Word selfdood geromantiseer? Ons kyk na die kwessie in ons 20 Februarie-uitgawe. Lees meer meer oor jongmense en selfdood.
Kristel Loots
Tieners en jongmense bevind hulself dikwels op ’n emosionele wipwaentjie. Tydens die storm-en-drang-dae word hul gemoedstemming deur hormone en sosiale faktore beheer en gemanipuleer. Dis gewoonlik tydens hierdie jare dat die eerste liefde sy of haar verskyning maak. Daarna is die lewe nooit weer heeltemal dieselfde nie.
Die krag van kalwerliefde mag nooit onderskat word nie. Die intense verlies as daar iets sou verkeerd loop, kan nie as tydelik en onbelangrik afgemaak word nie. Seker die bekendste tienertreurspel, die fiktiewe Romeo en Juliet, demonstreer hoe maklik daar oorboord gegaan kan word, veral wanneer ’n volwasse uitkyk op die lewe nog nie ontwikkel het nie. Ongelukkig gebeur dit gereeld dat silwerdoekhelde en heldinne ’n uitweg van selfdood kies en moet daar gewaak word dat dit juis nie vir jong gemoedere na ’n wonderlike ‘avontuur’ begin lyk nie.
So glo ’n jongeling dalk kan jy bewys hoe allesoorheersend jou liefde vir die teenoorgestelde party was. Jy sien moontlik voor jou geestesoog hoe hy of sy vir die res van sy lewe spyt is oor wat jou aangedoen is en oor jou treur. Jy besef nie dat die teenoorgestelde eerder waar is en dat daar dalk gou iemand sal wees om die geliefde in sy smart te troos nie.
Louis Awerbuck, kliniese sielkundige, skrywer van die boek en aanbieder van die radioprogram, Wie is ek? met Louis & Lise wys daarop dat “heldhaftige” maniere van selfdood, soos om voor ’n koeël in te spring vir ’n geliefde, positief en met bewondering in die meeste kulture aanvaar word. Daarteenoor word selfdood vir “romantiese” of filosofiese redes dikwels as ’n “swakheid”, of as “selfsugtig” ervaar.
“Feite oor selfdood in Suid-Afrika spreek vanself. Daar word bereken dat 11% van alle onnatuurlike sterftes in die land is weens selfdood. Dit is geweldig hoog (veel hoër as die gemiddelde wêreldgetal). Dit beteken letterlik dat daar een selfdood elke uur of uur en ’n half by ons voorkom.
“Meer mans as vroue pleeg selfdood in ons land. Vir elke vier mans wat selfdood pleeg, neem een vrou haar eie lewe. Die interessante is egter dat meer vroue as mans probeer selfdood pleeg, maar dat mans meer suksesvol in hul pogings is omdat hulle meer gewelddadige metodes gebruik soos byvoorbeeld om hulself te skiet of te hang.”