Die jonger Sutherland se stemkwaliteit is as ‘vars’ en ‘klokhelder’ beskryf. Daarna is dit as ‘goud’ en ‘warm’ beskryf
Deur JOHAN MYBURG
Dit was haar vertolking van Handel se towenares Alcina in die gelyknamige opera in Venesië in 1960 wat haar die bynaam La Stupenda besorg het – ’n naam wat Joan Sutherland haar lewe lank gedra het.
“Die verstommende een”, sou ’n direkte vertaling van dié lofprysing wees en dit spreek vanself dat Italië gek was oor dié Australiese sopraan wat in 1960 haar Italiaanse debuut in La Fenice gemaak het. Die vorige jaar het sy op 32 haar roem in Franco Zefirelli se voorstelling van Lucia di Lammermoor met Tullio Serafin as dirigent in Londen se Covent Garden beklink.
Dit was dié rol wat Sutherland haar eie gemaak het en ook een van die rolle wat sy die meeste in haar loopbaan gesing het. Joan Sutherland is in 1926 in Sydney, Australië, gebore en sang was altyd deel van haar lewe. Haar ma was ’n kranige mezzo en die jong Joan het gereeld in oratoriums en konserte opgetree. In 1947 het sy die hoofrol in Purcell se Dido and Aeneas losgeslaan en twee jaar later het sy haar sekretariële betrekking prysgegee om op haar sang te konsentreer.
Op 24 is sy na Londen waar sy aan die Royal College of Music studeer het en weer die Australiese pianis Richard Bonynge (en later dirigent) raakgeloop het met wie sy in 1954 getroud is. Vir die Royal Opera House het sy vanaf 1952 verskeie rolle vertolk: van Alcina tot Pamina en die Koningin van die nag in Die Zauberflöte; van Agathe in Der Freischütz tot Woglinde in Das Rheingold. Tot die aand in 1959 toe sy as Donizetti se Lucia die operawêreld aan die praat gesit het. Haar Covent Garden-triomf word steeds as een van die bepalende oomblikke in die geskiedenis van 20ste-eeuse opera gereken. Ná haar Italiaanse sukses het sy as Alcina haar Amerikaanse debuut in Dallas gemaak, en daarna haar debuut in Parys as Lucia en as Elvira in I puritani by Glyndebourne. In 1961 het sy haar debuut in die rol van Lucia in Milaan se La Scala gemaak.
LEES OOK: Klassieke klanke: Anna Akhmatova
Haar debuut in New York was ’n konsertweergawe van Bellini se Beatrice di Tenda in die stadsaal en dié uitvoering het soveel belangstelling gelok dat nog twee uitvoerings in die Carnegie Hall gereël is. Ná ’n loopbaan van bykans 40 jaar het Sutherland in 1990 op 64-jarige ouderdom afgetree. Haar vaarwel aan die verhoog was die partytoneel in die tweede bedryf van Die Fledermaus saam met Marilyn Horne en Luciano Pavarotti. Die volgende jaar het sy dame Joan Sutherland geword. Die jonger Sutherland se stemkwaliteit is as “vars” en “klokhelder” beskryf. Dit was tot en met 1963 die geval.
Daarna is dit as “goud” en “warm” beskryf. “As die klankspektrum van helder tot donker strek, sou ek meen Sutherland lê iewers in die middel,” het John Steane, Engelse kritikus, oor haar opgemerk. Dit was dié kwaliteit wat Sutherland aan ’n wye register én ’n wye aanhang onder luisteraars blootgestel het. Sutherland het ’n besonderse rol in die 20ste-eeuse herlewing van die bel cantoen veral Franse repertorium gespeel. In dié opsig was dit haar coloratura-soepelheid, haar onberispelike intonasie en uitsonderlike boonste register wat daartoe bygedra het. Sy was ’n harde werker en volgens mense wat met haar saamgewerk het, ’n meelewende kollega. Danksy haar onopgesmuktheid en humorsin het sy wyd vriende gemaak en aanhangers gewerf. Ná haar aftrede het Sutherland haar in Switserland gaan vestig waar sy in 2010 dood is.