Briljant soos wat sy was, was Janet Baker immer ’n dame en nooit ’n diva nie
Deur JOHAN MYBURG
Dame Janet Baker, die Engelse mezzosopraan wat so bekend is vir die intensiteit van haar vertolkings, of dit nou opera of Lieder is, het in Augustus 85 geword. As daar een Baker-operavertolking is wat ’n mens bybly, is dit sekerlik haar voorstelling van die tragiese heldin Dido, of dit nou was in Henry Purcell se Dido and Aeneas en veral die aria When I am laid in earth … of in Hector Berlioz se Les Troyens. Op die konsertverhoog was dit die Lieder van Gustav Mahler en dié van sir Edward Elgar waarin haar onberispelike diksie en begrip van die teks – in watter taal sy ook al gesing het – wat so mateloos beïndruk het.
Dink maar aan haar weergawe van Mahler se Kindertotenlieder en Elgar se Sea Pictures. Haar laaste opera-optrede was in 1982 by Glyndebourne toe sy die rol van Orfeo in Christoph Willibald Gluck se Orfeo ed Euridice gesing het. Sy was toe 49. Sy het daarna wel nog vir ’n verdere sewe jaar Lieder-vertolkings gegee voordat sy in 1989 ophou sing het. Nie in een van die gevalle was dit omdat haar stem probleme gegee het nie. Briljant soos wat sy was, was Baker immer ’n dame en nooit ’n diva nie. Daar was in die media geen berigte oor uitvalle met operabesture nie, daar was geen uitspattige lewenstyl of dramatiese verhoudings nie.
LEES OOK: Klassieke klanke: Alissa Margulis
’n Mens sou haar loopbaan só kon saamvat: Sy het haar talent ontgin en hard daaraan gewerk om dit te slyp; sy het rolle uitgesoek wat haar soos ’n handskoen gepas het en opnames van die hoogste gehalte gemaak (daar bestaan nie mindere opnames van Janet Baker nie); sy het wonderlike Lieder-uitvoerings gegee en op die kruin van haar sukses, op 56, haar loopbaan tot ’n einde gebring. Toe die applous op sy dawerendste was, het Baker haar loopbaan vaarwel toegewuif en met haar private lewe aangegaan. Baker het in Yorkshire grootgeword en ná skool in ’n bank gaan werk. Sy het in die Leeds Filharmonie-koor gesing en in 1953 ’n oorplasing na ’n bank in Londen gekry. Sy het in Londen sanglesse geneem. Sy het ’n lid van die Ambrosian Singers geword het. In 1955 het sy ’n vertolking van Brahms en Elgar vir die BBC gelewer. Die volgende jaar het sy die tweede plek in die Kathleen Ferrier-sangkompetisie verower.
Een van die beoordelaars het oor dié kompetisie gesê: “Wat my betref, was daar maar een sanger, en dit is Janet Baker.” Sy het haar operadebuut in die Oxforduniversiteit se operaklub se weergawe van Bedřich Smetana se The Secret gemaak en onmiddellik aandag getrek. Aanvanklik is Baker met Ferrier vergelyk. Ferrier, die geliefde contralto, is in 1953 op 41 dood. Op die keper beskou, het die twee se stemme min ooreenkomste – Baker beskik oor ’n hoër register wat haar byvoorbeeld veel meer vir Mahler geskik maak. Uit die beskikbare opnames van Mahler se Rückert-Lieder is dit Baker se opname van 1969 met die New Philharmonic onder leiding van sir John Barbirolli wat uitstaan, onder meer omdat Baker, soos iemand opgemerk het, nie net die woorde uitspreek nie, maar dit inderdaad beliggaam. Dieselfde kan ’n mens sê van die Barbirolli-opname van Elgar se Sea Pictures en Berlioz se Les nuits d’été. En voeg by die lysie ook maar Elgar se The Dream of Gerontius met sir Adrian Boult voor die London Philharmonic-koor en -orkes. En Benjamin Britten se Phaedra.