staanspoor wou doen en vra net raad om hul oorspronklike planne te bevestig. Ons klou vas aan dit wat ons ken, al is dit pynlik, destruktief of sleg vir ons gesondheid. Ons is mense, so ons doen dit net.”
Rozanne verduidelik dat om verandering teweeg te bring tyd gaan neem, want ou gewoontes of gedagtegange moet afgeleer word en nuwes moet uitprobeer word.
“Tog is dit nie onmoontlik nie,” sê sy. “As jy regtig wil, sal jy dit regkry. Begin klein en toets die nuwe gedrag, gedagtes of ingesteldheid. Wanneer jy sien dat dit jou nie ‘doodmaak’ nie, sal dit bewyse vorm dat die nuwe sone goed vir jou is.
“Soos wat jy die bewyse daarvoor opstapel, sal jy al meer oortuig word en sal dit later ‘n gewoonte kan raak. Wanneer jy ‘n paar weke later terugkyk, sal dit weer soos jou gemaksone of bekende sone voel, en voila, jy het jou eindbestemming bereik!”
Rozanne Raath is ‘n lewensafrigter en kan by [email protected] of www.inspired2coach.net gekontak word